Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Klimaat, staat is grootste risiko’s

Deel van goeie korporatiewe beheer is dat ondernemings gereeld ’n sogenaamde risiko-beoordeling doen. By groter maatskappye is daar selfs ’n formele risikokomitee wat sy risiko’s en die moontlike impak daarvan beoordeel, asook voorstel watter stappe gedoen kan word om die negatiewe impak te probeer versag of vermy.

johan willemse, landbou-ekonoom
Prof. Johan Willemse.

Die soort bestuursmaatreëls is vir aandeelhouers belangrik om hul belegging en winste te beskerm. Daar is selfs professionele risikobestuursposte op hoofbestuur- en direksievlak met formele kwalifikasies daarvoor.

Die vraag is of dit nie tyd is dat kleiner en middelslagmaatskappye meer gefokusde aandag gee aan risikofaktore en watter versagtende of vermydende stappe hulle kan doen nie.

Byvoorbeeld, in groot dele van ons platteland verswak die landbou-ekonomie weens voortdurende droogtes en hittegolwe met geen ramphulp van die regering nie. Dit beteken ons sal ernstig moet herbesin oor landbou-produksie in talle streke. Dit raak die betrokke dorpe en ondernemings.

Klimaatrisiko’s kan nie meer geïgnoreer word nie. Dit bedreig baie boerderye en ondernemings se voortbestaan. Hierby moet ons voeg die wanfunksionele munisipaliteite op baie plattelandse dorpe waar paaie onbegaanbaar raak, kragverskaffing onbetroubaar is en watervoorsiening sporadies en afhanklik van die gemeenskap se ingryping en eie geld is.

Die stand van infrastruktuur smoor die moontlikheid van enige nuwe beleggings of uitbreiding van klein en middelslagondernemings.

Moeilike besluite is nodig. Wat pres. Cyril Ramaphosa ook al in sy staatsrede onderneem het, die feit is in groot dele van Suid-Afrika is daar geen kundigheid by staatstrukture nie en word weggekruip agter wetgewing, wat dit bitter moeilik maak vir die sakegemeenskap om beheer te neem oor die verskaffing van die dienste wat hulle nodig het.

Die staat is grootste risiko vir die suksesvolle voortbestaan van veral klein en middelslagondernemings!

WEF se risiko-faktore

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) publiseer jaarliks voor sy vergadering in Davos, Switserland, ’n wêreld-risiko-verslag. Professionele risiko-ontleders, die grootsakesektor en regerings neem hieraan deel om die grootste risikofaktore vir die wêreldekonomie oor volgende jaar te identifiseer.

Dit is opvallend dat die afgelope drie jaar se drie grootse risiko’s verband hou met klimaatsverandering, ekstreme weer en natuurrampe.

Die feit dat die drie risiko’s stelselmatig na die hoogste vlak geskuif het en ekstreme weer nou al drie jaar boaan die lys is, behoort ons almal te bekommer.

Ons weet klimaatsbeleid en die toepassing daarvan skitter in sy afwesigheid. Ondernemings met min hulpbronne loop die risiko van totale uitwissing.

risiko
So het risikofaktore vir ondernemings oor die laaste drie jaar verander (of dieselfde gebly).

Ons sal sekerlik saamstem dat die impak van die risiko’s die laaste paar jaar in Suid-Afrika ernstig toegeneem het. Die skade wat dit aan jou onderneming of boerdery kan berokken, kan jou op jou knieë dwing. Tradisionele versekering raak duur en in sekere landbou-gebiede wil versekeraars nie meer oeste verseker nie, weens die groter risiko’s.

Navorsing bevestig dat droogtes erger gaan raak en vloede gaan toeneem en dat die sentrale en westelike dele van die land gaan neig om langer droog te bly.

Landbou in Suid-Afrika staan voor groot uitdagings om hierby aan te pas en baie boerderye se reserwes is die afgelope paar jaar uitgeput.

Terloops, die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê in 2015 is die laagste reënval op rekord in Suid-Afrika aangeteken, maar daar is gebiede in die land waar die reënval in 2018 selfs laer was.

Daarby word waterverskaffing in stedelike en dorpsgebiede toenemend onbetroubaar. Daar word nie genoeg belê in infrastruktuur en opgaarvermoë nie en meer mense het na stede gestroom. Hoe bedryf jy ’n klein onderneming sonder water en krag?

Baie kleinsake- en middelslagondernemings is afhanklik van deurlopende en voldoende water en krag. Dit is tans die grootste enkele risiko vir Suid-Afrikaanse ondernemings, saam met arbeidswetgewing en stakings.

Data-diefstal, kuber-aanvalle en gewone misdaad is maar een pakkie in ’n groter staatsgeskepte omgewing waar misdaad en korrupsie tot op die hoogste vlak ondersteun is. Dit is ’n besonders groot risiko vir enige onderneming se voortbestaan.

sakerisiko
Die lys van plaaslike sakerisiko's wat verband hou met die staat.

Die ander tabel hierby wys watter soort risiko-faktore nader aan kleinsake- en middelslagmaatskappye se invloedsfeer is.

As ’n mens so ’n oefening doen, kom jy tot die besef dat in plaas daarvan dat die ANC-regering ’n beleidsraamwerk geskep het waarin ondernemings kan gedy, is die gebrek aan ondersteunende maatreëls, swak dienslewering en korrupsie, die grootste risikofaktore – en nie die markplek nie.

Die tabelle illustreer dat ondernemings ernstig sal moet herbesin oor die bestuur van hierdie en ander risiko’s. In sommige gevalle sal selfs die totale herposisionering van die onderneming oorweeg moet word.

Staatsgedrewe en klimaatsrisiko’s gaan na my mening nog etlike jare met ons wees.

  • Prof. Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.