Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Inflasie-spook begin weer loop

Internasionaal is daar tans ’n groot debat onder ekonome en beleggers oor die vraag of die huidige stimuleringspakkette van veral ontwikkelde lande, tesame met lae rentekoerse, in die komende jare ’n skerp styging in inflasie tot gevolg sal hê.

Kospryse kan moontlik meer styg as wat algemeen verwag word, gegewe die sterk styging in internasionale kospryse. Foto: iStock

’n Voortdurende styging in inflasie kan tot gevolg hê dat rentekoerse vroeër styg as wat tans voorspel word.

Onlangse inflasiesyfers van oor die wêreld heen was aansienlik hoër as wat verwag is.

In April was verbruikersprysinflasie in Amerika byvoorbeeld 4,2% – die hoogste jaarstyging sedert 2008 – en dis baie hoër as dié land se inflasieteiken van 2%.

Dit het die finansiële markte internasionaal geknou, aangesien beleggers vrees dat hoër inflasie daartoe kan lei dat rentekoerse vroeër verhoog word as wat verwag word.

Die feit is dat inflasie in 2021 aansienlik hoër sal wees as in 2020 weens basiseffekte, ’n swakker dollar, stygende kommoditeitspryse en bottelnekke met verskaffing weens die Covid 19-pandemie.

My verwagting is dat die huidige toename in inflasie net siklies is en dat langtermyninflasie oor die volgende paar jaar binne die teiken van sentrale banke sal bly.

Dit sal impliseer dat die wêreldwye inflasie in 2022 weer laer sal wees.

Gevolglik sal rentekoerse in lande soos Amerika, Brittanje, die eurogebied en Japan geruime tyd op die huidige lae vlakke kan bly – moontlik ’n paar jaar.

Binne teikens

Ook in Suid-Afrika is die voorspelling dat die gemiddelde inflasie binne die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% sal bly, wat ’n interessante probleem vir die Reserwebank sal skep oor wanneer rentekoerse weer ná die rentekoersverlaging van 300 basispunte in 2020 moet begin styg.

Inflasie meet die verandering in pryse oor tyd en word deur statistiese agentskappe geskat. Die algehele indeks word bereken met behulp van ’n geweegde mandjie van prysveranderings van ’n groot aantal verbruikersprodukte, wat dinge soos voedsel, behuising, brandstof, duursame goedere (soos motors), nie-duursame goedere en onderwys insluit.

Verbruikersinflasie in Suid-Afrika het die afgelope paar jaar geleidelik afgeneem en binne die Reserwebank se teikenband gebly. Die oorhoofse inflasie wat die Reserwebank vir sy mikpunt gebruik, het in 2020 met slegs 3,3% gestyg en in 2019 met 4,1%, dus onder die middelpunt van die inflasieband.

Die gemiddeld vir die totale indeks die afgelope vyf jaar is 5,2%.

Suid-Afrika se verbruikersinflasie toon sedert 2008 ’n paar interessante neigings. Dit het gedurende die 12 jaar met 83% toegeneem (’n gemiddelde jaarlikse styging van 6,9%), maar nie alle pryse het gestyg nie.

Nie werklike dalings

Die prys van telekommunikasietoerusting het met 83,4% gedaal (’n gemiddelde daling van 7% per jaar), terwyl die prys van gebruikte voertuie met 54,8% gedaal het (’n gemiddelde jaarlikse daling van 4,6%).

Verbruikers sal redeneer dat die pryse van byvoorbeeld selfone of gebruikte motors nie gedaal het nie, maar die dalings kan verklaar word deur die metodiek wat deur statistiese agentskappe gebruik word. Die prys van soortgelyke produkte word oor tyd gevolg, byvoorbeeld met hoeveel die prys van dieselfde model selfoon tussen 2008 en 2020 verander het, of hoe het die prys van ’n gebruikte voertuig van dieselfde model en vervaardigingsjaar oor tyd verander.

Ander dalings is in die prys van meubels, vloerbedekkings en tekstiele, wat die afgelope 12 jaar met 20,4% gedaal het. Ontspanningstoerusting het met 1,4% gedaal en kommunikasiekoste met 4,2%.

Hoewel dié produkte ’n relatief klein gewig in die totale mandjie het, help die prysdalings om die algehele inflasievlak laer te hou.

Medies, krag styg

Daar is ongelukkig ook groot stygings in sommige produkte en dienste. Die grootste toename is in die prys van elektrisiteit en brandstowwe, wat die afgelope 12 jaar met 276% gestyg het (gemiddeld 23% per jaar), terwyl mediese versekering met 211,2% gestyg het (gemiddeld 17,6 % per jaar).

ekonoom
Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions.

Die prys van kos, wat ’n gewig van meer as 15% in die mandjie het, het in die 12 jaar met 101,2% gestyg (of 8,4% per jaar), terwyl klere en skoene met 46,9% (of 3,9% per jaar) gestyg het.

Inflasie van onderwys het ook beduidend toegeneem, met primêre en sekondêre onderwys wat gedurende die laaste 12 jaar met 168,7% gestyg het (14,1% per jaar), terwyl tersiêre onderwys met 127,2% toegeneem het.

Die huidige verwagting is dat verbruikersprysinflasie in Suid-Afrika in 2021 tussen 4,2% en 4,5% sal wees, maar die pryse van verskillende produkte en dienste sal steeds teen verskillende koerse styg.

Kragtariewe gaan met dubbelsyfers in die tweede helfte van 2021 styg, terwyl die prysveranderings van telekommunikasietoerusting en gebruikte voertuie negatief sal bly (gegewe die metode wat gebruik word).

Kospryse kan moontlik meer styg as wat algemeen verwag word, gegewe die sterk styging in internasionale kospryse, maar die huidige sterker rand sal ’n mate van voordeel inhou om die pryse van ingevoerde produkte in toom te hou.

Die koste van brandstof sal na verwagting in die komende maande meer as 20% hoër wees as in 2020, hoofsaaklik weens die styging in internasionale oliepryse.

  • Johannes Jordaan van Economic Modelling is 2019 se Ekonoom van die Jaar in Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se kompetisie. 2020 se Ekonoom van die Jaar word in September aangewys.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.