Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: SA se opsies raak al hoe minder

Dit is waarskynlik nou net ’n kwessie van tyd voordat Suid-Afrika volle rommelstatus sal hê.

Christo Lüus, ekonoom van Third Circle Batebestuur

Die graderingsagentskappe S&P en Fitch gee die land reeds ’n rommelgradering. Boonop het S&P onlangs sy vooruitsig vir die land se kredietgradering van stabiel na negatief verander. Moody’s hou nog die vlam van hoop brandend met sy een kerf bo niebeleggingsgraad, maar het ook sowat drie weke gelede sy vooruitsig na negatief verander. Dit is waarskynlik ’n voorloper vir die toekenning van niebeleggingsgraadstatus.

Dit bly egter ’n ope vraag in watter mate ’n Moody’s-afgradering reeds deur die rand-wisselkoers, aandeelpryse op die JSE en effektemark-opbrengskoerse verdiskonteer word. Daar is waarskynlik ’n mate van verdiskontering, maar die volle omvang van die gevolge van so ’n afgradering kan steeds verreikend wees.

sakesiening, rommelstatus

Sonder ’n S&P- of Moody’s-beleggingsgradering, sal Suid-Afrika weggelaat word uit die FTSE Wêreldindeks vir staatseffekte. Dit kan die verkoop van na raming sowat R200 miljard se staatseffekte tot gevolg hê; en dit te midde daarvan dat Suid-Afrika afhanklik bly van voldoende buitelandse beleggingsinvloei om die tekort op sy lopende rekening te finansier. Grootskaalse verkope van staatseffekte deur buitelanders kan boonop rentekoerse laat styg en die koste vir die staat om sy skuld te finansier, verder verhoog.

Hierdie ekstra uitgawes kom te midde van die R138 miljard wat die staat reeds bestee het of vir die volgende drie jaar toegewys het om Eskom te help. Die volle skuldlas van Eskom beloop nagenoeg R450 miljard waarvan sowat twee-derdes deur die staat gewaarborg word indien Eskom nie in staat is om sy skuld te vereffen of te diens nie.

Sommige navorsing toon dat BBP per capita in der waarheid die aanwyser is wat, statisties gesproke, die beste verklaring bied vir veranderings in risikogradering. En hier het dinge vir Suid-Afrika betreklik skeefgeloop oor die laaste paar jaar.
Luüs

Een manier om te probeer voorspel wat die gevolge van ’n risiko-afgradering kan inhou vir die opbrengskoerse (ook genoem langtermyn-rentekoerse) op staatseffekte, is om te kyk of daar ’n verwantskap tussen lande se reële rentekoerse op staatseffekte (dit wil sê rentekoerse aangepas vir inflasie) en hul risikograderings bestaan.

’n Deursnit-ontleding van 55 lande se jongste opbrengskoerse en risikograderings toon dat die statistiese verwantskap nie baie groot is nie, maar wel – soos te verwagte – negatief is. Met ander woorde, hoër langtermynrentekoerse gaan normaalweg gepaard met laer risikograderings. Indien die reële “ewewigsopbrengskoers” op Suid-Afrikaanse staatseffekte bereken word, behoort hierdie rentekoers nader aan 2% te wees, selfs al daal die land se gemiddelde risikogradering na 13. Dit veronderstel dus ’n nominale opbrengskoers op ’n staatseffek met ’n looptyd van tien jaar van sowat 6% vergeleke met die 8,5% wat tans geld.

Dit blyk dus dat daar waarskynlik reeds ’n premie op Suid-Afrikaanse staatseffekte-opbrengskoerse is. Van die 55 lande op die meegaande grafiek, is sewe ontluikende lande wat almal rommelstatus het, maar slegs een land, Kenia, se reële opbrengskoers is hoër as Suid-Afrika s’n. Een faktor wat wel in Suid-Afrika se guns tel, is dat slegs sowat 10% van die land se totale bruto staatskuld deur buitelanders besit word.

sakesiening, rommelstatus

Daar is tereg kommer oor die verloop van die staat se finansies die afgelope paar jaar. Fiskale tekorte bly hoog en beloop gemiddeld 4,4% van die bruto binnelandse produk (BBP) sedert 2010. Dit terwyl die staat ’n gemiddelde surplus van 0,3% van die BBP aangeteken het in die fiskale jare 2005-2009. Hierdie tekorte, tesame met buite-begrotingslenings en hulp aan staatsbeheerde instellings, het veroorsaak dat die staatskuld in rand oor hierdie tydperk met gemiddeld 16,2% per jaar toegeneem het. In Maart vanjaar het die bruto staatskuld bykans R2 800 miljard (57% van die BBP) beloop en alle aanduidings is dat dit sal styg tot nagenoeg 62% van die BBP teen Maart 2020.

Wat hierdie syfers so kommerwekkend maak, is die feit dat, indien die fiskale tekorte en ekonomiese groei nie drasties verbeter oor die volgende vyf of tien jaar nie, selfs net matige stygings (van sowat 1 persentasiepunt tot twee persentasiepunte) in staatseffekte-opbrengskoerse en inflasie, die staatskuld-tot-BBP-verhouding kan laat klim tot meer as 100% in 2025 en 150% teen 2030. Dit impliseer ’n sogenaamde staatskuldlokval.

Wat hierdie syfers so kommerwekkend maak, is die feit dat, indien die fiskale tekorte en ekonomiese groei nie drasties verbeter oor die volgende vyf of tien jaar nie, selfs net matige stygings in staatseffekte-opbrengskoerse en inflasie, die staatskuld-tot-BBP-verhouding kan laat klim tot meer as 100% in 2025 en 150% teen 2030.
Luüs

Heelwat internasionale navorsing oor die afgelope aantal jaar toon nietemin dat lande se fiskale tekorte en skuldsyfers maar van beperkte waarde is om aanpassings in die land se risikograderings te maak. Fiskale beleid is slegs een van vele beleidsaspekte en aanduiders wat agentskappe gebruik om by ’n bepaalde gradering uit te kom.

Sommige navorsing toon dat BBP per capita in der waarheid die aanwyser is wat, statisties gesproke, die beste verklaring bied vir veranderings in risikogradering. En hier het dinge vir Suid-Afrika betreklik skeefgeloop oor die laaste paar jaar: gedurende 2015-2018 het die verhouding met 1,1% per jaar gedaal, vergeleke met ’n styging van 1,9% per jaar gedurende 1994-2008.

’n Rommelstatusgradering is inderdaad nie die einde van die wêreld nie, maar soos gewoonlik, kom so ’n bykomende las op ’n uiters ongeleë tyd. Die regering se beleidsopsies om groei aan te wakker en sy finansies reg te ruk, raak inderdaad al hoe meer beperk.

  • Christo Luüs, ekonoom van Ecoquant, is ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Christo Luüs  |  Ekonoom  |  Ekonomie  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.