Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: SA, hou op dink soos slagoffers

Suid-Afrikaners moet ophou dink soos slagoffers as ons nie slagoffers wil word nie.

Mike Schüssler is ’n ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.

Dit lyk asof almal glo dit gaan erger met Suid-Afrikaners as met enig­iemand anders ter wêreld. Baie meen dit ly geen twyfel nie dat hulle die armste van die armes is. Stakende onderwysers stel dit as ’n feit op die aandnuus dat hulle die behoeftigste werkers in die land is. Dan is dit munisipale werkers se beurt.

Mynwerkers, dokters en selfs ons oudpresident het almal al gekla oor hul eie armoede.

Produksie

Toe Suid-Afrika ’n minimum loon gekry het, is daar dadelik luidkeels geprotesteer dat dit nie genoeg is nie. Terwyl dit waar is dat dit moontlik nie ’n gesin van vier kan voed en klee as net een mens in die huishouding werk nie, is dit gemeet aan interna­sionale en relatiewe standaarde nie laag nie.

Ja, ons minimum loon is laag – met 52 lande wat ’n hoër minimum loon as Suid-Afrika het. ’n Meer volledige prentjie sal egter die feit insluit dat 105 lande ’n minimum loon met minder koopkrag as ons s’n het. Daar is 30 lande wat nie eens ’n minimum loon het nie.

Daarby het baie sektore in die ekonomie sektorale minimumloonvasstellings wat heelwat hoër as die nasio­nale minimum loon is.

In baie sektore is die persentasie werkers op die minimum loon minder as 10%.

Onthou ook dat Suid-Afrika vir ’n ontwikkelende land baie aan maatskaplike toelaes – meer as alle ander ontwikkelende lande as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) – bestee.

Daarby is gratis water, krag en behuising ook deel van die maatskaplike toelae. Vervoerkoste as persentasie van inkomste is hoog, maar die meeste ander koste is relatief laag.

Produksie

Uit die 50 lande, waarvan die koopkragpariteit-aangepaste loondata beskikbaar is, is Suid-Afrika se gemiddelde maandelikse lone in die formele sektor die 18de hoogste.

In 2017 was dié syfer vir Suid-Afrika hoër as dié in Swede, Japan, Nieu-Seeland en tien ander ryk lande, bekend as die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO).

Suid-Afrikaners wat in die formele sektor werk, verdien meer as formelesektorwerkers in enige van ons Brics-vennote.

Ons kan vier en ’n half keer meer as ’n Indiese werker koop, drie keer meer as ’n Brasiliaan en dubbeld wat ’n Chinees of Rus op grond van koopkragpariteit kan koop.

Selfs in nominale randwaarde verdien Suid-Afrikaners meer as werkers in 29 lande, terwyl werkers in net 26 lande meer as ons verdien – en dit is hoofsaaklik ryk en ontwikkelde lande asook die groter ontwikkelende markte.

Selfs in eenvoudige dollar-terme verdien Suid-Afrikaners meer as werkers van enige Brics-vennote.

Dit is nie nuus vir diegene wat drie keer ’n jaar die UBS-verslag oor pryse en verdienste wêreldwyd lees nie. Dié data toon soortgelyke vlakke van relatief hoë verdienste onder Suid-Afrikaners.

Suid-Afrikaners glo dit klaarblyklik nie en dit word nie wyd gepubliseer nie. Maar as ons besluite oor betogings en stakings neem, moet ons ingeligte besluite neem ten minste in soverre dit ons ekonomie kan seermaak.

Ons leiers is waarskynlik ook nie van dié feite bewus nie omdat hulle so vasgevang is in aansprake op armoede en die slagoffermentaliteit dat ons almal die gevaar loop om uitgebuit te word.

Maar niks is verder van die waarheid nie! Die probleem is die groot getalle mense in die werkloosheidsry wat niks het nie of net stukwerk kan kry.

Gegrond op sekere produksiemaatstawwe is ons produktiwiteit swak. Byvoorbeeld: Suid-Afrikaanse werkers wat ongesuiwerde staal produseer, produseer minder staal per werker as hul eweknieë in Indië, Maleisië en China.

produksie

Suid-Afrikaanse staalproduksie was in 1987 2,2% van die wêreldproduksie. Dit het geval tot 0,35% vanjaar.

Die Eskom-fiasko gaan waarskynlik ons vermoë om staal te produseer, verder belemmer.

Met die produktiwiteitsvlakke loop Suid-Afrika die gevaar om – net soos Zimbabwe – sy staalbedryf oor die volgende dekade geheel en al te verloor.

Dit lyk asof ons beter vaar ten opsigte van voertuigvervaardiging, maar ons kom nie naby die beste nie en hoewel die lone in dié sektor redelik lyk, hoor ’n mens van veel laer lone in Thailand, Turkye, ens.

Maar ons moet massiewe belastingaansporings en ander subsidies vir voertuigvervaardiging toestaan om dit te laat werk.

’n Paar jaar gelede het die tesourie geraam dat die subsidies meer as R18 miljard per jaar beloop.

En tog behou ons ook nie hier ons wêreldmarkaandeel nie. En Eskom gaan hier ook seermaak.

Suid-Afrika het geval van die wêreld se grootste goudprodusent tot die agtste plek vanjaar. Ons plek op die wêreldproduksieranglys het ook in steenkool, ystererts en selfs wol geval.

As Suid-Afrika nie die slagoffer van sy eie slagoffermentaliteit wil wees nie, het ons leiers nodig met die waagmoed en wysheid om aan die publiek te sê dat dié van ons wat gelukkig genoeg is om ’n werk in die formele sektor te hê nie so baie het om oor te kla nie.

Ja, die werkloses kan kla, maar diegene wat ’n werk in die formele sektor het, is in die algemeen nie so arm soos wat ons onsself laat glo nie.

As ons nie versigtig en produktief is nie, sal ons onsself arm glo. Hoekom? Want ons eis meer sonder groter produktiwiteit vergeleke met die res van die wêreld.

Die mense in Sri Lanka gaan vanjaar waarskynlik ryker as ons word.

Suid-Afrikaanse produksie sukkel om mee te ding en ons verloor poste en inkomste aan ander lande.

Die meegaande grafieke wys die resultate van dié kommerwekkende situasie.

  • Schüssler is ’n ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Mike Schüssler  |  Staal  |  Sakesiening  |  Steenkool  |  Produksie  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.