SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Ekonomie
Saldanha Staal: Wat hou die toekoms vir hulle in?

In ’n agterplaas-woonstel in Saldanha sit ’n huisvrou (29) stil voor haar en uitkyk.

Die Saldanha Staal-aanleg. Foto: Maygene de Wee

Haar sewejarige seuntjie is besig met sy huiswerk. Sy is bekommerd oor hul toekoms. Haar man is ’n halfgeskoolde ketelmaker by Saldanha Staal, ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se aanleg buite Saldanha aan die Weskus.

Sy het Maandag op Facebook gesien die aanleg maak toe. Die aand het haar man haar ook ingelig.

Hy verdien sowat R2 300 in die week. Dit kom neer op sowat R9 200 per maand. Hul huur is R5 000 per maand. Haar seuntjie se skoolgeld is ’n bietjie meer as R700 per maand.

Sy weet nie hoe hulle volgende maand gaan oorleef nie. Haar man werk nou al ’n paar maande lank nie meer oortyd nie. Daar is nie werk nie en hulle het geen spaargeld om op terug te val nie.

“Ons het gewoonlik sy oortydgeld gespaar vir ’n noodgeval, maar die afgelope paar maande was daar geen oortyd om te werk nie.”

Hulle het sowat twee jaar gelede uit Gauteng na die Weskus verhuis. “Ons het geen, soos in geen familie hier nie. Ek weet nie wat ons gaan maak nie. Ons kan nie teruggaan Gauteng toe nie, daar is nie werk nie.

“Ek het op Facebook gesien mense praat oor die afleggings en het die skakel oopgemaak. Ek het my ma in Gauteng gebel en vir haar daarvan gesê. Dis toe eers dat dit by my ingesink het.”

Vanaf die voorkant van die erf waar hulle woon, is die skoorstene van die aanleg net-net sigbaar.

“Gewoonlik sien ’n mens darem ’n rookwolk by daai skoorstene uitkom.”

Volgens die vrou wat gevra het om anoniem te bly, het Saldanha Staal verlede week met ’n staking van bedrywighede begin om instandhoudingswerk te doen. “Ons vermoed dit gaan die laaste shutdown wees. Ons gaan nie eens ’n Kersfees hê nie.”

Haar man is wat hulle noem ’n permanente kontrakwerker by Saldanha Staal. “Waar gaan hy werk kry?”

Gewoonlik sien ’n mens darem ’n rookwolk by daai skoorstene uitkom.

Nie net die werkers word geraak

Sowat 15 km verder in Vredenburg, die ekonomiese hoofstad van die Kaapse Weskus, woon ’n man, wat ook nie sy naam wil noem nie, saam met sy vrou en kinders. Hy werk al sedert 1998 by Saldanha Staal en is tans op verpligte verlof.

“Hulle het gekyk na hoeveel verlof ons einde April gehad het, en ons gevra om alle oorblywende verlof te neem sodat ons Desember-verlof gelyk aan ons April-verlof moet wees.”

Hy het gesê hy vermoed dit is wat die maatskappy kan bekostig om die werknemers te betaal.

Volgens hom gaan tussen 500 en 600 permanente werknemers hul werk verloor. “Dit is buiten die kontrakteurs. Tel ons hulle by, is dit maklik nog so ’n 1 000 mense wat werkloos gelaat gaan word.”

Die man se skoonseun werk ook by Saldanha Staal. Hy staar dieselfde lot as sy skoonpa in die gesig.

Maar dis nie hier waar dit vir hom eindig nie. Sy vrou werk vir ’n onderneming op Vredenburg wat tussen 80% en 90% van hul werk by Saldanha Staal kry. Sy seun werk vir ’n ander onderneming wat in dieselfde bootjie is.

Hy is egter nie net oor homself en sy kinders bekommerd nie.

“Wat van daai mense wat nou huis en of kar gekoop het. Die jong mense wat nou net begin werk het? Hulle sal moet meeding met ander mense wat dieselfde of beter kwalifikasies en ervaring as hulle het? Hier is nie nog staalfabrieke in die land waar ons kan gaan werk nie.”

