Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakevertroue val weer: Dis ‘Catch-22’

Sakevertroue het in Julie tot die tweede laagste vlak nóg vanjaar geval.

Alan Mukoki, hoof van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN). Foto: Cornél van Heerden

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) se indeks het vanaf Junie tot Julie met 1,3 punte tot 92 punte gedaal. Dis ook 2,7 punte laer as in Julie verlede jaar.

Die laagste vlak nóg vanjaar was 91,8 punte in Maart en die hoogste 95,1 in Januarie.

Sakevertroue en die ekonomie is in ’n Catch-22-situasie vasgevang: Sonder ’n verbetering in die ekonomie bly maatskappye lugtig om uit te brei, en as maatskappye nie groei nie, kan die ekonomie en indiensneming ook nie verbeter nie.

Richard Downing, die ekonoom wat die indeks saamstel, sê die veelseggendste aanduiding van wat in die ekonomie verkeerd is, is die werkloosheidsyfers wat Statistieke Suid-Afrika verlede week uitgereik het. Daarvolgens het werkloosheid tot 29% opgeskiet, of tot 38,5% as ontmoedigde werksoekers ook in berekening gebring word.

Alan Mukoki, uitvoerende hoof van die SAKKN, sê ná die Mei-verkiesing was die verwagtinge baie hoog dat die “nuwe regering” onder pres. Cyril Ramaphosa sal oorgaan tot die inwerkingstelling van beleid wat ekonomiese groei, werkskepping, armoedeverligting en misdaad sal aanpak.

“Die hoë vlakke van optimisme wat net ná pres. Ramaphosa se verkiesing bestaan het, word geraak deur aanduidings dat die regerende party verdeeld is op grond van beleids-, politieke en faksielinies, en dat dié verdelings ’n regstreekse impak op die regering se doeltreffendheid het wat die inwerkingstelling van beleid en die bestuur van die fiskus betref.

“Die swak finansiële posisie van staatsondernemings en munisipaliteite, waaroor wyd berig is, was en bly ’n groot bron van kommer.”

Die manier hoe die regering mense in bestuursposte by staatsondernemings en munisipaliteite aanstel, is een van die grootste redes vir hul probleme, sê Mukoki. Hy sê bevoegde bestuur en direkteure moet “onafhanklik” aangestel word.

Die SAKKN meet 13 faktore om by die indekspunt uit te kom. Sedert Junie het vier faktore verbeter, ses het verswak en drie was onveranderd. Die versterking van die rand in die eerste deel van Junie en ’n stewige styging in kleinhandelverkope volgens volume tel onder die positiewe faktore, terwyl die daling in invoervolumes, nuwevoertuigverkope en die reële waarde van bouplanne wat goedgekeur is, die indeks afgerem het.

Die SAKKN is versigtig optimisties dat die Reserwebank se besluit einde Junie om die rentekoers met 0,25 van ’n persentasiepunt te verlaag, die sakeklimaat sal verbeter.

Downing sê die debat oor grondhervorming en die moontlike wysiging van die Grondwet (om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik) saai steeds onsekerheid oor ekonomiese beleid, en wys teenstrydighede uit.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Sakevertroue  |  Sakkn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.