Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakesiening: Vakbonde se eise is suiwer waansin

Vakbonde in die staatsdiens vertoon ’n algehele gebrek aan begrip vir ekonomiese beginsels en die land se huidige ekonomiese situasie.

dr. Roelof Botha
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep. Foto: Charne Kemp

Om op ’n salarisverhoging van vier persentasiepunte meer as die inflasiekoers en ook ’n risikotoelae van 12% aan te dring (wat ’n verhoging van meer as 20% beteken), grens aan waansin.

Dit laat ’n mens besef hoe onredelik en arrogant die betrokke vakbonde is, veral aangesien daar sedert 2016 ’n reuse-gaping tussen die salarisse in die staatsdiens en dié in die private sektor ontstaan het.

So onlangs soos 2015 was die gemiddelde salaris in die private sektor nog effens hoër as in die openbare sektor (soos dit in die meerderheid van lande met vryemarkstelsels hoort).

In 2016 het die twee sektore gelyk getrek en daarna lag staatsamptenare al die pad bank toe, terwyl hul eweknieë in die private sektor, waar bykans ál Suid-Afrika se toegevoegde waarde in die ekonomie plaasvind, by swak ekonomiese toestande moes aanpas.

vergoeding

Gedurende die afgelope dekade het die gemiddelde salaris in die staatsdiens met 19% toegeneem (in reële waarde), terwyl dit in die private sektor met 5% gedaal het. Indien die vlakke van dienslewering en die effektiewe bydrae tot ekonomiese produksie in ag geneem word, is dié situasie 'n skreiende onreg.

Aanpasbaarheid verteenwoordig een van verskeie kernverskille tussen die private en die openbare sektor. Wanneer die ekonomie stadig of glad nie groei nie, verseker die inherente soepelheid van die markstelsel dat salarisse hierby aanpas, anders sal heelwat besighede eenvoudig bankrot speel, wat die ekonomie verder en ernstig sal benadeel.

In die staatsdiens is dit egter ’n perd van ’n ander kleur, soos duidelik in die pandemie-tydperk bewys is.

Van minder verdien weens die penarie waarin nasionale tesourie verkeer, was daar geen sprake nie, maar wel ’n rits belaglike eise vir meer geld en voordele.

Die aanhoudende en onlangse skerp styging in die staat se skuldlas dien as onteenseglike bewys dat salarisverhogings in die openbare sektor nie bekostig kan word nie.

staatskuld

Dié skuldlas is op pad na 100% van die land se bruto binnelandse produk (BBP), waarna die regering se vermoë om die ouderdomspensioen te betaal, in gedrang kan kom en ’n teelaarde vir maatskaplike onrus kan skep.

Dit is werklikheidsvreemd dat staatsdiensvakbonde hulle glad nie aan dié toedrag van sake steur nie en ook skynbaar onbewus is daarvan dat die meerderheid werknemers in die private sektor tydens die ergste van die pandemie bereid was om laer besoldiging te aanvaar.

Margaret Thatcher
Margaret Thatcher, Britse premier in die 1980's, saam met haar destydse minister van buitelandse sake, Geoffrey Howe.

Margaret Thatcher, ’n voormalige staatshoof van Engeland, het 50 jaar gelede ’n kernbestanddeel van ’n resep verskaf vir groei-gerigte ekonomiese beleid en hoër produktiwiteit, naamlik deregulering, veral van arbeidswetgewing.

Wanneer vakbonde oor te veel seggenskap in ’n land beskik, kan dit ekonomiese groei benadeel en ook inflasie aanwakker. Thatcher se beleid het binne ’n dekade gesorg dat Engeland se ekonomie (destyds die vyfde grootste ter wêreld, maar wat op sy knieë was) weer behoorlik groei en dat welvaart verhoog word.

Klinkklare maatstawwe om doeltreffendheid en produktiwiteit te meet, is meesal in die openbare sektor afwesig, in teenstelling met die private sektor, waar wegkruipertjie nie gespeel kan word nie.

In die private sektor bestaan daar ’n noue verband tussen besoldiging en die waarde wat die betrokke werknemer tot omset voeg.

In die staatsdiens is dié kruiskontrole grootliks afwesig.

Tensy daar behoorlike leierskap en bekwame werknemers is wat duidelike doelwitte in landsbelang nastreef, sal belastingbetalers uiteindelik pa staan vir die groot mate van verkwisting van openbare geld wat hieruit kan voortspruit.

Talle poste in die staatsdiens is weens tegnologiese vooruitgang, die gedurige verandering in die samestelling van die BBP en ’n kombinasie van nepotisme en kader-ontplooiing van nul en gener waarde en behoort spoedeisend afgeskaf te word.

As vertrekpunt behoort die regering egter dringend aandag aan die wysiging van arbeidswetgewing te skenk sodat die ekonomie nie deur onsinnige vakbonde lamgelê kan word nie.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep. Hy is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die jaar-wedstryd.
Meer oor:  Margaret Thatcher  |  Dr. Roelof Botha  |  Staatsdiens  |  Sakesiening  |  Ekonomie  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.