Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Salarisse styg skerp; goeie nuus vir Swart Vrydag
rand, geld
Die gemiddelde besteebare inkomste wat werkende Suid-Afrikaners verdien, was in Oktober vir die eerste keer meer as R16 000. Foto: Getty Images

Die skerpste styging in vyf maande in besteebare salarisse gaan dalk vir winkels en e-handelaars ’n goeie Swart Vrydag beteken.

Die gemiddelde besteebare inkomste wat werkende Suid-Afrikaners verdien, was in Oktober vir die eerste keer nóg meer as R16 000 op R16 173.

Dis die salaris wat ná aftrekkings soos belasting en pensioen- en mediesefondsbydraes elke maand in mense se bankrekeninge land.

Die bedrag verteenwoordig ’n styging van 7,2% teenoor ’n jaar gelede, volgens BankServAfrica se indeks.

In reële waarde was besteebare salarisse 3% hoër op R14 300, wat dit die derde hoogste maak sedert BankservAfrica dit meet. Die 3% verteenwoordig hoeveel méér as die inflasiekoers die gemiddelde inkomste gestyg het, en is dus ’n aanduiding van ’n werklike styging in Suid-Afrikaners se koopkrag.

Die bogemiddelde styging in besteebare inkomste in Oktober is grootliks danksy inflasie van net 3,7% in dié maand, die laagste vlak in agt en ’n half jaar.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za en samesteller van die indeks, sê die nominale styging in besteebare inkomste sal waarskynlik oor die volgende jaar verlangsaam omdat baie salarisse aan die huidige inflasiekoers gekoppel is. Met inflasie wat weer gaan styg, na sy mening, beteken dit ’n traer styging in mense se koopkrag.

Schüssler reken ook daar is nog die uitwerking van terugwerkende salarisverhogings aan staatsamptenare en vroeë jaareindbonusse wat Oktober se syfer beter laat lyk as wat die meeste mense beleef.

Die syfers is waarskynlik goeie nuus vir winkels en aanlyn winkels noudat die Swart Vrydag- en Kers-koopmanie hier is. “As die werklike besteebare salaris einde November enigsins naby soveel gestyg het as in Oktober, sal Swart Vrydag-verkope skerp styg.”

Stand van private pensioene

Private pensioene was vir die 32ste maand in ’n ry heelwat meer as die inflasiekoers. Die nominale styging was 8,5%, wat die gemiddelde private pensioen op R8 310 te staan bring.

Schüssler het nou al herhaaldelik gewaarsku dat dit lyk asof pensioentrekkers meer van hul geld onttrek as wat volhoubaar is, gegewe lae beleggingsopbrengste die afgelope jare.

Die reële styging was 4,2% en beloop R7 310.

Die aantal pensioentrekkers het in September en Oktober gedaal.

Meer oor:  Ekonomie  |  Inflasie  |  Salaris  |  Inkomste  |  Swart Vrydag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.