Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: SA het kapitaal nodiger as brandstof

Suid-Afrika het die derde hoogste netto uitwaartse kapitaalvloei ter wêreld uitgedruk as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP).

Volgens die departement van vervoer het Suid-Afrika minstens R2 000 miljard nodig om die agterstand in padinfrastruktuur in te haal. Foto: Verskaf

Opkomende markte lok gewoonlik vaste investering, anders as Suid-Afrika wat dit verjaag. Boonop is Suid-Afrika se vlak van bruto kapitaalformasie as persentasie van die BBP laer as dié van 109 lande uit 160 lande waarvoor inligting beskikbaar is.

Die private sektor belê sowat 16% van die BBP en die regering sowat 3%. Tesame is dit 18,8%, maar dit is steeds minder as die meeste ander lande.

Die Suid-Afrikaanse regering se belegging in ekonomiese infrastruktuur is minder as die gemiddelde van ontwikkelde lande. Ontwikkelde lande het gewoonlik reeds infrastruktuur, so dit is billiker om Suid-Afrika met ander ontwikkelende lande te vergelyk. Sommige ontwikkelende lande se vaste investering is egter dubbel soveel as Suid-Afrika s’n.

Volgens die departement van vervoer het Suid-Afrika minstens R2 000 miljard nodig om die agterstand in padinfrastruktuur in te haal. Die agterstand by munisipale infrastruktuur is byna R1 000 miljard en die land se damme en waterinfrastruktuur het ook dringend beleggings nodig. Ons het kapitaal meer nodig as wat ons brandstof benodig.

Waarom kan Suid-Afrika dan nie daarin slaag om veral private kapitaal te lok om die land te help groei nie?

Die een rede is Suid-Afrika se rekord van lae groei op lang termyn. Die ekonomie groei al sedert die vroeë 1980’s teen minder as die gemiddelde. Jy is nie ’n baie aantreklike belegging as jy swakker as ander lande presteer nie.

Buitelandse beleggings

Voeg dan daarby die feit dat Suid-Afrika dekades lank een van die tien hoogste maatskappybelasting-tot-BBP-verhoudings ter wêreld gehad het. Daar is skaars ’n ander hoofstroom-ekonomie wat maatskappye teen so ’n hoë koers belas met boonop so ’n klein toegewing om uitgawes af te skryf.

Dit lyk of ons leuse is om “hulle te belas, want maatskappye skuld ons”.

Die hoë korporatiewe belastinglas het ’n lang geskiedenis. Oor die wêreld heen is regerings op soek na maniere om maatskappye te help om makliker sake te doen. Die Wêreldbank reik jaarliks ’n publikasie uit wat verslag doen oor hoe lande die koste verlaag om sake te doen en hoeveel meer doeltreffend lande geword het. In Suid-Afrika is dit egter nie maklik om sake te doen nie – ons posisie op die ranglys van die publikasie het van 28ste tot 82ste gesak.

Een faktor wat daartoe bydra is die vermoë om elektrisiteit te voorsien. Nog iets is die misdaadvlakke wat hoog bly.

Benewens dié gewone faktore is die probleem egter steeds dat hoë belasting en ander probleme op hul eie nie die negatiewe impak moes gehad het wat in die afgelope paar jaar gesien is nie.

Baie mense sal dit nie wil hoor nie, maar die openlike rentebejag-gedrag in die vorm van swart ekonomiese bemagtiging word as ’n bykomende belasting gesien. Daarby word die bemagtigingsreëls elke paar jaar verander en het maatskappye ’n ekstra voldoeningslas tesame met ’n groter belang wat aan vennote afgestaan moet word. Dan verkoop die vennote dikwels hul aandele en word die maatskappy gedwing om nuwe vennote te soek.

Die vennote bring straks bemarkingsnetwerke met hulle saam, maar dikwels word nie genoeg ekstra markaandeel gewen nie, want mededingers kry ook vennote by. Vandag vereis alle groot maatskappye en staatsdepartemente voldoening aan bemagtiging,en dit beteken ekstra personeel- en voldoeningskoste.

Korrupsie speel natuurlik ook ’n rol. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, skat dit kos Suid-Afrika minstens R500 miljard. Korrupsie het ’n nuwe vlak van onsekerheid bygevoeg. Harde werk tel nie meer om ’n tender te kry nie en selfs nuwe bemagtigingsvennote is nie meer genoeg nie, mmaar bruin koeverte doen wel die ding.

Daar is dikwels praatjies in sakekringe oor hoe hierdie of daardie een wat nie veel kennis of ervaring het nie skielik ’n tender gekry het – en drie weke later is die transaksie aan ’n ander maatskappy verkoop wat wel aan die vereistes voldoen. Hele mynondernemings soos Optimum is in effek gesteel.

Mike Schüssler is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van die Ekonoom van die Jaar-kompetisie.

Die regering se ingesteldheid jeens die sakesektor is deurslaggewend. Beleggings of nuwe sake vloei nie na lande wat eise stel nie. In die afgelope 44 kwartale was sakevertroue net drie kwartale lank positief.

Die regering het die sakesektor openlik in sy visier met die slagspreuk van “witmonopoliekapitaal” en in reaksie belê die sakesektor bloot elders. Suid-Afrikaanse maatskappye skep elders in die wêreld werk en buitelandse maatskappye het hul planne vir beleggings in Suid-Afrika laat vaar.

Om die sakesektor af te skrik is nie iets wat lande in die algemeen doen nie, maar Suid-Afrika is besig om dié les op die hardste moontlike manier te leer.

Maatskappye het keuses, maar regerings het heelwat minder keuses. Regerings gaan die wêreld rond om sakelui te trakteer en met beloftes en aanmoedigings te lok.

Die nugtere feite wys egter dat die pad na werkskepping lank en moeisaam is. Hoë belasting, meer reëls en regulasies, korrupsie, beleidsonsekerheid, onbetroubare elektrisiteit en ’n houding wat sê “ons het nie goeie maatskappyresultate nodig in ’n land met die hoogste werkloosheidskoers en ongelykheid nie” . . .

Suid-Afrika is die lewende bewys van wat om nié te doen nie. Werkloosheid het oor die afgelope 11 jaar teen ’n koers van 300 000 mense per jaar gegroei. Die werkloosheidsyfers vertel ons die tragiese gevolg van die mislukking om vaste investering te lok.

  • Mike Schüssler is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van die Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Mike Schüssler  |  Sakesiening  |  Bbp  |  Ekonoom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.