Vredenburg, die Weskus se ekonomiese hoofstad, en al die ander omliggende dorpe, Saldanha, Langebaan, Hopefield, kan volgens inwoners wat by Saldanha Staal werk en afleggings in die gesig staar, ’n ekonomiese insinking ervaar. Foto: Maygene de Wee

Hy verduidelik van die mense wat die hoogoonde aan die gang hou. “Hulle is ’n handjievol en dis ’n gespesialiseerde werk. Hulle reguleer die oonde se temperatuur. Hulle weet presies hoeveel steenkool om in ’n oond te gooi. Nêrens anders in Afrika is daar ’n staalfabriek waar hulle hul kennis kan gebruik nie. Wat van daardie mense? Wat van die vakmanne, waarheen gaan hulle.”

Hy sê die getal mense wat genoem word, is nie die enigstes wat deur die afleggings geraak word nie. Daar is die diensverskaffers, die mense wat die onderdele vir die masjinerie verskaf. Wat help met opleiding van vakmanne, van die werkers. Ook daardie ondernemings sal moet afskaal omdat daar nie meer werk van ons kant gaan kom nie.”

“En elke mens wat afgelê word, onderhou minstens nog drie tot vier ander mense, dis vrouens, kinders, ma’s, pa’s, broers, susters. Die Weskus word nou op sy knieë gedwing.

Die 1 000 plus mense wat geraak word, kan maklik tot 3 000 mense word, sê hy.

Hy besef egter die aanleg se dae is getel.

Die bestuur van Amsa het al in Junie en Julie vanjaar met onderhandelinge en gesprekke begin met die unies, Solidariteit en Numsa, sê hy.

“Dan was dit aan, dan was dit af. Tot die aankondiging gister.”

Volgens hom is die aanleg se grootste uitgawes, elektrisiteit, die ystererts wat hulle by Sishen moet aankoop en dan die geld wat hulle Transnet moet betaal om die steenkool en ystererts te vervoer.

Gelukkig kan hy darem met sy hande werk, sê hy.

“Ek kan sweis. Ek was al die jare ’n vakman. Ek kan staalmeubels maak, maar wat van daardie mense wat niks anders het om op terug te val nie.”

Kommer oor gestremde seun

Charlene van Langebaan se man is die enigste broodwinner. Hulle het drie seuns. Die oudste seun is 19. Hy is erg verstandelik gestrem. “Die mat is heeltemal onder ons voete uitgeruk.”

Sy kan nie gaan werk nie, omdat sy na twee van hul seuns moet kyk. Hulle sal vir die res van hul lewe finansieel na hul 19-jarige seun moet kyk. Hul middelste seun is volgende jaar in matriek. Hul jongste seun is op die outistiese spektrum. Hy het Aspergers-sindroom.

Hy kry tuisonderrig omdat hy nie in ’n hoofstroomskool kan funksioneer nie.

Hulle benodig sowat R50 miljoen per maand om die aanleg weer finansieel lewensvatbaar te maak, en daardie geld is net nie beskikbaar nie.

Johan Venter van Solidariteit bevestig dat elektrisiteit, die aankope van ystererts en steenkool en vervoeronkoste, die aanleg op sy knieë gedwing het.

“Hulle benodig sowat R50 miljoen per maand om die aanleg weer finansieel lewensvatbaar te maak, en daardie geld is net nie beskikbaar nie.”

Hulle het na alternatiewe gekyk. “Ons probeer nou met die regering praat.

Amsa het nou skeidingspakkette begin aanbied en ons het gehoor daar is manne wat dit aanvaar het. Ek dink hulle is moeg vir die hele proses.”

“Die toemaak van Saldanha Staal gaan net armoede vir die Weskus beteken. Daar is nie ander ondernemings wat daardie mense met hul vaardighede sal kan vat nie en die armoede gaan na die res van die Wes-Kaap uitkring,” het hy gesê.

Die aanleg sal volgens alle aanduidings in Januarie of Februarie 2020 sy deure finaal sluit.

Daar sal glo ’n handjievol mense aanbly om dit in stand te hou. Dit sal dan in wat werkers daar noem “maintenance care” gaan.

Meer oor:  Saldanha Staal  |  Saldanha  |  Werk  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.