Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Deflasie groter probleem as inflasie

Hoë inflasie is nie ’n wesenlike probleem in die Suid-Afrikaanse ekonomie nie. ’n Gebrek aan voldoende vraag om werkskepping te verseker, is wel.

Roelof Botha
Roelof Botha

Teoreties kan deflasie as ’n algemene daling in die pryse van bates en verbruikersgoedere gedefinieer word – ’n verskynsel wat sedert die 2008-’09-resessie in verskeie lande waargeneem is en steeds voorkom.

In Suid-Afrika se geval het inflasie volgens die verbruikersprysindeks (VPI) nie tot negatiewe jaar-tot-jaar-koerse teruggesak nie, maar die gemiddelde VPI vir 2018 is 35% laer as in 2009 en 28% laer as in 2016. Die VPI is ook al 20 maande lank gemaklik binne die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%.

Ongelukkig is daar soms ’n leemte in ekonomiese intelligensie oor pryse, aangesien batepryse nie in die reël deur monetêrebeleidsmakers in ontwikkelende lande in ag geneem word nie.

Ter plaatse is daar ondubbelsinnige tekens van deflasie. In die eerste plek het die reële waarde van die indeks van alle aandele van die JSE tussen die einde van 2017 en einde verlede jaar met meer as 15% gedaal.

Die prentjie is effens beter oor langer termyn, maar die reële waarde van dié indeks was aan die einde van verlede jaar steeds meer as 3% laer as aan die einde van 2007.

Huispryse, wat die vernaamste bate van talle huishoudings verteenwoordig, het ook die afgelope 12 jaar swak gevaar. Volgens die jongste huisprysoorsig van FNB het die gemiddelde reële huisprys in Suid-Afrika sedert 2007 met meer as 20% teruggesak.

Produkpryse het ook nog nie naastenby van die daalfase herstel wat ná die kortstondige lopie tussen 2009 en 2011 posgevat het nie. Die pryse van belangrike uitvoerprodukte soos steenkool, platinum, goud, mielies en ystererts was verlede jaar tussen 16% en 58% laer as in 2011.

roelof botha

Die simptome van deflasie is al geruime tyd in Suid-Afrika merkbaar, al is die VPI nie in negatiewe groeiterrein nie. Die belangrikstes hiervan is lae ekonomiese groei, hoër werkloosheid, swak verbruikersvraag en lae vlakke van vaste investering.

Veral die gebrek aan voldoende nuwe kapitaalvorming is kommerwekkend, aangesien só ’n verskynsel ’n demper op ’n land se toekomstige ekonomiese groei plaas. Reële kapitaalvorming was in die derde kwartaal van 2018 11% laer as in die eerste kwartaal van 2015 (ná seisoensaanpassing).

Gelukkig het die onlangse skerp daling in die prys van brandstof en die indrukwekkende verstewiging van die rand die kaarte van die monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Reserwebank deurmekaar gekrap en behoort daar nie in Januarie enige styging in die repokoers te wees nie. Trouens, ’n wesenlike daling van die repokoers is lankal reeds broodnodig.

Die MBK het skynbaar geen benul van die bewese vermoë van die rand om elke keer ná ’n effense verswakking te herstel nie.

Die MBK het skynbaar geen benul van die bewese vermoë van die rand om elke keer ná ’n effense verswakking te herstel nie.

Wie ook al vir die MBK van raad oor die ekonomie bedien, is geneig om keer op keer ’n oormatige pessimistiese siening in te neem. Die jongste bewys hiervan is die ooglopende teenstrydigheid tussen die president van die Reserwebank se monetêrebeleidstandpunt van Desember en die huidige afwaartse druk op inflasie.

Laasgenoemde is onder meer in die hand gewerk deur die versterking van die rand-dollar-wisselkoers met meer as 10% sedert September.

’n Mens kan maar net vertrou dat ’n klein bietjie gesonde verstand binnekort na die land se monetêrebeleidsbesluite sal terugkeer.

’n Reële primakoers van sowat 3%, wat tydens Gill Marcus se termyn as hoof van die Reserwebank geheers het, sal vraag behoorlik stimuleer, die pryse van verskeie klasse van bates verhoog en die belastingbasis verbreed.

Dit sal ook ’n reusebydrae lewer tot die pogings om Moody’s se beleggingsgraadstatus vir die land se staatskuld te behou.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Optimum  |  Roelof Botha  |  Ekonoom Van Die Jaar  |  Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.