Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘SAL kan totaal vou as sy skuld toeneem’
Een van die SAL se vliegtuie op die aanloopbaan by die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe. Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal waarskynlik in duie stort as sy skuld toeneem, waarsku James Peron, president van die Moorfield Storey-instituut.

Dr. Azar Jammine, hoofekonoom van Econometrix, sê baie lande het nie meer nasionale lugdienste nie.

“Vir die meeste lande, selfs Amerika, hou dit nie meer ’n strategiese voordeel in nie.”

Hy meen die lugdiens moet geprivatiseer word.

“Private aandeelhouers sal verseker dat hy doeltreffender bestuur word.”

Dit sal ook keer dat belastingbetalers se geld gebruik word om die lugdiens te red, sê hy.

Die nasionale tesourie het Vrydag aangekondig dat hy R3 miljard van die Nasionale Inkomstefonds gebruik sodat die lugdiens sy Citibank-lening kan terugbetaal.

Die tesourie het in ’n verklaring gesê as die SAL die lening nie terugbetaal het nie, sou dit onsekerheid laat ontstaan het oor die lugdiens se skuld.

Die regering het ’n waarborg van R16,4 miljard verskaf aan finansiers wat lenings aan die SAL toegestaan het.

Nog besonderhede van die lugdiens se herfinansiering gaan later die maand in die mediumtermynbegrotingsraamwerk bekend gemaak word.

“Suid-Afrikaners trek geen voordeel uit die SAL nie. Die koste is veel groter as die voordele,” sê Peron.

Die Moorfield Storey-instituut, wat in die VSA gesetel is, word as ’n onafhanklike drukgroep beskryf wat hom vir burgerregte beywer.

“Die lugdiens word voortdurend teen ’n verlies bedryf en belastingbetalers moet herhaaldelik opdok.”

Peron sê lugdienste skep werk en bevorder toerisme ongeag wie dit besit.

“Die voordele wat die SAL inhou, gaan steeds daar wees.

“Die probleem is egter dat die lugdiens meer welvaart vernietig as wat hy skep. Enige onderneming wat geld verloor, ongeag sy eienaars, vernietig welvaart,” sê hy.

Boonop laat die ekstra belasting wat die regering wil invorder om die SAL te red verbruikers met minder geld om aan ander produkte te bestee, sê hy.

’n Totale ineenstorting van die SAL is moontlik namate sy skuld toeneem, waarsku hy.

Die Vryemarkstigting meen dit is te laat om die lugdiens te privatiseer en dat dit toegemaak moet word.

Volgens dié stigting gaan die R1,2 miljard wat oor is nadat die SAL se skuld aan Citibank terugbetaal is die lugdiens net tot in Desember aan die gang hou. – Fin24

Meer oor:  Nasionale Tesourie  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Redding  |  Lugdiens  |  Hulp  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.