Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakevertroue by 2009-resessie se laagtepunt

Sakevertroue het in die tweede kwartaal vasgesteek op die kommerwekkend lae 28 punte wat dit in die eerste kwartaal bereik het.

ekonomie
Sakevertroue staan nou net 'n punt bo die laagste vlak sedert die resessie van 2009, wat deur die internasionale finansiële krisis veroorsaak is. Foto: Getty Images

In Maart is berig sakevertroue soos gemeet deur RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek het in die eerste kwartaal tot die laagste vlak in twee jaar gedaal. In 2017 se tweede kwartaal was die indeks op 27 punte, die laagste sedert die resessie van 2009, wat deur die internasionale finansiële krisis veroorsaak is.

“Dit beteken meer as sewe uit tien van die deelnemers aan die peiling is ontevrede met die huidige saketoestande,” sê Ettienne le Roux, hoofekonoom van RMB.

Die indeks toon die resultate van ’n peiling onder 1 800 sakelui.

Die meeste van die inligting is tussen middel Mei en begin Junie ontvang.

Die sentiment het in die boubedryf, die kleinhandel en groothandel verbeter.

Die verbetering is egter teengewerk deur ’n hernude skerp daling in die vertroue van handelaars van nuwe voertuie terwyl die vertroue van vervaardigers verder gedaal het.

Suid-Afrika gaan nie van rat verander na volgehoue hoër groei sonder meer korttermyn-pyn nie.
Ettienne le Roux, hoofekonoom van RMB

Vervaardigers se vertroue is op die laagste vlak sedert die vierde kwartaal van 2017.

Volgens hom is dit merkwaardig hoe sakeaktiwiteit van ’n reeds bedrukte vlak verder agteruitgegaan het. Verkope het in elk van die vyf sektore wat gemeet word agteruitgegaan. Dit was veral sigbaar onder vervaardigers, kleinhandelaars en motorhandelaars.

“Dit is ook opvallend hoe moeilik dit steeds vir baie deelnemers is om hoër koste na verbruikers deur te gee.”

Hy sê die resultate van die peiling beperk die hoop op ’n sterk herstel van die inkrimping van 3,2% in die eerste kwartaal in die bruto binnelandse produk (BBP).

Le Roux sê pres. Cyril Ramaphosa se inisiatiewe om korrupsie te ontbloot en te bekamp, plus die inisiatiewe wat spruit uit die beleggings- en werkberaad van 2018, gaan tyd neem om die gewenste uitkomste te lewer.

Hy meen kragtige en in sommige gevalle ongewilde strukturele hervorming moet deel wees van die inisiatiewe.

“Suid-Afrika gaan nie van rat verander na volgehoue hoër groei sonder meer korttermyn-pyn nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.