Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Samwu ‘verklaar oorlog’ oor salarisse

Dis amptelik: Munisipale werkers wat aan die vakbond Samwu behoort, het gestem vir “oorlog” met die regering oor loononderhandelinge.

Lede van die munisipale werkersvakbond Samwu het in 2019 die Tshwane-metropool lamgelê met ’n verwoestende staking. Nou dreig die komende algemene staking van alle munisipaliteite. Foto: Deaan Vivier

Die vakbond sê Woensdag dat sy lede oorweldigend gestem het om die jongste aanbod van die regering deur middel van ’n onafhanklike fasiliteerder ten volle te verwerp.

Die volgende stap is nou volgens Samwu ’n stemming oor of lede wil staak. Hy sal teen 1 of 2 Julie ’n mandaat hê wat hom waarskynlik sal magtig om te staak.

Die fasiliteringsproses tussen Samwu, met sy 165 000 lede, en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga), wat munisipaliteite verteenwoordig, het amptelik ’n dooiepunt bereik.

Dit het gekom ná vier rondes van onderhandelinge tussen Samwu en Salga wat geen vrugte afgewerp het nie.

Die fasiliteringsproses het gemik om deur middel van ’n onpartydige en onafhanklike fasiliteerder die onderhandelinge verder te neem.

Samwu sê egter die fasiliteerder, Naledi Buwana-Bisiwe, is “bevooroordeeld” en het bloot die belange van die regering as ’n onpartydige aanbod voorgelê.

Samwu het gevra vir ’n deurlopende R4 000-verhoging vir alle munisipale werkers wat daarop gemik was om “die ongelykheid” tussen werknemers aan te pak.

Dit sou neerkom op ’n meer as 40%-verhoging vir die laags betaalde werkers.

Die fasiliteerder het ’n verhoging van 4% aangebied vir die eerste van die voorgestelde driejaar-loonooreenkoms, wat daarna gevolg sal word deur ’n verhoging van inflasie minus een persentasiepunt vir twee jaar.

Samwu se lede verwerp nou nie net die aanbod vir die verhoging nie, hulle verwerp ook die vasberadenheid van die fasiliteerder om ’n driejaar-loonooreenkoms te onderteken.

Samwu sê Salga was besig om die eis vir ’n enkeljaar-ooreenkoms te oorweeg, en toe kom die fasiliteerder met ’n “pro-werkgewer”-aanbod wat dié eis heeltemal geminag het.

Samwu is ook boos oor die feit dat die fasiliteerder alle voordele aan munisipale werknemers wil staak as deel van die aanbod.

Hy sê ’n oorlog is nou onafwendbaar.

Samwu se lede het van 17 Junie tot 22 Junie gehad om te stem oor die aanbod van die fasiliteerder.

‘n Groot meerderheid het gestem om die aanbod amptelik te verwerp, nes die leiers van Samwu ’n week gelede gedoen het.

Samwu sê die tweede peiling van sy lede is goed op koers om die wettige mandaat vir die staking te bekom.

Meer oor:  Samwu  |  Salga  |  Loononderhandelinge  |  Vakbonde  |  Munisipale Werkers  |  Munisipaliteite  |  Salarisse  |  Dienslewering  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.