
Hamleys se winkel in Mall of Africa kort nadat hy sy deure gesluit het.
Elvira Wood
Hier is wat jy misgeloop het as jy nie Woensdag Sake gelees het nie en wat jy Donderdag kan verwag.
Het jy al ooit ’n geskenk gekry by ’n kliënt of ’n kontrakteur? Verklaar jy wat jy gekry het? Ministers kry soms interessante geskenke blyk dit uit die onlangse openbaarmakings aan die parlement.
1. Hamleys: SA baas vat glo pad met miljoene
Die grootbaas van Hamleys in Suid-Afrika het glo in Desember die groep speelgoedwinkels se bankrekeninge leeggemaak en al die kontant by die winkels gevat.
Philip Paphitis, uitvoerende hoof van Ensolor en ook die maatskappy se enigste direkteur, het sedertdien na bewering spoorloos met al die geld verdwyn. Ensolor is die maatskappy wat Hamleys in Suid-Afrika bedryf.
Lees ook: Hoop vir Hamleys, ondanks beweerde strooptog
2. Staking by Comair dreig voor Paasnaweek
Comair het passasiers die versekering gegee dat ’n dreigende staking by lughawens nie Paasnaweekreise sal ontwrig nie. Hy stel wel voor dat passasiers hul instapkaarte aanlyn bespreek om vertragings te vermy..
Comair bring ’n dringende interdik in die arbeidshof teen die metaalwerkersvakbond Numsa, wat beplan om voor die Paasnaweek met die staking te begin.
Die partye vergader ook Donderdag om 10:00 om die kwessie te bespreek.
3. Perk op brandstofprys word nog ondersoek
Die departement van energie ondersoek nog die moontlikheid om ’n perk op die petrolprys in te stel. ’n Aankondiging hieroor sal mettertyd gedoen word, het ’n woordvoerder van die departement aan Fin24 gesê.
4. YouTube ‘baie gewilder as Netflix, Showmax’
Vinniger en goedkoper internetverbindings dryf Suid-Afrikaners in hul derduisende na aanlyn stromingsplatforms, spesifiek YouTube.
Volgens Rachel Thompson, direkteur van insig by die marknavorsingsfirma Gfk South Africa, kyk nege uit tien Suid-Afrikaners wat aan die internet verbind is op ’n gereelde grondslag na video’s op YouTube.
5.Vodka, sokkies en ’n mes: LP’s verklaar hul geskenke
Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake, het ’n bottel Beluga Vodka van R1 400 van die Russiese ambassadeur ontvang, wys die register van ledebelange van 2018 wat die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange Woensdag uitgereik het.
Die komitee sê die sperdatum vir indiening van openbaarmakingsvorms vir dié register het al op 10 Oktober gesluit, maar hy het besluit om steeds alle openbaarmakings wat ná dié datum ontvang is te aanvaar en in die register in te sluit.