Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA'ners aan’t dobbel, al is beursies plat
Suid-Afrikaners is steeds bereid om te dobbel en het in 2018 miljoene rande meer op dobbeltafels gespandeer as in 2017. Foto: Pixabay

Die ekonomie druk dalk, maar Suid-Afrikaners is weer bereid om te dobbel.

Die Casinovereniging van Suid-Afrika (Casa) se 13de weergawe van sy jaarlikse peiling oor die sektor wys bruto inkomste vir dié sektor het met 3,5% tot R18,5 miljard gestyg teenoor 2017.

Dit is vir die jaar tot einde Maart.

In 2017 het inkomste met 1,8% gedaal teenoor 2016.

“Ongeag hul inkomste, is verbruikers onder baie meer druk en draai hul sente om,” het Themba Ngobese, uitvoerende hoof van Casa, Dinsdag in Fourways, Johannesburg, met die bekendstelling van die verslag oor die peiling gesê.

Net soos in 2017 ervaar hulle dat verbruikers hul geld by kleinhandelaars bestee eerder as om daarmee te dobbel.

As hulle wel ’n ekstra geldjie het, sal hulle ook eerder gaan uiteet as om casino toe te gaan.

Volgens Casa dobbel Gautengers steeds die meeste en casino’s in dié provinsie het ’n inkomste van R8 miljard verdien. Dit is bykans 9% meer as die R7,3 miljard van 2017.

Casino’s in KwaZulu-Natal (R3,5 miljard) is tweede, gevolg deur dié in die Wes-Kaap (R2,9 miljard).

Mense wat casino’s besoek, hou die meeste van dobbelmasjiene.

Die 24 508 masjiene in Suid-Afrika het saam R14,2 miljard vir casino’s verdien.

Die 922 tafels het ’n inkomste van R4,1 miljard verdien.

BTW

Casino’s het in 2018 R2 miljard in belasting op toegevoegde waarde (BTW) betaal.

Dit was teen die vorige koers van 14%.

Ngobese sê hulle verwag in 2019 gaan casino’s R141 miljoen méér BTW betaal bloot omdat die koers op 1 April 2018 verhoog is.

“Die manier hoe casino’s werk beteken dat hulle nie BTW kan terugeis nie. Casino’s gaan dus hierdie toename aan hul sak voel.

“Aangesien ons nie produkte of dienste verkoop nie, en mense self besluit hoeveel hulle wil spandeer wanneer hulle dobbel, kan ons ook nie die hoër koers na die verbruiker oordra nie,” sê hy.

Dobbelmasjiene het egter gemiddeld ’n kleiner inkomste per masjien gelewer.

Die R582 991 wat masjiene gemiddeld in 2018 gelewer het, is 3,2% minder as die R602 045 van 2017.

Die inkomste wat tafels gegenereer het, het met 9,2% tot gemiddeld R4,5 miljoen per tafel gestyg.

Bydrae

Ngobese sê die casino-sektor is nie net daar om mense te vermaak nie.

“Dit lewer ’n baie groot bydrae tot Suid-Afrika. Casino’s het saam R4,9 miljard belasting in 2018 betaal,” sê hy.

In 2018 het casino’s R63,5 miljoen tot onderwys bygedra. Dit was meestal in die vorm van bydraes tot trusts en beurse.

’n Verdere R30 miljoen is gespandeer om gemeenskappe te help verbeter, R16,6 miljoen om MIV/vigs te help bekamp terwyl R7 miljoen gespandeer is om sport, die kunste en kultuur te ondersteun.

Die sektor het tans 38 120 mense in diens. Hiervan word 10 719 direk deur casino’s in diens geneem, 2 672 lewer dienste soos veiligheid en die res word by komplekse in diens geneem in poste wat niks met dobbel te make het nie. Dit sluit byvoorbeeld restaurante en rolprentteaters in.

Meer oor:  Dobbelbedryf  |  Dobbel  |  Casino's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.