Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Bankrotskap bedreig SA steeds

Tito Mboweni het pas sy vuurdoop gehad as minister van finansies. Die inhoud en besonderhede van die jongste mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) was maar skraps en waarnemers het waarskynlik meer verwag.

Christo Luüs

Sekere opmerkings en uitsprake van Mboweni op die mediakonferensie ná die begrotingsrede het egter weer hoop gegee dat die regering beleidsake in ’n beter rigting wil stuur.

Ons kort steeds daadwerklike planne en optrede om byvoorbeeld te privatiseer; besonderhede van die voorgestelde onteiening van grond sonder vergoeding; ’n ommekeer in die dreigende ramp van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering; minder ministeries en staatsdepartemente; en die besnoeiing van lopende staatsuitgawes – veral aan salarisse.

Skuldvlakke

Een van die groot redes vir die markte se teleurstelling in die MTBR was waarskynlik die aansienlike verhoging van bykans 4 persentasiepunte in die staatskuld-tot-BBP-verhouding.

In die Februarie-begroting is verwag dat hierdie syfer (wat tans op net minder as 53% staan) ’n hoogtepunt van 55,7% teen 2024-’25 sou bereik. In die MTBR is hierdie vooruitskatting nou verhoog tot 59,6%. Daarna daal die geprojekteerde staatskuldverhouding ietwat tot 58,9% teen 2026-’27.

Daar is steeds te veel korrupte, selfverrykende opstokers in die kabinet en ander plekke van mag wat nog ’n stok in die wiel kan druk.

Ekonomiese groei oor hierdie tydperk word geraam op sowat 2,2% per jaar. Indien ons egter geen groei in die ekonomie het nie, kan die skuldverhouding – as alle ander dinge dieselfde bly – tot bykans 72% styg teen 2026-’27.

Wat die uitkoms van spesifieke doelwitte ten opsigte van staatsfinansies aanbetref, sal slegs die tyd leer in watter mate Mboweni en die nasionale tesourie se projeksies en planne gaan realiseer.

Wêreldekonomie

Intussen sal min van die uitkomste haalbaar wees as ekonomiese groei nie gou verbeter nie.

Ongelukkig gee die rigting wat die wêreldekonomie kan inslaan, nie tans baie hoop nie. Inteendeel – al hoe meer waarnemers sien internasionale resessiewolke wat begin saampak, met ’n Italiaanse skuldwanbetaling of Trump-twiet wat dalk net die vonk in die kruitvat kan wees.

Lae of negatiewe ekonomiese groei soos ons tans ervaar, is die vinnigste en sekerste manier om feitlik enige ander groeikoers, verhouding of ekonomiese dinamiek negatief te stem.

Wat die uitkoms van spesifieke doelwitte ten opsigte van staatsfinansies aanbetref, sal slegs die tyd leer in watter mate Mboweni en die nasionale tesourie se projeksies en planne gaan realiseer.

Ekonomiese bankrotskap – wat oudpres. Jacob Zuma en sy trawante so byna reggekry het met hul grootskaalse plundering van staatsbeheerde instellings – sal steeds kan gebeur indien ekonomiese groei nie redelik gou verbeter nie.

As daar van ekonomiese bankrotskap gepraat word, impliseer dit hoofsaaklik ’n staat se onvermoë om sy skuld terug te betaal of om nuwe lenings aan te gaan.

Of ’n mens nou daarvan hou of nie – die owerheidsektor in Suid-Afrika se rol is van kardinale belang in die generering van inkomste en die toedeling van hulpbronne en besteding.

Boonop het die staat natuurlik ook die mag om wette te maak en belastings te hef. (Hy kan selfs koekmeelpryse oornag met 15% verminder.) Die staat is en bly ’n belangrike ekonomiese rolspeler en sy finansiële beleidsrigtings en optrede beïnvloed ons almal.

Die trae ekonomiese groeikoers het heelwat oorsake. Die afgelope vyf jaar was ons ekonomiese groeikoers maar slegs sowat 1,1%. Die huidige negatiewe groeikoers word tans voor die deur gelê van sukkelende opkomende markte en pres. Donald Trump van Amerika se pogings om handelsooreenkomste in Amerika se guns te swaai.

Die feit is, die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan al lank gebuk onder die plunderlas van die regerende party; swak werkdissipline en lae arbeidsproduktiwiteit; burokratiese rompslomp; groeiende belastinglas; en vyandigheid jeens die private sektor en private inisiatief.

Markvriendelik

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa, Mboweni en ander in die huidige regering ’n sprankie hoop bring vir die hervatting van fiskale dissipline en markvriendelike beleidsrigtings, is daar steeds te veel korrupte, selfverrykende opstokers in die kabinet en ander plekke van mag wat nog ’n stok in die wiel kan druk.

Lae of negatiewe ekonomiese groei soos ons tans ervaar, is die vinnigste en sekerste manier om feitlik enige ander groeikoers, verhouding of ekonomiese dinamiek negatief te stem.

Baie politici – waaronder Zuma en Julius Malema, leier van die EFF, en hul meelopers – het waarskynlik min begrip van die rol wat beleggersvertroue in produksie en in- en uitvloei van goedere, dienste en kapitaal speel.

Beleggers moet voldoende vertroue in die opbrengs-potensiaal van hul beleggings hê, tesame met sekerheid dat die beleggings nie sal sneuwel weens politieke inmenging, herverdeling of vervreemding nie.

Maar hierdie is waarskynlik alles vreemde konsepte vir die revolusie-gedrewe Fasciste in ons midde. En dis waarskynlik te danke aan hierdie linkses, vir wie dit slegs om mag en eiebelang gaan, dat ekonomiese hernuwing ten gunste van groei teen so ’n slakkepas geskied.

Ons kan maar net hoop dat die “winde van verandering” wat nou deur die regering waai vir ons reën sal bring en uitkoms ná die droogte.

  • Christo Luüs is ’n ekonoom van Ecoquant en voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Mtbr2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.