Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Saketoeriste is goud werd vir SA

Ontwikkelende ekonomieë besef sake-toerisme is ’n belangrike komponent van hul toekomstige ekonomiese groei en daarom fokus al hoe meer Afrika-regerings daarop om meer saketoeriste te lok vir vergaderings, konferensies en uitstallings, sê die konsultantegroep PwC.

Dít doen hulle deur onder meer infrastruktuur en geriewe vir sulke byeenkomste te verbeter en meer vlugroetes na hul lande te verseker, sê Pietro Calicchio, hoof van die gasvryheidsektor van PwC Suider-Afrika.

Die Michelangelo-hotel in Sandton is bekend as een van die luuksste hotelle in Johannesburg en huisves dikwels bekendes. Foto: Bloomberg via Getty Images

PwC se jongste hotelvooruitsig vir Suid-Afrika, Nigerië, Mauritius, Kenia en Tanzanië tot 2023 wat verlede week bekend gestel is, wys Suid-Afrika doen ook baie om sake-toerisme uit te brei, sê hy.

Van ’n totaal van sowat 360 konferensies in Afrika in 2017, was die meeste in Suid-Afrika (122), gevolg deur Marokko (33) en Rwanda (21), het Esmaré Steinhöfel, Afrika-direkteur van die internasionale vereniging van kongresse en konvensies (ICCA), verlede jaar op ’n konferensie in Stellenbosch gesê.

Wat Afrika-stede betref, was Kaapstad die gewildste met 53 konferensies, gevolg deur Johannesburg (23) en Kigali in Rwanda (21).

Tussen 2008 en 2017 is die meeste van die sowat 360 konferensies by hotelle se konferensiegeriewe gehou, gevolg deur konferensie- of uitstalsentrums, sê sy.

PwC voorspel buitelandse toeriste sal oor die volgende vyf jaar stelselmatig toeneem teen 2,9% per jaar tot 12,1 miljoen in 2023. Verlede jaar was die syfer 10,5 miljoen.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was 94,9% van dié buitelanders hier vir vakansie, 1,8% vir werk en 1,7% vir sake. Van die sakereisigers wat hierheen gekom het, was 17,6% van Brittanje.

In 2017 was 94,1% van buitelandse toeriste in Suid-Afrika hier vir vakansie, 2,3% vir werk en 1,8% vir sake.

Amanda Kotze-Nhlapo, hoof van die nasionale konvensie-buro (SANCB), wat mense help en raad gee wat sakegeleenthede in Suid-Afrika wil aanbied, het op die Stellenbosch-konferensie gesê tussen 2014 en 2016 het tot 30% van kongres-afgevaardigdes voor en ná die konferensie in Suid-Afrika vakansie gehou en in dié tyd gemiddeld R12 600 per persoon aan verblyf, toere en inkopies bestee.

Hulle bly gemiddeld vyf nagte in hotelle as deel van die konferensie, gemiddeld 3,5 nagte op hul eie voor die konferensie begin en nog sowat 3,6 nagte ná die geleentheid, blyk uit SANCB-syfers.

Volgens die SANCB bly sowat 80% van buitelandse kongres-afgevaardigdes in Suid-Afrikaanse hotelle.

Calicchio sê op grond van korporatiewe beleid oor reis, kan verwag word dat die meeste sakereisigers in vierster- en bekende driesterhotelle tuisgaan en dat vyfsterhotelle die buitelandse sakereisigers sal lok.

Hy sê Suid-Afrika het ’n groot verskeidenheid hotelle geskik vir sakereisigers met geriewe soos gratis WiFi, vergaderkamers, buigsame etenstye en oefengeriewe.

In syfers
  • Volgens PwC het Suid-Afrika se viersterhotelle verlede jaar 2,4% meer uit kamerverhurings verdien as in 2017.
  • Vyfsterhotelle het egter 11,1% minder verdien – deels weens die droogte in Kaapstad en die swak ekonomie in die algemeen.
  • Die totale inkomste uit kamerverhurings was R16,7 miljard en kan in die volgende vyf jaar jaarliks met 3,4% styg tot R19,8 miljard teen 2023. Die syfer sluit inkomste uit kos, drinkgoed en ander dienste uit.

Calicchio sê Suid-Afrika is reeds gevestig as Afrika se voorste konferensiebestemming.

Kaapstad is onder die top-50-konferensiestede ter wêreld.

In September vanjaar bied die Wêreld- Ekonomiese Forum sy Afrika-byeenkoms in Kaapstad aan, wat ’n uitstekende geleentheid is om Afrika te bemark as ’n bestemming wat ’n ongelooflike reiservaring bied, maar ook gerat is vir sake- en wêreldkonferensies.

Buiten ervarings, is beskikbare infrastruktuur soos konferensiesentrums, verblyf en beskikbare vlugte belangrik wanneer bestemmings vir konferensies gekies word.

Vir Suid-Afrika om meer sake-toeriste te lok, moet dit makliker wees om ’n visum te kry, En sakereisigers se veiligheid en sekuriteit moet verseker word, sê hy.

Calicchio sê wat hotelbesprekings in die algemeen betref, maak aanlyn geriewe dit vir reisigers makliker om hul eie reise te beplan en pryse te vergelyk.

Dit gaan in die volgende paar jaar ’n impak hê op die groei in die gemiddelde daaglikse kamertarief (bekend as ADR, wat verwys na die gemiddelde inkomste per besette kamer in ’n bepaalde tyd).

Hotelle aan die laer end van die mark kan ook al hoe meer mededinging van Airbnb-instellings verwag.

Meer oor:  Pwc  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Visums  |  Toerismebedryf  |  Visumregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.