Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: SA kry nie waarde vir hoë belasting
Mike Schüssler, onafhanklike ekonoom.

Wanneer ’n mens die belastinglas in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) beskou, is Suid-Afrika s’n die agtste hoogste in die wêreld.

Buurlande wat deel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) is en die meeste van hul belasbare inkomste via ’n BBP-bydrae van 1,1% vanaf die Suid-Afrikaanse ekonomie ontvang, het ook ’n hoë belastinglas.

Alle lidlande van die Sadu is in die lys van die 40 lande met die hoogste belastinglas. As die Sadu-lande buite rekening gelaat sou word, sou Suid-Afrika die sesde hoogste belasting-tot-BBP-las ter wêreld gehad het.

Dis hoofsaaklik die Skandinawiese lande wat ’n hoër verhouding as Suid-Afrika het.

As ’n mens die grootte van ons ekonomie in ag neem, is die Suid-Afrikaanse belastinglas veels te hoog.

Onderwys

Hierdie reuse-belastinglas verskaf van die swakste onderwysresultate ter wêreld. Ons vaardighede in wiskunde, wetenskap, begrip en lees steek sleg af teen die res van die wêreld.

Die Skandinawiese lande, met hul hoë belastings, het gemiddeld 14 leerlinge per onderwyser. Ons gemiddeld is 32 leerlinge per onderwyser en 34 in skole wat nie skoolgeld hef nie.

Ons belastinglas het tot hoë besteding aan onderwys gelei, tog word ons skoolverlaters nie beskou as vaardig genoeg om in diens te neem nie.

Ons universiteite het op die internasionale ranglyste begin gly. Hoewel ons baie jong mense op universiteit het, kry hulle nie werk nie of word in administratiewe poste aangestel wat in die verlede deur matrikulante gevul is.

Mensehulpbronbestuurders berig oor toetsresultate wat toon dat al hoe meer graduandi nie geskik is vir kognitiewe werk nie. Baie akademici gee heimlik toe dat gehalte ingeboet is ter wille van getalle.

Gesondheid

Maar ons oorlaaide staatshospitale is nie ’n plek waarheen mense met geld gaan wanneer hulle siek is nie.
Schüssler

Ons staatshospitale bring net soveel buitelandse babas in die wêreld as babas van Suid-Afrikaanse burgers. Ons bestee heelwat meer as dié lande aan gesondheid.

Maar ons oorlaaide staatshospitale is nie ’n plek waarheen mense met geld gaan wanneer hulle siek is nie.

Die beste bewys hiervan is dat die staatsdienswerknemers in dié hospitale mediese versekering verkies sodat hulle eerder private mediese sorg kan ontvang.

In byna al die ander lande wat hoë belastings betaal en selfs in sommige wat die helfte soveel belasting soos Suid-Afrika betaal, is daar gehalte- mediese dienste en meer dokters en gesondheidswerkers.

Die gesondheidsresultate in Suid-Afrika se staatshospitale is nie goed nie. Belastingbetalers vrees om hier opgeneem te word en gaan eerder teen groot koste na private hospitale.

Maar die Suid-Afrikaanse antwoord is skynbaar altyd om net meer geld te bestee. Die gevolg is dat die personeel hoër salarisse kry terwyl hul prestasies nie verbeter nie. Daar is baie peilings wat die verslegtende resultate weergee.

Dienslewering

Sekuriteitsmaatskappye groei terwyl gewone landsburgers in vrees lewe en buurtwagte self die strate patrolleer.

Suid-Afrika se hoë en stygende belastinglas het ook vir ons slaggate in die paaie in byna alle dorpe gebring en selfs in die metro’s word slaggate nie meer gereeld opgevul nie.

Tog het stede 50% meer mense in diens as in 2002 en die dienslewering is in die meeste gevalle swakker. Munisipale belastings is hoër, maar biblioteke het minder boeke en busse ry sonder passasiers op verkeerde roetes.

Elektrisiteits- en watertariewe het gestyg. Dit is nog ’n vorm van belasting, aangesien die wins gebruik word om arm mense se toegang tot dié dienste te subsidieer.

Maar die kragonderbrekings word meer en die ekonomie produseer minder krag terwyl die personeelgetalle by die staatsbeheerde kragverskaffer met ’n derde gestyg het.

Die regering dink skynbaar meer geld en dus hoër belasting sal dié probleme oplos.

Dis wat gebeur as jy ondoeltreffende onderwysers beskerm wat kinders se lewens verwoes terwyl staatsamptenare 30% meer verdien as die gemiddeld in die private sektor.
Schüssler

Ons belastinglas is 25% hoër as in 1994. Die totale gekonsolideerde staatsinkomste is 38% hoër as in 1994 soos wat agentskappe en plaaslike regering ook hul heffings en belastings verhoog het.

Werkloosheid

So, in kort, Suid-Afrika betaal meer vir minder.

Ja, armoede is effens laer, maar ongelykheid is steeds hoog, terwyl staatsamptenare die elite word en werkloosheid styg.

Suid-Afrika is ’n duidelike bewys is dat hoër belasting tot hoër werkloosheid lei. Werkloosheid het van 5,3 miljoen in 2001 tot 9,5 miljoen vroeër vanjaar gestyg.

Dié styging in die aantal werkloses weerspieël die koue werklikheid van ’n ondoeltreffende staat wat nie die reuse-las wat hy op belastingbetalers se skouers lê, ten beste benut nie.

Dis wat gebeur as jy ondoeltreffende onderwysers beskerm wat kinders se lewens verwoes terwyl staatsamptenare 30% meer verdien as die gemiddeld in die private sektor.

Ek vind dit interessant dat geen regeringskommissie van ondersoek iets sê oor die teenstrydigheid van stygende matriekslaagsyfers, maar meer werklose mense nie.

Die landsburgers weet dit en so ook die belastingbetalers.

Die Suid-Afrikaanse belastingopstand is nie in die vorm van ’n boikot nie, maar in mensekapitaal en beleggings wat die land verlaat.

  • Mike Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die jaar-wedstryd.
Meer oor:  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Sakesiening  |  Belasting  |  Onderwys  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.