Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: ‘Klimaat-probleme maak jóú arm’

Die doelwit van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF), wat tradisioneel jaarliks einde Januarie in Davos, Switserland, gehou word, is om ’n gemeenskaplike platform te skep vir wêreldleiers om sake van gemeenskaplike belang te bespreek – veral sake van belang vir die toekoms – sodat konsensus gebou kan word oor die behartiging van dié vraagstukke.

Prins Charles van Brittanue ontmoet die jong klimaatsaktivis Greta Thunberg op die WEF-beraad in Davos, Switserland. Foto: WEF via AP

Heelwat navorsingstukke word voorberei vir die week, maar een van die belangrikste is die Wêreldrisikoverslag, waarvan die 15de een vanjaar voorgelê is.

Die idee is dat die verslag ook aan gewone sakelui ’n belangrike insig gee in wat as die grootste risiko’s geïdentifiseer is en wat hul impak sal wees sodat ons kan besin oor voorkomende maatreëls en ’n sakebenadering tot die risiko’s kan kies.

Die risiko’s wat die WEF só identifiseer, is net so van toepassing op Suid-Afrika – en selfs meer. Meer hieroor later.

Die ander groot risiko in Suid-Afrika is die voortgeploeter van die ANC met sy sosialisties-kommunisties geïnspireerde ekonomiese beleid van staatsinmenging.

Die afgelope week was daar weer baie duidelike bewyse dat die beleid nie werk nie en die Suid-Afrikaanse ekonomie en sy mense stadig maar seker dieper in armoede sink, terwyl risiko’s van honger, armoede en maatskaplike onvergenoegdheid toeneem.

O, en dan is daar ook op die WEF ’n verslag uitgereik wat toon dat Suid-Afrika die land is waar politici die minste vertrou word.

Swak ekonomiese groei

k

Die Reserwebank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het pas hul groeivooruitsigte vir Suid-Afrika bekend gemaak.

Ons wag natuurlik vir syfers van die vierde kwartaal van 2019, wat na my mening ook swak gaan wees.

Die Reserwebank en die IMF verwag dat ons in 2019 ’n groeikoers van sowat 0,4% gehad het (albei het hul verwagtinge laer aangepas).

Dit is weer heelwat laer as die bevolkingsgroei, wat beteken werkloosheid en armoede neem toe.

Dit beteken ons word armer en die staat sukkel om genoeg belastinginkomste te kry om sy sosialistiese beleid van staatsondernemings en inmenging te finansier.

Om ons ekonomiese wanprestasie in perspektief te plaas, toon die grafiek hiernaas enkele opsommings van die IMF se jongste vooruitsig vir ekonomiese groei vir verskillende gebiede.

Suid-Afrika se groeivooruitsigte is heelwat laer as dié van die wêreld, ontwikkelde ekonomieë en selfs ontwikkelende lande. Ons vaar selfs baie swakker as die meeste van ons buurlande in Afrika suid van die Sahara.

Die positiewe kant is darem dat sowel die Reserwebank as die IMF verwag dat ekonomiese groei stadig maar seker van vanjaar af gaan verbeter en dat 2019 die onderste draaipunt was.

WEF: Klimaat- en natuurrisiko’s neem toe

Die WEF-risikoverslag ontleed en identifiseer talle tipes wêreldrisiko’s, asook die waarskynlikheid dat dit gaan gebeur en die moontlike nadelige impak indien dit wel gebeur (gesien uit ’n sake-oogpunt).

Die tabel hiernaas gee ’n opsomming van die waarskynlikste risiko’s oor die volgende tien jaar, asook die rangorde van hul impak. Ongelukkig laat ruimte nie toe om te toon hoe die risiko’s oor die afgelope tien jaar verander het nie.

k

Byvoorbeeld, in 2015-’16 is die grootskaalse migrasie (na Europa) as die grootste risiko’s geïdentifiseer, gevolg deur interstaat-konflik, lande wat wanfunksioneel word en ineenstort (ons bure Zimbabwe en selfs hoër op in Afrika) en dan enkele risiko’s wat met klimaat en die natuur verband hou.

Al vyf die grootste risiko’s in 2020 word gekoppel aan die veranderende klimaat en natuurrampe. Water- en voedsel-tekorte is die noodwendige resultaat hiervan, tensy voorkomend opgetree word.

Die motivering is dat die risiko’s groter geword het en ekonomiese groei en welvaart in lande bedreig.

Ons regering kry dit nie eens reg om te regeer op so ’n manier dat die ekonomie groei en welvaart geskep word nie, nog minder moet ons verwag dat hulle namens die samelewing gaan intree om voorkomende en risiko-verminderende stappe te doen oor die geïdentifiseerde risiko’s. Dink maar aan die gemors in die Vaalrivier-stelsel en die water- en rioolsituasie in die meeste dorpe en semi-stedelike gebiede in die land!

Ons as burgerlike samelewing sal baie beter georganiseerd en sterker moet optree ter wille van onsself.

Dit gaan van besigheidstrukture afhang om aandag aan die aspekte te gee en ernstige druk op die regering uit te oefen.

Die afgelope paar jaar se droogtes en waterskaarstes was na my mening ’n regstreekse oorsaak van ons lae ekonomiese groei. Miljoene mense in stede wat nie voldoende watertoevoer het nie, is ook ondernemings se ondergang. Daar is ’n hoë korrelasie tussen swak natuurjare (waterskaarstes en kleiner landbouproduksie, ook in ons buurlande) en ekonomiese groei wat afneem.

Dit sal nie help dat ons ontkennend optree oor die werklikhede nie.

  • Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Johan Willemse  |  Wef  |  Ekonomie  |  Klimaatsverandering  |  Wef 2020  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.