Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakpas-Sake: Studies, troues en die bank
Vega Gupta, susterskind van die superryk Gupta-broers, en die bruidegom, Aakash Jahajgarhia.

Hier is wat jy misgeloop het as jy nie Maandag Sake gelees het nie en wat jy Dinsdag kan verwag.

Sal jy nie ook daarvan hou as iemand jou “help” met ’n MBA-graad nie?

Dit lyk of dié “gelukkie” wel een van Transnet se base beskore was.

Dit lyk of die Guptas ook ’n “gelukkie” gehad het om vir die nou berugte troue by Sun City te betaal.

1. Konsultant het Transnet-baas met sy MBA gehelp

Die internasionale konsultasiefirma McKinsey het erken hy het Siyabonga Gama, uitvoerende hoof van Transnet, gehelp met die voorbereiding van ’n deel van sy tesis om sy MBA-graad te behaal.

Maar Gama sê die hulp was niks meer as om die taalgebruik na te gaan nie.

“Ons het die Suid-Afrikaanse owerheid verlede jaar ingelig dat ons interne ondersoek bewyse gevind het dat ’n McKinsey-vennoot navorsingsteun gekoördineer en maatskappyhulpbronne gebruik het om te help met die opstel van ’n kliënt se MBA-kursuswerk,” het ’n McKinseywoordvoerder gesê.

2. Belasting dalk ontduik met betaling vir Gupta-troue

Die betaling vir die berugte Gupta-troue bly die kern van die tugverhoor van ’n voormalige KPMG-ouditeur wat die boeke gedoen het vir firmas wat aan die familie behoort.

Jacques Wessels, wat Linkway Trading geouditeer het, moet op ses klagte van onbehoorlike gedrag en belastingontduiking antwoord. Die Onafhanklike Regulatoriese Raad van Ouditeurs (Irba) het die klagte aanhangig gemaak.

Linkway Trading, wat aan die Guptas behoort, het na bewering geld wat vir die Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat bestem was, gebruik om vir die troue van meer as R30 miljoen te betaal.

3. Absa bly positief, ondanks trae groei in inkomste

Die eerste stel resultate wat die bank Absa se moedermaatskappy onder die naam Absa Group uitreik, is niks om oor huis toe te skryf nie.

Die bank is egter geesdriftig oor die potensiaal wat die ontbondeling van die Britse bank Barclays inhou en oor sy korporatiewe herorganisasie, insluitende oor sy nuwe fokus op digitale bankdienste.

4. Nuwe ‘swart’ nuuskanaal vir DStv nog soek

MultiChoice het nog nie finaal besluit wie die omstrede nuuskanaal ANN7, wat sedert einde April as Afro Worldview bekend staan, later vandeesmaand gaan vervang nie.

MultiChoice het reeds in Januarie gesê hy gaan nie sy kontrak met ANN7 hernu nie. Dit loop op 20 Augustus ten einde.

Die uitsaaier het Maandag by navraag gesê die proses om ’n suksesvolle bieër vir ’n nuwe nuuskanaal te vind, is nog nie afgehandel nie, al is daar nog net twee weke oor voor Afro Worldview van die lug gehaal word.

5. Vroue sien rooi oor Fitbit-fout

’n Fitbit-funksie waarmee vroue hul maandstonde kan naspoor, loop deur onder heftige kritiek.

Die Fitbit-fiksheidsbandjie se meegaande app laat vroue toe om hul siklus op ’n kalender aan te dui, maar net vir tien dae per maand.

Dinsdag op die nuuslys

Statistieke Suid-Afrika maak die jongste vervaardigingsyfers bekend.

Consulta maak sy verbruikersvertroue-indeks in Centurion bekend.

Nedbank maak sy halfjaarresultate bekend.

Meer oor:  Dstv  |  Transnet  |  Absa  |  Ann7  |  Fitbit  |  Siyabonga Gama  |  Guptas  |  Mba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.