Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonomie begin 2de kwartaal op hoë noot

Doemprofete wat vroeg reeds ’n “tegniese resessie” in die tweede kwartaal voorsien het, is uit die veld geslaan deur die rits buitengewoon positiewe ekonomiese data vir April.

Roelof Botha
Roelof Botha. Foto: Verskaf

Die verkoopswaarde van vervaardiging was voor in die koor met ’n dubbelsyfer-groeikoers (jaar tot jaar, teen heersende pryse). Veral die vervaardigingsektore vir voedsel, yster en staal en voertuie het goed gepresteer.

Hierna was dit mynbou se beurt, met die verkoopswaarde van mineraalprodukte wat vir die sesde opeenvolgende maand met ’n dubbelsyfer-groeikoers vorendag gekom het. Stewige pryse vir goud en ystererts was hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik.

Kort op die hakke van die skittervertoning van mynbouverkope het die groothandelsektor vir die derde dubbelsyfer-groeikoers in April gesorg. Die toename in die waarde van groothandelverkope het in April meer as 13% beloop (jaar tot jaar, teen heersende pryse).

Pres. Cyril Ramaphosa se woorde in sy tweede staatsrede vanjaar was skaars koud toe word toerismesyfers deur Statistieke Suid-Afrika gepubliseer wat vir die vierde dubbelsyfer-groeikoers gesorg het.

Daarvolgens het die aankomste van toeriste van oorsee in April met 12% toegeneem vergeleke met ’n jaar tevore.

Dié groeikoers is die hoogste in ’n baie lang tyd en volg op ’n teleurstellende vertoning sedert 2013, toe die departement van binnelandse sake besluit het om dit vir toeriste uit die buiteland duur en moeilik te maak om visums te bekom.

Die betrokke minister van binnelandse sake wat aan die spits van die sinnelose nuwe visum-regulasies gestaan het, is gelukkig nie meer op die politieke toneel nie nadat hy onder eed vir die parlement gelieg het en gedwing is om te bedank.

Die skade wat die oormatige regulering van oorsese besoekers aan die Suid-Afrikaanse toerismebedryf berokken het, beloop etlike miljarde rande en Ramaphosa het al by verskeie geleenthede beloof om sommige van dié regulasies te hersien met die oog op die aansporing van die toerismebedryf.

Die daad sal hopelik binnekort by die woord gevoeg word.

toerisme

’n Kenmerk van die Suid-Afrikaanse toerismebedryf is die reuse-aandeel van besoekers uit lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Laasgenoemde maak pal sowat 98% van die totale getal toeriste uit Afrika uit en sowat driekwart van die groottotaal, maar hul verblyf is gewoonlik van korte duur, aangesien verrweweg die meeste van hierdie “toeriste” dagbesoekers is wat slegs inkopies in Suid-Afrika kom doen.

Die verhouding van oorsese toeriste tot SAOG-toeriste het ten tyde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 tot ’n hoogtepunt van byna 41% gestyg, maar het daarna afgeplat tot 31% in 2015 en slegs 24% in April vanjaar.

Dié daling is uiteraard ’n bron van kommer, aangesien oorsese toeriste aansienlik meer geld bestee op ’n besoek.

Vanuit ’n langtermyn-perspektief is toerisme strategies belangrik vir die behaling van volhoubare groei en die praktyk van politieke aanstellings by buitelandse missies moet vinnig kortgeknip word.

Engeland het in April vir die meeste oorsese besoekers gesorg, gevolg deur die VSA, Duitsland, Frankryk, Nederland, Australië en Indië. Interessant genoeg kon China nie die topsewe haal nie en is die toeriste-aankomste van dié diktatuur uiters wisselvallig.

Toerisme is ’n belangrike sektor in die ekonomie, veral ten opsigte van buitelandsevalutaverdienste en grootskaalse indiensneming in hotelle, gastehuise en die kleinhandel.

Hopelik sal Ramaphosa en sy kabinet met die nuwe beleidsbenadering en -prioriteite bedag wees op die noodsaak daarvan om personeel by Suid-Afrika se buitelandse ambassades aan te stel wat die kundigheid het om behoorlike bemarking vir die land se toerismebedryf te doen.

Vanuit ’n langtermyn-perspektief is toerisme strategies belangrik vir die behaling van volhoubare groei en die praktyk van politieke aanstellings by buitelandse missies moet vinnig kortgeknip word.

Intussen wil dit voorkom asof die ekonomie vriend en vyand met ’n stewige groeikoers in die tweede kwartaal gaan verras.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.