Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Salarisse krimp vir 3de maand in ’n ry
Rand coins and banknotes sit in a cash box in Joha
Suid-Afrikaners se besteebare inkomste raak al minder. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaners se koopkrag het in April vir die derde maand in ’n ry gedaal.

Salarisse styg nou al sedert Februarie baie minder as die inflasiekoers, volgens BankservAfrica se maandelikse indeks bekend as die Beti.

Nominaal het salaristrekkers gemiddeld net 2,7% meer verdien as ’n jaar gelede, vir ’n gemiddelde salaris ná aftrekkings van R15 037.

As inflasie egter bygewerk word, het die gemiddelde reële salaris die afgelope jaar met 1,5% gedaal tot R13 741. Inflasie was in April 4,4%.

Reële besteebare inkomste verwys na die bedrag wat in mense se bankrekening beland ná aftrekkings soos belasting, maar aangepas vir inflasie. Selfs al is die nominale bedrag dus hoër, kan verbruikers minder daarmee doen.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za en samesteller van die indeks, sê die daling is ’n aanduiding van hoe laag verhogings in die private sektor op die oomblik is, want staatsamptenare het in April hul verhogings gekry en dit was meer as die inflasiekoers op tussen 5,2% en 6,2%. Staatsamptenare verteenwoordig byna 30% van die totale salarisse wat BankservAfrica meet.

Totale bedrag daal
Die totale bedrag van salarisse en pensioene wat uitbetaal is, het in nominale waarde met 0,9% gedaal. Dis deels omdat minder mense ’n salaris ontvang – werkloosheid is aan die styg – en deels omdat salarisverhogings die afgelope ruk klein was.

Private pensioene

Die private pensioene wat in Suid-Afrikaanse bankrekeninge inbetaal is, het in April met 5,2% – dus met meer as die inflasiekoers van 4,4% – gestyg. Dis die vinnigste groei sedert Junie 2018.

Pensioene beloop gemiddeld kwalik die helfte van salarisse op R7 317 (nominaal)

Die styging weerspieël dalk die feit dat pensioentrekkers hul pensioen verhoog het in die lig van die sterk styging in aandeelpryse in die eerste kwartaal van die jaar, maar Schüssler sê pensioene het die afgelope paar jaar ook gestyg, selfs toe die plaaslike aandelebeurs power gevaar het. Dit kan beteken dat mense meer geld onttrek as wat volhoubaar is.

Meer oor:  Bankservafrica  |  Inflasie  |  Salarisse  |  Inflasiekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.