Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Hoe kom ons uit die doodspiraal?

Die staat van inperking waarin Suid-Afrika is om mense te probeer beskerm en te keer dat die gesondheidstelsel in duie stort, gaan die ekonomie in ’n doodspiraal plaas as daar nie op groot skaal ekonomiese beleidsveranderings gemaak word nie.

qlfs1904, werkloos, ongelykheid, armoede
’n Werklose jong man sit moedeloos op die strate van Kaapstad. Foto: William Horne

Die debat is nie of lewens belangrik is nie – dit is. Die debat gaan oor wat gedoen moet word om te herstel van die baie groot nadelige ekonomiese gevolge van ’n 21 dae lange – of selfs langer – inperking.

Die moderne markekonomie is gegrond op die sterk inter­afhanklikheid van ondernemings en mense. Geld is die olie van die ingewikkelde ekonomiese masjien. Indien die geldvloei opdroog, soos tans, is daar groot probleme.

Die meeste ondernemings worstel nou om ’n ernstige kontantvloeikrisis te oorleef. En dié stryd is nie tot klein of middelslag-ondernemings beperk nie.

Edcon/Edgars, Woolworths en Foschini – kleinhandelaars met duisende winkels en duisende werknemers – het reeds gesê hulle ervaar hewige kontantvloeiprobleme. Dit kan baie vinnig omskakel in insolvensie met permanente werkverliese en die staking van ekonomiese bedrywighede.

Dit het ook ’n impak op die fabrieke wat goedere aan hulle verskaf, op diegene wat die grondstowwe aan die fabrieke verskaf en húl arbeidsmag wat almal geen inkomste kry nie.

’n Maand se verkope is permanent verlore en lei tot geldelike verliese. Dit geld die grootste deel van die ekonomie – én syfer deur tot by die straatsmous en die kleinste onderneming.

Hoe lyk die toekoms?

sakesiening

Die ekonomiese groeikoers het vinnig herstel ná die 2008-’09- finansiële krisis, maar daarna het dit verlangsaam, soos die bygaande grafiek baie goed illustreer.

Die probleme is welbekend, soos al duidelik uitgestippel is deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en baie onlangs deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service, toe hy die land se kredietgradering tot rommelstatus verlaag het.

Met die Covid-19-pandemie as die laaste strooi wat die kameel se rug breek, is die aanvanklike ramings dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met 3% tot 5% kan inkrimp.

Die grafiek toon hoe erg ’n 3%-inkrimping is.

Dit verg nie veel insig om te besef dat werkloosheid skerp gaan toeneem nie.

Aanvanklike ramings is dat die huidige werkloosheidskoers van 29,8% vanjaar met 1 miljoen tot 3 miljoen mense kan toeneem.

Hierby toon ramings dat daar reeds tussen 30% en 40% van die land se inwoners is wat nie voldoende voedselsekerheid het nie weens armoede en werkloosheid.

Hou in gedagte daar is reeds sowat 18 miljoen mense wat maatskaplike toelaes van die regering kry ten bedrae van digby R300 miljard per jaar.

sakesiening

Die tweede grafiek illustreer die verloop van werkloosheid die laaste paar jaar. As dit vanjaar met ’n verwagte 1,5 persentasiepunt toeneem, sal dit op 31,3% te staan kom. Dit gaan egter heel waarskynlik hoër wees.

Die ondoeltreffendheid van huidige regeringsbeleid word verder geïllustreer deur die feit dat staatskuld skerp gegroei het as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP), terwyl ekonomiese groei gedaal en werkloosheid toegeneem het.

Dit verg nie veel insig om te sien dat staatskuld in 2020-’21 verder gaan styg nie. Belastinginvorderings gaan skerp daal weens die diep ekonomiese insinking en die staat moet noodgedwonge ’n groot klomp geld bestee aan die bekamping van die Covid-19-virus, waarvoor daar nie geld in die staatskas is nie. Daar is wel fluisteringe dat by die IMF aangeklop sal word vir ’n lening.

Ramings dui daarop dat staatskuld vanjaar nie by die begrote 65% van die BBP gaan vassteek nie, maar eerder na 70% gaan neig.

Moody’s het gewaarsku dat dit, gegewe die huidige gebrek aan markgerigte beleidshervormings, binne die volgende paar jaar tot 100% van die BBP kan styg.

Wat moet gedoen word?

In die lugvaart praat hulle van ’n doodspiraal as ’n vliegtuig in ’n tolbeweging grond toe val. Dit verg ’n vasbeslote en ervare vlieënier om uit die doodspiraal te kan breek.

sakesiening

Ten opsigte van ’n vernuwing in ekonomiese beleid is dit presies waar Suid-Afrika is. Maar die vraag is: Het die regerende party die ervaring en wilskrag om die regte ingryping te doen om uit die doodspiraal te kom?

Dit is geen geheim wat gedoen moet word nie – die IMF en Moody’s verwys in hul onlangse verslae weer daarna. Die tesourie het in 2019 dapperheid getoon en so ’n gespreksdokument aangebied – wat ook êrens in die gange tussen die regering se sosialiste/kommuniste verdwaal het.

Die sosialistiese staatsbeheerde beheptheid van die regerende party het nie daarin geslaag om eenvoudige ekonomiese doelwitte van groei en werkskepping te bereik nie. Daar is nie meer geld vir die sosialistiese benadering nie en die tyd het ons ingehaal.

Kortom: Markkragte en ondernemerskap moet aangemoedig word. Die risiko is dat terwyl ons ekonomiese vryheid tans erg beperk word, politici aan die mag sal wil vasklou. Ons gaan moontlik stilweg onder die dekmantel van ’n virus, die eindresultaat van die doodspiraal van ekonomiese welvaart, demokrasie en vryheid sien.

Welvaart is op groot skaal vernietig. Dit verg nie veel insig om te besef dat hier ’n drastiese beleidsommeswaai moet plaasvind nie, weg van sosialisme en staatsbeheer.

  • Prof. Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Johan Willemse  |  Kornavirus  |  Covid-19  |  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.