Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakpas-Sake: Krag, note en minder vertroue
Steenkool is nie Woensdag by van Eskom se kragstasies afgelewer nie weens betogings.

Hier is wat jy misgeloop het as jy nie Woensdag Sake gelees het nie en wat jy Donderdag kan verwag.

Suid-Afrika, en die bestuur van Eskom, hou asem op om te sien of die staking oor lone die land se ligte gaan laat afgaan of nie.

Dit lyk ook of die ligte afgegaan het wanneer dit by sakevertroue in die land kom.

1. Eskom: ‘Geen waarborg’ dat ligte aanbly

Sommige steenkoolkragsentrales het nie Woensdag steenkool afgelewer gekry nie weens die intimidasie van werkers, het Thava Govender, hoof van kragopwekking by Eskom, Woensdag op ’n nuuskonferensie erken.

Eskom kan nie waarborg dat daar glad nie Woensdagaand of Donderdag kragonderbrekings sal wees weens die intimidasie en arbeidsonrus nie, het Govender gewaarsku.

Dit kom terwyl die vakbonde Numsa en die NUM dreig om te staak, selfs al word kragopwekking as ’n noodsaaklike diens beskou.

Lees ook:Eskom se baas: Ons móét koste besnoei

2. SA verbruikers sukkel om te oorleef

Die Suid-Afrikaanse verbruiker is onder ernstige druk, volgens BankservAfrica se jongste indeks van ekonomiese transaksies (Beti).

Die indeks, wat kontantonttrekkings en ander maniere meet waarop mense en ondernemings geld heen en weer skuif, het in Mei sy skerpste maandelikse daling (-2%) sedert September 2013 aangeteken.

3. Sakevertroue wys Ramaforie het verdamp

Pres. Cyril Ramaphosa se wittebrood is verby. Sakevertroue – waarsonder maatskappye nie aggressief uitbrei nie en die ekonomie nie kan groei nie – het byna al die veld verloor wat dit in die eerste kwartaal gewen het.

Volgens die indeks van sakevertroue wat die RMB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch saamstel, het sakevertroue in die tweede kwartaal tot 39 teruggeval.

4. Gedenknote van Mandela vroeg onthul

Iemand het die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se verrassing bederf.

Die Bank sou op 13 Julie sy eerste stel geldnote, ter viering van ’n eeu sedert oudpres. Nelson Mandela se geboortedag, onthul. ’n Spesiale R5-munt sal ook deel van die herdenking wees.

5. 10 goed wat jy nie geweet het Facebook van jou weet

In ’n dokument van meer as 200 bladsye reageer Facebook op die meer as 2 000 vrae wat die Amerikaanse senaat aan sy uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, gestel het oor die manier waarop die sosiale netwerk gebruikers se data versamel en gebruik.

Van die besonderhede was te wagte, soos dat Facebook meet hoeveel tyd gebruikers op die platform bestee en of hulle op enige advertensies kliek.

Donderdag op die nuuslys

Statistieke Suid-Afrika reik die nuutste syfers vir groothandel, mynbou en motorverkope uit.

Meer oor:  Facebook  |  Eskom  |  Cyril Ramaphosa  |  Sakevertroue  |  Staking  |  Kragonderbreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.