Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakelui voel steeds geen Ramaforie ná staatsrede
Alan Mukoki, hoof van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN).

Pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede het in Junie kwalik die naald van sakevertroue laat roer. Dis slegte nuus vir sy hoop om beleggings aan te moedig.

Volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) het sakevertroue in Junie met net ’n fraksie tot 93,3 punte gestyg. Dis vergeleke met 93 in Mei en beteken sakevertroue is steeds laer as in April, vóór die algemene verkiesing.

Die indeks is ook laer as in Junie 2018, toe sakelui nog die nadraai van die golf van Ramaforie beleef het. Verlede Junie was die indeks 93,7 punte.

Die hoogste vlak die afgelope twee en ’n half jaar was die 99,7 punte in Januarie 2018 – gemeet net nadat Ramaphosa in Desember 2017 tot ANC-leier verkies is en dit ooglopend was dat oudpres. Jacob Zuma sou moes uittree.

Sakevertroue is volgens die SAKKN nou die laagste in ’n Juniemaand sedert 2012.

Dié laagtepunt eggo die kwartaallikse indeks van sakevertroue wat deur die RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek opgestel word. Dit was in die tweede kwartaal net 28 punte, baie na aan die vlakke tydens die 2009-resessie.

Die indeks meet 13 verskillende aanwysers van saketoestande, onder meer nuwevoertuigverkope, die reële waarde van bouplanne wat goedgekeur is, vervaardigingsproduksie, aandeelpryse, die waarde van die rand en uitvoervolumes.

In Junie het ses van die 13 subindekse verbeter, drie het verswak en vier was onveranderd vergeleke met Mei.

Hoogste, laagste
  • Die indeks is in 1985 bekend gestel. Die laagste vlak nóg is in April van daardie jaar op 88,1 punte gemeet en die hoogste vlak in Desember 2006 op 141,2 punte.
  • In 2018 was die indeks gemiddeld 95,5 punte, en die vyfjaargemiddelde is 97,5 punte. Dit beteken die indeks is tans 4,2 punte onder die vyfjaargemiddelde.

Die SAKKN wys daarop dat die indeks grootliks deur ekonomiese faktore weerspieël word. In Junie is bekend gemaak dat die ekonomie in die eerste kwartaal met 3,2% ingekrimp het en groeiverwagtinge vir 2019 is tot 0,8% en selfs laer afgeskaal.

Alan Mukoki, uitvoerende hoof van die SAKKN, sê sakevertroue is beslis nie op ideale vlakke nie. Sakelui sal slegs meer optimisties begin voel indien daar tekens is dat Ramaphosa se planne en beleid in werking gestel word.

“Die teenstelling van positiewe sentiment ná die nasionale verkiesing aan die een kant ... en die onlangse verslae van oor die ellendige finansiële druk in die meeste staatsondernemings en munisipaliteite, tesame met die ouditeur-generaal se onlangse negatiewe ouditbevindinge oor die meeste munisipaliteite aan die ander kant, laat ’n mens met die gevoel dat die twee posisies mekaar in dié stadium uitkanselleer. Dit is dus steeds te vroeg vir realistiese sakevertroue om te ontwikkel.

“Wat wel duidelik is, is dat alle Suid-Afrikaners besliste optrede aan die kant van die regering verwag om korrupsie, onbevoegdheid en die gebrek aan prestasie op te los, en sekerheid oor die dringende inwerkingstelling van beleid om ekonomiese groei en werkskepping aan te dryf.”

Die president se tweede beleggingsberaad, asook die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober kan volgens die SAKKN helderheid gee wat nodig is voordat ondernemings medium- tot langtermynbeleggingsplanne maak.

Meer oor:  Sakkn  |  Staatsrede  |  Ekonomie  |  Staatsrede 2019  |  Ekonomiese Groei  |  Sakevertroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.