Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesektor vroeër al oor beurtkrag gewaarsku
Prof. Anton Eberhard vroeër op ’n voorlegging in die parlement.Foto: DAILY SUN

Groot organisasies wat lid is van Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) is Maandag reeds gewaarsku dat nuwe beurtkrag ’n wesenlike risiko is.

Prof. Anton Eberhard, een van pres. Cyril Ramaphosa se adviseurs oor energiesake en ’n afgetrede professor in elektrisiteitsregulering aan die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool, het in ’n voorlegging Maandag aan Busa-geaffilieerde organisasies syfers gewys wat dui op ’n hoë risiko vir beurtkrag in die komende maand, en dat Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor nog oor die volgende ses jaar skrikwekkend laag sal bly as daar nie ingegryp word nie.

Eberhard het syfers van Eskom getoon wat wys daar is ’n risiko vir fase 1-beurtkrag in die tweede week van November en weer in die laaste week van November.

Oor die volgende vyf jaar gaan Eskom gemiddeld ’n tekort van tussen 4 000 MW en 5 000 MW se kragopwekkingsvermoë hê. Sy energiebeskikbaarheidsfaktor – uitgedruk as die persentasie van die tyd waarin ’n kragstasie in volle bedryf is – kan oor die volgende ses jaar boonop van die afgelope boekjaar se gemiddelde van 70% tot so laag as 66% daal. Dit is terwyl dit in 2010 nog op 85% was, maar daarna skerp tot 71% in 2016 geval het. Dit het kortstondig in 2017 en 2018 tot 77% verbeter.

Dit sou ’n groot verskil maak as Eskom sy energiebeskikbaarheidsfaktor kon verbeter, het Eberhard aan die gehoor gesê, maar dit is tans baie moeilik te midde van sy verouderende kragstasies.

Skuld

Oor die opsies vir Eskom se skuldherstrukturering gee Eberhard voorkeur aan ’n meganisme waar die tesourie ’n voertuig met ’n spesiale doel skep wat Eskom se skuld kan oorneem en dit herfinansier teen gunstige koerse.

As die staatskas bloot Eskom se skuld oorneem, sal dit Suid-Afrika se skuld-tot-BBP-verhouding met nege persentasiepunte verhoog en verlaag dit die druk om te ontbondel en die onderliggende bedrywighede te verbeter.

Die status quo om net reddingsboeie na Eskom te gooi is onbekostigbaar en nie ’n langtermynoplossing nie. Dit sal die staat sowat R50 miljard per jaar kos, waarsku Eberhard.

Nuwe krag nodig

Suid-Afrika sal so gou moontlik nuwe krag moet opwek, maar Eskom het nie die geld om dit te doen nie, het Eberhard luidens notas van sy aanbieding gesê, wat die landbousakeorganisasie Agbiz op sy webtuiste gelaai het.

Nuwe steenkool-, kernkrag- of selfs gaskragstasies kan nie binne drie jaar gebou word nie. Maar son- en windkrag wel. Daarom meen Eberhard ’n vyfde ronde van die regering se groenkragprogram moet so gou moontlik begin, want hy verwag pryse in die bodprogram sal onder 45c per kWh wees. Dit sal die persepsies uit die weg ruim dat onafhanklike kragprodusente se krag te duur is.

Die regering moet dit ook moontlik maak dat onafhanklike kragprodusente en groot kragverbruikers regstreeks kragkoopkontrakte kan sluit, pleks van om gedwing te word om via Eskom te werk.

Eberhard sê dis noodsaaklik, maar baie moeilik om Eskom reg te ruk, maar vergeleke daarmee is dit redelik maklik om die kragmark vir private beleggings in nuwe kragopwekkingsvermoë te open.

Leierskap

Volgens Eberhard moet die regering dringend ’n nuwe uitvoerende hoof vir Eskom aanstel, maar dit moet ’n persoon wees met bewese leierskapvermoëns.

Eskom kan nie gered word sonder sterk en beslissende leierskap nie.

Hy is skepties oor die voorstelle van Eskom self en die konsultantgroep Boston Consulting Group wat meen die herstrukturering van Eskom moet stadig oor ’n tydperk van vyf jaar gedoen en deur Eskom self gelei word. Ingevolge dié voorstel is die herstrukturering nie gekoppel aan die herskikking van Eskom se skuld nie.

Die presidensiële taakspan, waarvan Eberhard deel is, se voorstel is dat ’n transmissie-filiaal onmiddellik geskep word met sy eie direksie wat mense, stelsels, bates en skuld in die nuwe maatskappy kan oorneem en wat dadelik vordering kan wys.

Tot 106 kragmaatskappye soos Eskom is al wêreldwyd ontbondel. Eskom is bankrot, maar hy is te groot om te misluk, maar ook te groot om gedurig met reddingsboeie aan die lewe gehou te word, meen Eberhard.

Meer oor:  Anton Eberhard  |  Sake  |  Ekonomie  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.