Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakevertroue nou laagste sedert apartheid – SAKKN

Nog ’n maatstaf wat aandui hoe swak sakevertroue in die land tans is, het in Augustus tot sy laagste vlak in langer as drie dekades gedaal.

Alan Mukoki, hoof van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en -Nywerheid. Foto: Cornel van Heerden

Die indeks van sakevertroue van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN), wat elke maand uitgereik word, was in Augustus amper so laag as wat dit laas in April 1985 was.

Die indeks het van 92 punte in Julie vanjaar tot 89,1 punte in Augustus gedaal.

Bloomberg berig dit is die laagste sedert desinvestering in die land weens die apartheidsbeleid plaasgevind het. Dit was die jaar toe die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad sy lede gevra het om verdere verreikende ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika in te stel.

Netwerk24 het vroeër Woensdag berig oor nog ’n indeks oor sakevertroue wat tot sy laagste vlak in 20 jaar getuimel het. Dié indeks van RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) word op grond van ’n peiling saamgestel waaraan 1 800 sakelui deelgeneem het.

LEES OOK: Sakelui se vertroue tuimel tot laagste in 20 jaar.

Die SAKKN se indeks van sakevertroue word saamgestel uit 13 aanwysers wat ’n aanduiding gee van die heersende sakeklimaat. Dit is kragverskaffing, vervaardiging, uitvoer, invoer, motorverkope, kleinhandelverkope, konstruksie, inflasie, aandeelpryse, lenings in die private sektor, finansieringskoste, edelmetaal se pryse, en die wisselkoers.

Sewe van dié sub-indekse het op ’n maandgrondslag agteruitgegaan en ses is swakker as ’n jaar gelede.

Uitvoer, die swakker rand en ’n daling in aandeelpryse op die JSE was van die faktore wat veral maand tot maand negatief vertoon het.

“Hoewel die ekonomie ’n resessie in die tweede kwartaal vrygespring het, is dit nog nie tyd om te ontspan nie. Dit is omdat groei in die tweede kwartaal deur eksterne faktore aangedryf is, en dit nie in reaksie was op spesifieke stappe deur die regering en die sakebedryf nie.

“Die probleme wat lei tot lae groei, duur voort en moet dringend aandag kry.

“Die ekonomie het die implementering van beleid dringend nodig om die ekonomie aan die gang te kry en werk te skep,” het Alan Mukoki, uitvoerende hoof, en Richard Downing, ekonoom van die SAKKN, gesê.

“Die huidige stand van die fiskale gebreke, maatskaplike ongelykheid en werkloosheid vereis ’n dringende verandering oor hoe die impak daarvan beskou word. Dit is nie meer net ekonomiese terme wat bestudeer moet word nie. Dit is waarskynlik die gevolg van gewelddadige misdaad, plundering en die xenofobiese aanvalle wat tans in die nuus is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.