
Suid-Afrikaners hou nog steeds van hul kitskos soos hamburgers.
Hier is wat jy misgeloop het as jy nie Maandag Sake gelees het nie en wat jy Dinsdag kan verwag.
Suid-Afrika was dié week behoorlik aan die gons oor die omstrede video van Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, wat op sosiale media gedeel is.
Om sout in sy wonde te smeer, het daar ook nou ’n advertensie die rondte begin doen wat nog verder die draak met hom steek.
Maar wie se advertensie is dit en is dit die waarheid?
1. Kartel: Daar’s ’n wors in die gras, sê kommissie
Die Mededingingskommissie het Maandag aangedui hy het twee maatskappye wat beesvleis verwerk na die Mededingingstribunaal verwys nadat hy bevind het hulle is skuldig aan onmededingende sakepraktyke.
Luidens ’n verklaring deur die kommissie is Irvin & Johnson (I&J) en Karan Beef daarvan beskuldig dat hulle “die mark verdeel in die verskaffing van verwerkte beesprodukte soos hamburgerfrikkadelle, biefstuk, worsies en boerewors”.
2. Shoprite toon ‘geen groei’ in derde kwartaal
Die Shoprite-groep het in die drie maande tot einde September geen groei getoon nie weens stakings, deflasie en probleme in Afrika.
Die groep voorspel egter goeie nuus vir verbruikers vir die feestyd wat voorlê omdat hy nie verwag dat voedselprysinflasie in sy winkels voor 2019 gaan styg nie.
3. ‘Advertensie oor Gigaba nie ons s’n,’ sê Nando’s
Die kitskosgroep Nando’s sê hoewel hy sy “aanhangers se entoesiasme waardeer”, is die advertensie vir ’n sogenaamde “Gigabite meal” wat wyd op sosiale media versprei word, nie eg nie.
Gigaba het die naweek erken dat ’n seksvideo van hom deur kuberkrakers van sy werkfoon af gesteel is.
4. KPMG verloor Nedbank as kliënt
Nedbank het aandeelhouers in kennis gestel dat KPMG van 2019 nie meer sy ouditeur gaan wees nie.
Dit hou verband met die reël van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) wat in Junie 2017 uitgereik is dat ondernemings van openbare belang verplig is om hul ouditfirmas te roteer. Die reël bepaal dat ’n ouditfirma nie langer as tien opeenvolgende jaar die ouditeur van so ’n maatskappy mag wees nie. Die reël tree April 2023 in werking.
5. Burger-probleme keer nie Famous Brands se wins
Suid-Afrikaners se liefde vir Debonairs Pizza, Wimpy, Steers, Mugg & Bean en Fishaways het verseker dat Famous Brands ’n winsgewende halfjaar agter die blad het.
Hulle is egter nie lus om altyd dieselfde pizza of burger te bestel nie en skroom nie om na ander restaurante te gaan as hulle glo daar is ’n beter aanbod teen ’n beter prys nie.
Dinsdag op die nuuslys
Statistieke Suid-Afrika maak Dinsdag die jongste syfers oor die finansies van tersiêre instellings, asook werkloosheidsyfers bekend.
Die Casinovereniging van Suid-Afrika (Casa) maak die jongste syfers bekend oor hoe dié sektor vaar.