Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Ekonomie herstel dalk eers laat 2023
Ulrich Joubert Foto: Salomé Fischer

Toe die staatsbegroting op 26 Februarie vanjaar gelewer is, was dit duidelik dat die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service Suid-Afrika teen einde Maart tot rommelstatus sou afgradeer.

Die ekonomiese groeikoers is net te swak, die begrotingstekort te groot en geen noemenswaardige beleidsbesluite is aangekondig om die situasie in die afsienbare toekoms te verbeter nie.

Intussen het die koronavirus baie vinnig deur die wêreld versprei en die Chinese en ’n paar ander ekonomieë ontwrig.

In Maart verander hierdie prentjie en word Suid-Afrika en sy mense, en dus die ekonomie, vanaf middernag op 26 Maart vir ’n aanvanklike tydperk van drie weke ingeperk. Die aand van 27 Maart verlaag Moody’s die land se kredietgradering tot rommelstatus.

Laasgenoemde was verwag en baie plaaslike en internasionale spekulante en beleggers het hulle daarop voorberei. Kapitaal het reeds geruime tyd plaaslike finansiële markte verlaat.

Pandemie laat ’n gat ontstaan

Die staat van inperking is ’n skok en iets wat nog nooit voorheen beleef is nie.

Omdat die ekonomie toegemaak word, ontstaan daar ’n gat in aktiwiteite wat moontlik vir altyd weg is. Die vloei van geld, in watter vorm ook al, word onderbreek. Wêreldwyd word fiskale en monetêre beleid ingespan om geld in die ekonomiese stelsel te pomp om te voorkom dat die intense resessie wat in 2020 gevrees word, nie ’n langdurige depressie word nie.

Terwyl rentekoerse verlaag word, styg begrotingstekorte en staatskuld wêreldwyd onrusbarend. Dit word alles gedoen in ’n poging om ’n vloer onder die ekonomie te plaas en te voorkom dat alles uitmekaarval.

Nogtans word negatiewe groei van sowat 3% vir die wêreldekonomie, sowat 8% vir die VSA en Brittanje, en sowat 7% vir Duitsland en Japan voorspel, terwyl China positiewe groei van sowat 1% kan behaal.

Suid-Afrika kan negatiewe groei van tussen 6% en 10% in 2020 beleef. Tans toon voorspellings dat die ekonomie eers weer op die vroegste teen die laaste kwartaal van 2023 vlakke van voor die inperkingskrisis sal bereik.

Wat is die opsies?

Volgens die Reserwebank kan plaaslike rentekoerse, wat sedert Januarie vanjaar reeds met 2,25 persentasiepunt verlaag is, met nog 1,25 persentasiepunt oor die volgende 12 maande daal.

Dit bied wel verligting aan mense en ondernemings met skuld, maar skep probleme vir persone wat van ’n rente-inkomste afhanklik is. Laer rentekoerse maak plaaslike geld- en kapitaalmarkte ook minder aantreklik vir plaaslike en internasionale beleggers en spekulante.

Baie min beweegruimte bestaan aan die fiskale kant weens die benarde finansiële posisie van die staatsektor, hoofsaaklik weens wanbestuur, korrupsie en die wanaanwending en verkwisting van geld.

Staatskuld kan weens die verwagte begrotingstekorte so ’n omvang aanneem dat die rente daarop die staatsinkomste grootliks absorbeer en min ruimte vir ander programme laat.

Die grootste bekommernis is egter dat die gebrek aan ekonomiese groei meebring dat begrotingstekorte en staatskuld nie onder beheer gebring kan word nie. Die fokus moet dus op die verbetering van die huidige sowat 1%-groeipotensiaal van die ekonomie geplaas word.

Die staatshulpprogram van sowat R500 miljard om die uitwerking van die Covid-19-pandemie teen te werk, is daarop gemik om die maatskaplike impak van die krisis te versag en is noodsaaklik, gegewe die armoede waarin mense verkeer en omdat die inkomste van baie persone saam met werkgeleenthede in die ekonomiese gat verdwyn het. Dit is ook in ooreenstemming met die beleid van die afgelope 26 jaar waar groei op verbruik eerder as produksie gegrond is.

Dit is egter slegs ’n korttermynoplossing en bied nie langtermynoplossings vir die onderliggende ekonomiese probleme nie.

Die belangrikste van dié probleme is:

  • Swak onderwys- en opleidingstandaarde, wat verder deur die Covid-19-krisis beklemtoon word terwyl die verskil tussen gemeenskappe wat toegang tot goeie kommunikasie het al dan nie, vererger;
  • Die werkloosheidsvlakke neem toe hoe langer die inperking duur. Sal dit die regering en vakbonde tot ’n meer soepel arbeidsbedeling dwing en lone wat buite verhouding tot produktiwiteit is, regstel?
  • Toenemende armoede en gepaardgaande maatskaplike probleme wat weens die huidige ekonomiese krisis in die komende maande en jare verder verdiep;
  • Oormatige politieke staatsinmenging op alle vlakke van die ekonomie wat investering en groei benadeel;
  • Wanfunksionele plaaslike bestuur wat jaarliks tariewe en belastings verhoog sonder dienooreenkomstige verbetering in die dienste wat gelewer word;
  • Wanfunksionele staatsondernemings wat die staatskas leeg suig. Sal die politieke inmenging in die bestuur van hierdie ondernemings gestop word?;
  • Agteruitgang van die infrastruktuur, veral weens gebrekkige instandhouding;
  • Gesondheidsdienste wat grootliks verwaarloos is, het miskien tydens die krisis verbeter. Die viruskrisis beteken wel dat die finansies om die onbekostigbare Nasionale Gesondheidsversekeringskema in te stel, ook daarmee heen is!

Die toekoms?

Die huidige krisis is gevaarlik in die sin dat die regerende party onder die indruk verkeer dat hy alles en almal kan beheer.

Mense is wel baie aanpasbaar. Dié wat die huidige ekonomiese en gesondheidskrisis oorleef, sal weer nuwe planne maak en suksesvol wees. Hopelik gebeur dit ook op politieke terrein en word besluite geneem wat die ekonomie op ’n gesonde grondslag vir groei plaas en word die ekonomie nie doodgewurg deur die oormatige beheer wat politici die laaste 26 jaar probeer toepas het nie.

Daar bestaan sekere ekonomiese realiteite waaraan niemand, nie politici, medici of die koronavirus kan ontsnap nie. Hopelik leer die huidige intense krisis ons hierdie lesse!

* Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.