Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Baie bulte op SA se herstelpad

In die staatsrede het pres. Cyril Ramaphosa as een van sy prioriteitsgebiede beklemtoon dat Suid-Afrika se ekonomiese groei moet versnel.

ekonoom
Johannes Jordaan

Almal is daarvan bewus dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2020 ingekrimp het weens die Covid-19-pandemie, maar ook lank voor die pandemie gesukkel het om te groei.

Die vraag waaroor maatskappye nou wonder, is: Hoe lyk die vooruitsig vir ekonomiese groei vir die volgende paar jaar?

Hoewel die pandemie nog nie verby is nie, sal die wêreldwye en plaaslike ekonomiese groei vir 2021 na verwagting baie beter wees in vergelyking met dié van 2020, juis omdat dit van ’n baie laer basis is.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het in Januarie sy wêreld- ekonomiese vooruitsig uitgereik, waarin hy raam dat die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) in 2021 met 5,5% sal toeneem ná ’n inkrimping van 3,5% in 2020.

Amerika sal na verwagting met 5,1% groei, China met 8,1%, die Europese Unie met 4,2%, Brittanje met 4,5% en Indië met 11,5%.

In terme van groeikoerse is Suid-Afrika egter onderaan die lys met ’n verwagte groei van 2,8% in 2021 ná ’n voorspelde inkrimping van 7,5% in 2020.

Die vraag wat opkom, is waarom is die IMF se verwagte groei in Suid-Afrika in 2021 soveel laer vergeleke met die meeste ander lande? Dis ook kommerwekkend dat die voorspelde BBP-groei vir 2022 tot 2025 ook baie laag is. Die IMF voorspel nou dat die groei in 2022 net 1,4% sal wees, en vir die periode van 2023 tot 2025 gemiddeld 2% per jaar.

Nog meer kommerwekkend is dat as ’n mens die groeiende bevolking in ag neem – wat na verwagting in 2025 sal styg tot 64,4 miljoen, vanaf 60,6 miljoen in 2020 – word die gemiddelde burger net armer en armer.

Die gemiddelde Suid-Afrikaner sal na verwagting in 2025 steeds 6,6% swakker wees in BBP per capita vergeleke met 2019, volgens die IMF se verwagtings.

Die potensiaal is daar, maar as die regering homself nie vinnig regruk nie, gaan die ekonomie ongelukkig nog jare daaronder ly.

Die BBP per capita vir 2019 was ongeveer dieselfde as in 2007 en die verwagte BBP per capita in 2025 is net effens groter as dié van 2005.

Dit kan vergelyk word met die BBP per capita in China, wat na verwagting in 2025 byna 36% groter sal wees as in 2019; Indië se ekonomie gaan 28% groter wees.

Teoreties word verwag dat opkomende markte soos Suid-Afrika hoër ekonomiese groeikoerse sal hê vergeleke met ontwikkelde lande.

Maar as ons Suid-Afrika se ekonomiese groei gedurende die afgelope dekade met die res van die G20-lande as voorbeeld vergelyk, was Suid-Afrika se groei die laagste.

Die G20 sluit al die groot ontwikkelde lande in, sowel as lande soos Argentinië, Brasilië, Mexiko en Turkye.

Suid-Afrika se BBP per capita het van 2009 tot 2019 met slegs 1,5% gestyg, vergeleke met Indië, waar dit met 42,7% gegroei het, Turkye met 35%, Rusland met 15,6% en Amerika met 14,9%.

Onderaan die lys is net Argentinië effens beter as Suid-Afrika, met 1,6% oor die tydperk, en Brasilië, wat met 4,7% gegroei het.

Die rede vir die stadige verwagte herstel ná die Covid-19-pandemie is deels te wyte aan vertragings met die verkryging van Covid-19-entstowwe, maar hoofsaaklik weens die krisis waarmee die ekonomie voor die pandemie te kampe gehad het.

Krisisse oor pandemie

Die krisis gaan voortduur, tensy strukturele hervormings vinnig deurgevoer word om die belemmerings vir ekonomiese groei uit die weg te ruim. Dié krisis is die gevolg van faktore soos die tekort aan elektrisiteit, korrupsie, ’n gebrek aan vaardigheidsontwikkeling, verswakte staatsondernemings, swak onderwysvlakke, hoë staatskuld, munisipaliteite wat verswak, emigrasie van geskoolde en hoogs geskoolde arbeid, swak regeringsbeleid, ’n gebrek aan beleidsimplementering en politieke en beleidsonsekerheid.

Suid-Afrikaners het nie veel om op trots te wees as dit by die bestuur van die ekonomie kom nie.

Al dié faktore skep onsekerheid by beleggers, ondernemings en verbruikers.

Baie hoër ekonomiese groei is nodig om werkskepping te verhoog, ongelykheid te verminder en beter vooruitsigte vir alle Suid-Afrikaners te skep.

Die IMF se lae groeivoorspellings is tans nog net voorspellings en die ekonomie het die potensiaal om baie vinniger te groei as die ekonomie die hooffokus word. Ramaphosa het enkele ingrypings in sy staatsrede beklemtoon, maar die regering het nie ’n goeie prestasiegeskiedenis van verbetering en inwerkingstelling nie.

Die rol van die regering moenie wees om ’n meer gelyke samelewing te skep deur almal armer te maak nie, maar om ’n meer gelyke samelewing te skep deur ’n omgewing te skep waarin almal ryker kan word – en nie net ’n uitgesoekte paar nie.

In vergelyking met ander lande het die regering die afgelope dekade klaaglik in sy taak misluk. Die regering was die laaste dekade (en meer) te besig met sy eie sosialistiese agendas, binnegevegte in die ANC, korrupsie en swak beleidskeuses en inwerkingstelling – aspekte wat nie ’n omgewing skep wat vertroue in die ekonomie verbeter nie.

Miskien is dit tyd vir ’n nuwe ekonomiese bespreking ná Covid-19 om die regering, die sakewêreld, georganiseerde arbeid en verteenwoordiging van die burgerlike samelewing bymekaar te kry om ’n nuwe weg te bespreek wat fokus om veel hoër ekonomiese groei te bewerkstellig.

Volgens my sal dit ’n lang lys van aksies moet insluit, insluitend onder meer ’n herbesinning oor arbeidsbeleid om werkskepping, produktiwiteit en vaardigheidsontwikkeling te bevorder, ’n meer professionele en bekwame staat en staatsmaatskappye, beleidskeuses en aksies deur die regering wat vertroue in die ekonomie skep, minder inmenging in die private sektor en die verbetering van internasionale mededingendheid.

So ’n lys sal ook insluit verbeterde veiligheid en sekuriteit en die beskerming van eiendomsreg.

Die potensiaal is daar, maar as die regering homself nie vinnig regruk nie, gaan die ekonomie ongelukkig nog jare daaronder ly.

  • Johannes Jordaan van Economic Modelling is 2019 se Ekonoom van die Jaar in Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se kompetisie. 2020 se Ekonoom van die Jaar word in September aangewys.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.