Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sakpas-Sake: Velskoene, winkels en vrot appels
Ed Kieswetter
Ed Kieswetter, wat pas as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel is.

Hier is wat jy misgeloop het as jy nie die naweek Sake gelees het nie en wat jy dié week kan verwag.

Het jy ’n paar “vellies” waarmee jy letterlik die wêreld al platgetrap het?

Dié skoene – wat ’n gunsteling in Suid-Afrika is – begin ook nou spore in “verre lande” maak.

1. Die beskeie velskoen toer na Amerika

Die Kaapse aanlyn velskoenverspreiders DORP het nou die Amerikaanse mark betree met sy velliehandelsmerk Veldskoen, met die steun van die bekende Amerikaanse belegger Mark Cuban en sy vennote Angela en Steve Watts.

Cuban is die eienaar van die Amerikaanse professionele basketbalspan die Dallas Mavericks en mede-aanbieder van die entrepreneur-werklikheidsprogram Shark Tank.

2. Buitelandse winkels blaas aftog in SA

Van die vlaag buitelandse kleinhandelaars wat die land die afgelope paar jaar met groot trompetgeskal binnegekom het, is talle gedwing om die aftog te blaas.

Vanjaar alleen het Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts druipstert hul deure gesluit ná ’n powere vertoning, terwyl die toekoms van die wêreldbekende speelgoedwinkelgroep Hamleys ook hier onseker is. Die groep het reeds sy winkels in Nelson Mandela Square en in die Mall of Africa toegemaak nadat die Suid-Afrikaanse maatskappy Ensolor, wat Hamleys plaaslik bedryf, in Februarie in sakeredding geplaas is.

3. Duur petrol laat mense hul motors langer ry

Ghana Msibi, hoof van WesBank se motorafdeling, sê die swakker rand en onsekerheid oor ’n moontlike kredietafgradering deur Moody’s het Maart se nuwevoertuigverkope sleg getref en onderdruk steeds sake- en verbruikersvertroue.

Omdat verbruikers se finansies knyp, ry hulle hul voertuie langer.

4. SAID: ‘Geen plek vir vrot appels’

Edward Kieswetter, die land se nuwe belastingbaas, het oorlog verklaar teen staatskapers in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en hy het reeds Donderdag met adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, vergader.

Hy stem saam met Suid-Afrikaners wat mense nou wil sien tronk toe gaan.

Kieswetter, aangewese kommissaris van die SAID, het in ’n onderhoud ook reeds ’n waarskuwing aan ministers en burgemeesters gerig oor hul besteding van belastingbetalers se geld.

5. Eskom se bodemlose put kort nóg R250 mjd.

Selfs ná ’n belastingreddingsboei van R69 miljard en hemelhoë tariefverhogings vir die volgende drie jaar, kort Eskom steeds R250 miljard om sy skuld af te betaal.

Trouens, prof. Anton Eberhard, die voorsitter van pres. Cyril Ramaphosa se taakspan vir Eskom se volhoubaarheid, bevestig Eskom is in niks anders as ’n “doodspiraal” nie.

Dié week op die nuuslys

  • Die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie hervat sy openbare sittings in Pretoria.
  • Die kredietgradeerder Standard & Poor’s hou Dinsdag sy jaarlikse konferensie in Rosebank, Johannesburg, waar hy Suid-Afrika se kredietgradering bespreek.
  • Statistieke Suid-Afrika maak Donderdag die nuutste mynbou- en vervaardigingsyfers bekend.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.