Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Nog ’n vyfjaarplan na nêrens

In sy boek All Art is Propaganda skryf George Orwell “ . . . in our age there is no such thing as ‘keeping out of politics’. All issues are political issues, and politics itself is a mass of lies, evasions, folly, hatred and schizophrenia.”

Daar is heelparty mense wat waarskynlik hierdie aanhaling sal beskou as ’n in-die-kol-beskrywing van Suid-Afrika se politieke bestel.

Gelukkig is daar darem troos te vind in die feit dat in die 1940’s – toe Orwell dié boek geskryf het – hy van mening was dat hierdie eienskappe regerings wêreldwyd deur die jare heen gekenmerk het. Maar dit verander nog nie die dilemma waarmee Suid-Afrikaners te kampe het nie: Die onbevoegdheid en misdadige karakter van ’n hele spul voormalige en huidige politici wat ons regeer.

Die donker komedie in regeringsgeledere het onlangs ’n nuwe laagtepunt bereik met die fiasko toe Ace Magashule sy staatskapingspogings tot binne die Reserwebank wou neem – net om later sy uitsprake te blameer op ’n “gekaapte” Twitter-rekening.

Die “nuwe dagbreek” vir Suid-Afrika se politieke bestel onder Ramaphosa was op baie se lippe, maar is vinnig besig om in vergetelheid te verval.

Die blatantheid van hardebaard-kommuniste, soos Magashule, Carl Niehaus, Solly Mapaila en tientalle ander in die ANC-regering (wat soms nie eens weet of hulle kommuniste is nie), om hul perverse doelwitte te bereik ken net geen perke nie. Hierdie kabaal van Zumaïste hoop natuurlik steeds om pres. Cyril Ramaphosa uit die pad te kry – dalk met die hulp van die openbare beskermer se ondersoek na die Bosasa-skenking.

Die verkwisting van staatsgeld, gebrekkige prioritisering van staatsuitgawes, korrupsie en onbekwaamheid weens kader-ontplooiing binne die staatsdiens, duur oënskynlik voort.

Die “nuwe dagbreek” vir Suid-Afrika se politieke bestel onder Ramaphosa was op baie se lippe, maar is vinnig besig om in vergetelheid te verval.

Ons kabinet is steeds hopeloos te groot met 28 ministers – vergeleke met Zuma se 35. Dan is daar ook 34 adjunkministers (37 onder Zuma). Ongelukkig het daar nog geen noemenswaardige rasionalisering en uitskakeling van duplikasie in die staatsdepartemente wat onder ministers resorteer, plaasgevind nie.

Maar ons bly vasklou aan Ramaphosa se belofte dat die proses sal voortgaan.

En dan is daar natuurlik misdaad en die ekonomie. Gebiede wat alle landsburgers se lewens, lewenswyse en toekoms raak. Die fokus op hierdie gebiede behoort natuurlik ten doel te hê om ’n omgewing te skep waarin die private sektor sal gedy.

Maar van die skep van vertroue en beleidsrigtings om ekonomiese groei en werkskepping te ondersteun, was daar tot dusver maar min tekens. Wel tientalle planne en strategieë wat uitgedink word op lekgotlas, maar waar die meeste teenwoordiges waarskynlik meer uitsien na tee en koekies en ’n stewige maaltyd as hoe om die regering reg te ruk.

Ná afloop van die onlangse lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het die ANC se sekretaris-generaal – Magashule – al weer ’n vyfjaarplan voorgehou waarop die sesde administrasie ooreengekom het.

Dié keer is daar sewe punte – almal uiters vaag en so wyd soos die Karoovlakte. Punt nommer ses is veral lagwekkend: Die doel is om ’n beter Afrika en wêreld te bou. Ja, regtig? Seker met die geld wat verkry sal word uit kwantitatiewe verruiming sodra die Reserwebank se mandaat verander is.

Daar is ook ’n “verbeeldingryke” nywerheidstrategie voorgehou waarop ooreengekom is. Dit is om die ekonomie te diversifiseer, om te investeer in teikensektore wat ontwikkel moet word wat die deelname van swart mense en vroue in die ekonomie sal fasiliteer en werkgeleenthede sal skep.

Volgens Magashule se verklaring is die strategie “uitvoer-georiënteerd, en teiken dit arbeidsintensiewe sektore en kleinsake. Die strategie het koöperatiewe ontwikkeling en verbreedte deelname met belanghebbende deelname aan die kern ten doel.”

Bogenoemde is vry vertaal uit Magashule se verklaring.

Wat kan ’n mens sê oor so ’n “alles vir almal”-verbeeldingsvlug? Feitlik elke term of sinsnede is aanvegbaar of verwarrend.

Om terug te kom na Orwell. In van sy werk dryf hy die spot met die kommuniste se totalitêre bewind in die ou Sowjet-Unie. Hy het Wladimir Lenin en Joseph Stalin veragtelik gevind – vandaar sy waarskynlik mees bekende satiriese werk, Animal Farm.

Altesame 13 vyfjaarplanne het voortgespruit uit Lenin se “Nuwe Ekonomiese Beleid” (klink dit bekend?). Stalin het die eerste vyfjaarplan in 1928 in werking gestel nadat die staat alle produksiemiddele, hulpbronne, kommunikasie en eiendom genasionaliseer het. Hoewel sommige van die planne se doelwitte suksesvol bereik is, het die bevolkings in die republieke van die Sowjet-Unie vergeleke met die VSA of Wes-Europese lande aansienlik verarm.

Hoekom daar nog so ’n klomp ideologies verknogte kommuniste in ons regering is, vind ek moeilik om te verduidelik. Die Sowjet-regering wat die ANC in sy militêre stryd teen apartheid gesteun het, bestaan lankal nie meer nie.

Miskien gaan dit daaroor dat dit makliker is om ’n wet te maak om ander se besittings in te palm as jyself maar redeli aan intellektuele vermoë of werkywer te kort skiet.

  • Luüs, ekonoom van Ecoquant, is ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Ekonomie  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.