
Die Tuinroetedam naby George. Kapitaalbesteding aan elektrisiteits-, gas- en watervoorsiening in Suid-Afrika het in vergelyking met die eerste kwartaal met 35% in die tweede kwartaal afgeneem. Foto: Eugene Gunning
Die sakesektor se kapitaalbesteding aan eiendom, aanlegte en toerusting - dié dinge wat die ekonomie kan aanhelp - het in vergelyking met die eerste kwartaal vanjaar in die tweede kwartaal skerp afgeneem.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste kwartaallikse finansiële statistieke oor agt van die ekonomie se grootste bedrywe wys die agt bedrywe het 15,9% minder aan kapitaaluitgawes bestee. Dit behels besteding aan eiendom, aanlegte en toerusting wat in die tweede kwartaal op R78,3 miljard – in vergelyking met R93,147 miljard in die eerste kwartaal – te staan gekom het.
Die skerpste daling in kapitaaluitgawes was in elektrisiteits-, gas- en watervoorsiening, wat met 35,2% afgeneem het, gevolg deur handel (-28,6%) en gemeenskaps-, welsyns- en persoonlike dienste (-15%).
Die omset in die agt bedrywe het van die eerste kwartaal tot die tweede kwartaal met 2,5% tot R2 304 miljard gegroei.
Die syfers wys elektrisiteit-, gas- en watervoorsiening het die skerpste toename in omset getoon teen 9,1%, gevolg deur konstruksie (7,2%), vervaardiging (3,4%), eiendom en ander sakedienste (2,7%), vervoer, berging en kommunikasie (2,5%), mynbou en steengroewe (1,6%), handel (1,1%), en gemeenskaps-, welsyn- en persoonlike dienste (0,3%).
Vergeleke met ’n jaar gelede was die grootste styging in omset by die handelsektor (15,9%), gevolg deur gemeenskaps-, welsyns- en persoonlike dienste (13,8%), vervoer, berging en kommunikasie (11,9%) en eiendom en ander sakedienste (8,3%).
Op ’n jaargrondslag het konstruksie met 4,6% en mynbou en steengroewe met 1,6% gedaal.
Die bedrywe wat gemeet word, sluit landbou, staatsinstellings, versekering en finansiële tussengangers uit.