Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesektor wou 10 dinge hoor – maar het hulle?

Die sakeliggaam Business Unity South Africa (Busa) het voor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede tien aanbevelings gedoen. Hulle neem nou bestek op van wat die president daaroor gesê het.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - JUNE 26:  Cyril Ramaphos
Cyril Ramaphosa. Foto: Michelly Rall/Getty Images vir TIME/FORTUNE/CNN

1. Strukturele hervormings

Busa wou dringende aankondigings oor verreikende ekonomiese strukturele hervormings hoor, alles gemik daarop om die ekonomie op ’n inklusiewe manier aan die brand te kry.

“Die president het sy staatsrede begin deur te sê dat dié staatsrede oor inklusiewe groei gaan. Dié erkenning oor hoe sentraal ekonomiese groei staan, is positief.

“Daar was egter geen spesifieke uitsprake oor die nodige hervormings nie.

“Ons het ook verwag hy sou na die wêreld- ekonomiese agtergrond verwys, wat baie moeilik is.”

2. Staatsbesteding

Busa wou hoor dat staatsbesteding getemper gaan word, gegewe die fiskale krisis waarin die land is.

“Die president het die fiskale krisis erken en aangedui dat Tito Mboweni, minister van finansies, inisiatiewe om staatsuitgawes te beperk in die begroting gaan aankondig. Gesprekke word met vakbonde gehou.

“Hy het ook daarna verwys dat onreëlmatige besteding verminder moet word. Ons sal kyk wat in die begroting aangekondig word.”

(Mboweni lewer sy begrotingsrede op 26 Februarie.)

3. Staatsondernemings

Busa het gemeen ’n duidelike standpunt is nodig oor ’n strategie om die krisis met staatsondernemings te pak. Dit moet insluit besluite oor watter staatsondernemings van strategiese belang is en wat die rol van die private sektor is.

“Die president het nie beslissend hieroor gepraat nie. Hy het gepraat oor die rasionalisering van staatsondernemings en om te verseker dat dit tot groei bydra. Hy het nie gepraat oor korporatiewe beheer, vermoë, die moontlike sluiting van nie-strategiese ondernemings en politieke inmenging nie.”

4. Eskom

Busa was van mening dat ’n duidelike standpunt oor Eskom nodig is. Dit moet insluit dat ’n bevoegde en onafhanklike direksie dringend vir Eskom aangestel word. Die direksie en uitvoerende hoof se taak moet wees om die korporatiewe beheer, bestuur, personeel en ander krisisse op bedryfsvlak by Eskom te hanteer.

“Die president het baie tyd aan Eskom en sy posisionering afgestaan. Hy was eerlik oor beurtkrag en het daarna verwys dat sy adviesgroep se aanbevelings in werking gestel gaan word. Daar was egter geen verwysing na die direksie en voorsitter nie.”

5. Kragopwekking deur die private sektor

Ramaphosa het, soos Busa gepleit het, aangekondig dat die minister van minerale bronne en energie dringend regulasies instel sodat die private sektor elektrisiteit op groter skaal kan opwek om ’n mate van verligting vir die nasionale kragnetwerk te bring.

“Ons sou wou hê hy moes duidelike tydskale daaraan koppel, maar ons verwelkom beweging hieroor.”

6. Doelwitte vir kabinetslede

Busa wou ’n aankondiging hê dat die president duidelike doelwitte vir kabinetslede gaan stel, met presiese teikens en ’n hersieningsproses om verantwoordbaarheid te verseker.

“Die president het aangedui hy sal prestasie-ooreenkomste met sy ministers onderhandel en dit oor die volgende maand openbaar maak. Ons verwelkom dit.”

Busa het weer daarop gewys dat die private sektor gewillig is om die staat se vermoë te help bou.

7. Geen gemengde boodskappe

Busa het gepleit vir ’n aankondiging dat die president sal seker maak dat die regering saamwerk en gemengde boodskappe nie uit verskillende dele van die regering kom nie. Ramaphosa het niks hieroor gesê nie.

8. Geen wetgewing wat vertroue wegvreet

Busa het gevra vir ’n standpunt dat die regering positiewe boodskappe van die hele regering sal verseker om beleggings te lok en groei te bevorder.

“Die president het nie hierna verwys nie. Dit ondermyn vertroue en ons verwag dat die president met ons hieroor sal praat in ons interaksie.”

9. Reg en orde

Volgens Busa was ’n duidelike boodskap nodig dat reg en orde in Suid-Afrika ernstig agteruitgegaan het, en dat dit nie langer geduld sal word nie.

“Die president het in heelwat besonderhede hieroor gepraat, maar baie daarvan was nie nuut nie. Ons sal op die uitkyk wees vir die vinnige inwerkingstelling van wat hy onderneem het, maar sal meer samehangende en dringende ingryping verwag om burgers en ondernemings veiliger te maak en te laat voel.”

10. Respek vir die regstelsel

Busa sê ondanks onlangse aanslagte op die regstelsel het die president nie gehoor gegee aan die versoek dat hy beklemtoon hoe krities dit is om die regstelsel te respekteer en dit nie te ondermyn nie.

Ten slotte

Busa sê hy is bly dat die president na verskeie van sy aanbevelings verwys het.

“Ons het egter ’n gevoel van dringendheid nodig om die strukturele uitdagings in die ekonomie op te los. Ons kan nie verbintenisse tot investering as werklike investering beskou nie – laasgenoemde sal slegs gebeur as die onderliggende toestande wat investering en groei ondermyn, dringend aangepak word.

“Ons is ook bekommerd oor aanduidings van besteding op ’n klomp gebiede wat ons net nie nou kan bekostig nie.”

Hier verwys Busa na die beoogde stigting van ’n staatsbank, en sê dié besluit terwyl baie staatsondernemings in die moeilikheid is, “is onverklaarbaar”.

“Ons moet ook bevraagteken wat ’n staatsbank kan doen wat die private banksektor nie kan doen nie, mits die regering ’n toepaslike bemagtigende rol vervul.

“Ons is ook bekommerd oor verwysings na ’n soewereine welvaartsfonds – dis in beginsel goed, maar ons kan nie daaroor praat totdat ons groei en die begrotingstekort opgelos het nie.”


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Sakesektor  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.