Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Minerale skitter – goeie nuus vir SA

Die nuwe stukrag wat met die opswaaifase van produkpryse ondervind word, is van onskatbare waarde vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Roelof Botha
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep. Foto: Marita Herselman

Dit is veral energie- en mineraalpryse wat in onlangse maande die hoogte ingeskiet het, en daar is selfs bespiegelings van ’n nuwe supersiklus vir produkpryse. Goldman Sachs is ietwat diplomaties hieroor en meen daar is tekens van ’n strukturele opswaaifase van sommige produkpryse (wat maar eintlik op ’n super-siklus neerkom).

Daar bestaan min twyfel dat verlede jaar se mineraalverkope deur Suid-Afrika, wat ’n nuwe hoogtepunt van R610 miljard bereik het, ’n groot aandeel gehad het in die puik herstel van die rand sedert die slagting waaraan ontluikende markte se geldeenhede in April 2020 onderworpe was.

Sedert die paniek wat in dié maand op kapitaalmarkte beleef is, het die rand met sowat 30% teenoor die Amerikaanse dollar verstewig, wat die beste vertoning van enige geldeenheid ter wêreld was.

Met ’n bietjie hulp van die ander primêre sektor, landbou, het Suid-Afrika se mynwese gesorg vir ’n ongeëwenaarde oorskot op die land se handelsbalans, wat ’n groot bydrae tot grondliggende monetêre stabiliteit gelewer het.

Tito Mboweni, minister van finansies, is ongetwyfeld ook verheug oor die skittervertoning van mineraalverkope, aangesien maatskappye in die hulpbronsektor reuse-winste behaal het en in 2021 wesenlike bydraes tot die staatskas behoort te lewer.

k

Die voorbokke in die nuutgevonde pryslopie wat deur die meeste metale en minerale ondervind word, sluit ystererts en die sogenaamde platinumgroep in.

Laasgenoemde bestaan uit hoofsaaklik uit rodium, palladium en platinum, en dis veral rodium wat sterk in aanvraag is. Dié mineraal, wat veral in die elektroniese bedryf en die vervaardiging van katalisators gebruik word, is beslis ’n vroeë kandidaat vir die mineraal van die eeu.

Die prys van rodium het tussen Junie 2016 en Januarie 2018 meer as verdubbel tot $1 520 per ons, daarna toegeneem tot $2 200 in Julie 2018 en minder as twee jaar later vervyfdubbel tot ’n vlak van $11 200 (vroeg in Maart 2020).

k

Hierna het die Covid-19-pandemie sy tol geëis en het die prys tydelik teruggesak tot $2 000 per ons.

Op 25 Februarie 2021 het dit geklim tot $22 500 – 35 keer hoër as in 2016.

Palladium het self nie sleg gevaar nie en die prys het die afgelope vyf jaar byna vyfvoudig toegeneem.

Daar bestaan twee belangrike redes vir die groot aanvraag na metale en minerale en veral dié in die platinumgroep.

Eerstens het die wêreldekonomie vinniger van die pandemie herstel as wat aanvanklik verwag is.

China, die wêreld se tweede grootste ekonomie, het slegs in Februarie 2020 negatiewe groei beleef en sal volgens die Wêreldbank na verwagting vanjaar teen sowat 8% groei.

platina
’n 5kg-platinumstaaf. Die verwagte volgehoue styging in pryse van metale soos platinum hou goeie nuus in vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Indië, wat binne enkele jare die grootste bevolking ter wêreld sal hê, gaan volgens die Internasionale Monetêre Fonds vanjaar met 11,5% groei.

Dié twee lande huisves 36% van die wêreld se bevolking en met ekonomiese groeikoerse van dié omvang is dit onvermydelik dat produkpryse in die algemeen gaan aanhou styg – van olie tot stapelvoedsel en van ystererts tot platinum.

Tweedens word veral die platinumgroep minerale bevoordeel deur die universele neiging tot ’n sogenaamde “groen” ekonomie. Met Amerika wat nou ook weer deel is van bykans al die grootste moondhede se verbintenis tot wetgewing om aardverwarming teen te werk, gaan die vraag na platinum en sy boeties aanhou styg.

Dié groep speel 'n groot rol in die vervaardiging van katalisators vir die uitlaatstelsels van voertuie (waarmee besoedeling verminder word) en gaan in die toekoms ook ’n veel belangriker rol in die produksie van waterstof vervul.

Laasgenoemde kan as ’n bron van energie aangewend word wat geen besoedeling veroorsaak nie.

Platinumgroepminerale gaan nog lank een van Suid-Afrika se grootste bronne van buitelandse valutaverdienste bly. Hopelik sal die veredeling en verwerking daarvan ook in die toekoms ál meer ter plaatse gedoen word.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep en is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Dr. Roelof Botha  |  Platinum  |  Mynbou  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.