Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Die JSE vat vlam vroeg in 2021

Te midde van al die droewigheid oor die skrikwekkende tweede vlaag van koronavirusinfeksies het die JSE en die rand die nuwe jaar behoorlik stormgeloop.

Die opwaartse neiging in produkpryse vir edel- en ander metale en minerale het nie ná die strengste koronavirusinperking in April 2020 begin nie, maar was reeds in 2019 merkbaar. Foto: Lisi Niesner, Bloomberg

Die JSE se indeks van alle aandele het in Januarie ’n geskiedkundige hoogtepunt bereik en talle beleggers het reeds aan die einde van Desember heelwat rede gehad om weer breed te glimlag.

Veral portefeuljes wat betyds in hulpbronaandele belê het, het die afgelope paar maande uitstekend vertoon, terwyl verskeie maatskappye in die eiendomsektor ook sedert begin November met praglopies vorendag gekom het.

Die goeie nuus vir beleggers op die JSE eindig nie by dié twee uitblinkers nie aangesien elke kernindeks van aandelegroeperings sedert November teen dubbelsyferkoerse gestyg het.

Markontleders is onkant betrap deur die voortgesette sterk herstel van veral die indeks van hulpbronne. Wanneer die Wêreldbank se produkprysindekse vir ontwikkelende lande egter van nader beskou word, is die vertoning van dié sektor glad nie verbasend nie.

Edelmetale

Die opwaartse neiging in produkpryse vir edel- en ander metale en minerale het nie ná die strengste koronavirusinperking in April 2020 begin nie, maar was reeds in 2019 merkbaar.

Hoewel gemiddelde produkpryse vir bykans alle sektore in 2018 en 2019 ’n knou gekry het, was dit van korte duur. ’n Nuwe opswaaifase van produkpryse is slegs tydelik deur die pandemie gekortwiek en begin nou behoorlik stoom opbou.

jse

Vir Suid-Afrika is dit goeie nuus wat veral in die mynwese neerslag vind. Die waarde van mineraalverkope het in Oktober 2020 vir die derde opeenvolgende maand ’n nuwe rekord bereik. Van Augustus tot Oktober het dié syfer meer as R185 miljard beloop; 26% meer as in die ooreenstemmende tydperk in 2019.

Daar is geen twyfel dat die ekonomiese sektore wat benadeel is deur die inperkings van 2020, vanjaar bykans volkome gaan herstel nie. Dit sluit toerisme in.

Intussen het ’n rits bedrywe voordeel getrek uit die tuisblyery wat nie oornag gaan verdwyn nie. Uber dien as voorbeeld – die inkomste uit ritte het afgeneem, maar die inkomste uit die aflewering van wegneemetes het sterk toegeneem.

Ter plaatse dien Desember se verkope van nuwe voertuie as nog ’n voorbeeld. Die verkope van motors het op ’n jaargrondslag gedaal, maar dié van ligte handelsvoertuie het toegeneem.

Eiendomsektor

Die herstel in aandeelpryse in die eiendomsektor van die JSE is bemoedigend, aangesien dit moontlik as ’n aanduiding dien dat ’n breër herstel van die eiendomsmark in Suid-Afrika op hande is. Dié sektor word steeds weens die onsekerheid oor grondhervorming geknou.

Dr. Roelof Botha Foto: Marita Herselman

Ander aandelemarkte is ook besig om nuwe hoogtepunte te bereik, insluitende die Amerikaanse S&P 500-indeks. Die nuus oor ’n deurbraak in die ontwikkeling van ? entstof teen die koronavirus was die teken waarop beleggers gewag het om na meer riskante bates te kyk.

Noudat verskeie sulke entstowwe reeds in verskeie lande op groot skaal toegedien word en die Chinese ekonomie weer op dreef is, kan aandelemarkte bes moontlik aanhou om nuwe hoogtes te bereik.

Alternatiewe beleggings in die vorm van Amerikaanse en Europese staatseffekte en die geldmark bied steeds geskiedkundig lae opbrengskoerse en die soeke na hoër opbrengste, veral in ontluikende ekonomieë, behoort nog lank voort te duur.

Nóg ’n rede vir die blink vertoning van die JSE is geleë in die herstel van die bruto bedryfsurplus in die derde kwartaal, naamlik ’n toename van R112 miljard. Die verhouding van die bruto bedryfsurplus tot die bruto binnelandse produk (BBP) het ook mooi herstel, naamlik van 43,7% in die tweede kwartaal tot 47,6% in die derde kwartaal.

Dit voorspel goeie nuus vir die kanse van ’n terugkeer na gereelde tussentydse en slotdividende vir die meeste genoteerde maatskappye op die JSE.

Teen dié agtergrond en met ’n wisselkoers wat sedert 24 April 2020 met 25% teenoor die Amerikaanse dollar verstewig het, bied die JSE vanjaar goeie beleggingsgeleenthede.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep en ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.