Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: SA se ekonomiese vryheid gly

Die tyd het aangebreek dat die private sektor en die burgerlike samelewing saamstaan om ekonomiese vryheid terug te neem van die staat af.

Suid-Afrika het met betrekking tot ’n internasionaal-erkende metodiek, die Indeks van Ekonomiese Vryheid, die afgelope paar jaar agteruit geboer, soveel so dat hy nou geplaas word in die groep lande wat nie ekonomiese vryheid het nie.

Ons is nie eens in die groep wat as “meestal vry” klassifiseer kan word nie. Die jongste indeks wys ons het verswak na onder die wêreldgemiddelde. Uit die 175 lande wat geëvalueer word, word ons op nommer 102 geplaas. Die indeks meet ’n aantal aspekte – onder meer staatsvoorskrifte en -inmenging in die ekonomie asook belangrike pilare van ’n goeie werkende ekonomie wat welvaart bevorder.

Die grafiek hierby wys hoe staatskuld toegeneem en ekonomiese groei afgeneem het namate die staat al hoe meer inmeng, die private sektor uitdruk en markkragte onderdruk met ’n erkende sosialisties/kommunisties-geïnspireerde beleid.

Die beleidsrigting word nou bykans 25 jaar lank probeer en die ellende van werkloosheid, stygende staatskuld en ekonomiese insinking word net al hoe groter. Die tyd het aangebreek dat dié beleidsrigting nek omgedraai word en dat ons as burgerlike samelewing en private sektor ekonomiese vryheid terugeis.

Ekonomiese groei
Ekonomiese groei

Hoe doen ’n mens dit?

Daar kan begin word deur die insolvente staatsondernemings te privatiseer/verkoop of toe te maak (waaroor daar nou al etlike jare getob word).

Die tweede stap is om die private sektor toe te laat om betrokke te raak by die verskaffing van water en sanitasie in dorpe en stede, asook elektrisiteitsverskaffing, soos in ander lande waar die ekonomie sterk groei en ’n groot mate van ekonomiese vryheid heers.

Die staat kan dan eerder as om die groot subsidies aan munisipaliteite (wat dit steel en mors) te betaal, dit aan die private sektor betaal sodat hulle gesubsidieerde dienste aan die armes kan lewer.

Dit is nie toevallig dat lande wat ekonomies groei en welvaart skep vir hul bevolkings dié lande is goed vaar op die Indeks vir Ekonomiese Vryheid nie.

Die indeks word sedert 1995 gepubliseer op grond van wetenskaplike navorsing en data. Dit probeer bepaal watter faktore ’n ekonomie laat groei en ’n bevolking welvarend maak.

Die navorsing toon ’n baie hoë korrelasie tussen ekonomiese groei en welvaart aan die een kant en die boustene van ekonomiese vryheid aan die ander kant, naamlik die oppergesag van die reg, beperkte staatsinmenging, doeltreffende regulatoriese inmenging, asook oop handel en markte.

Ekonomieë met ’n hoë mate van ekonomiese vryheid floreer omdat kapitalisme die vermoë van individue en organisasies ontsluit om te innoveer en vooruit te gaan. Die vryemarkstelsel bevorder die doeltreffendste toewysing van hulpbronne (natuurlik binne beperkte riglyne) en gee die grootste moontlike keuse vir produksie en verbruik. Kortom, ekonomiese vryheid is een van die basiese vereistes vir ekonomiese groei en welvaartskepping.

Ekonomiese groei
Ekonomiese groei

Suid-Afrika sak verder uit

Suid-Afrika word is nou op no. 102 uit 175 lande geplaas en val in die groep lande wat geklassifiseer word as “nie vry nie”.

Suid-Afrika het vanjaar ’n indekspunt van 58,3 behaal. Dit het die afgelope jaar met 4,7 indekspunte gedaal!

Die redes wat verskaf word, is:

  • Die verminderde doeltreffendheid van die oppergesag van die reg;
  • Die afname in fiskale gesondheid;
  • Die afname in eiendomsreg en onsekerheid daaroor;
  • Die skerp afname in regeringsintegriteit; en
  • ’n Afname in beleggingsvryheid.

Ons indekspunt is onder die wêreldgemiddelde van 60,8. Die meegaande tabel wys in watter liga Suid-Afrika hom bevind.

Die lande/gebiede wat die beste vaar en as vry beskou word, is:

  • Hongkong (90,2 indekspunte);
  • Singapoer (89,4);
  • Nieu-Seeland (84,4)
  • Switserland (81,9);
  • Australië (80,9); en * Ierland (80,5).
Ekonomiese groei
Ekonomiese groei

Let op die baie groot verskil in indekstellings tussen die lande met die hoogste ekonomiese vryheid en Suid-Afrika se telling – wat net bevestig hoe ons agteruit boer.

Dit is hoog tyd dat die private sektor en die burgerlike samelewing ophou om die regering ter wille te wees, want ons sak net verder in die moeras in.

Dit is nou tyd vir besluitneming en die inwerkingstelling van dié besluite om die Suid-Afrikaanse ekonomie en ons almal te red van absolute armoede en die ineenstorting van infrastruktuur.

  • Dr. Johan Willemse, ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants, is ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.