Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA’ners koop steeds minder motors
Suid-Afrikaners is steeds traag om nuwe motors aan te skaf. Foto: Pixabay

Rentekoerse mag dalk die laagste in jare wees, maar dit blyk nie genoeg te wees om Suid-Afrikaners te oortuig om nuwe voertuie te koop nie.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) sê in ’n verklaring hoewel meer nuwe voertuie maand tot maand verkoop word, verkeer die mark steeds onder baie druk.

In November vanjaar is 39 315 nuwe voertuie verkoop. Dit is 12% minder as die 44 670 van ’n jaar gelede.

Die uitvoere het boonop ook met 7,6% van 34 588 eenhede tot 31 966 geval.

Handelaars het verreweg die meeste van die nuwe voertuie (85,3%) verkoop. Sowat 8% van die voertuie is aan motorverhuringsmaatskappye verkoop, terwyl 3,9% aan die regering en 2,8% aan sake-ondernemings met groot vlote verkoop is.

Van die 39 315 voertuie wat verkoop is, was 25 707 passasiersmotors. Dit is 18,1% minder as wat ’n jaar gelede in November verkoop is.

Naamsa sê dit is duidelik dat dit nog maande gaan duur voordat die sektor van die effek van die Covid-19-pandemie herstel.

Hy sê gegewe die lae inflasie, die goeie aansporings wat die handelaars aanbied asook die lae rentekoers is dit nou ’n goeie tyd om ’n nuwe ryding aan te skaf.

Die vereniging sê hy vermoed die rede waarom mense, ondanks die goeie markomstandighede, minder nuwe voertuie koop, is omdat hulle nie net hul begrotings dophou nie, maar ook tans meer van die huis af werk en dus nie só ’n groot behoefte aan mobiliteit het nie.

Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Voertuighandelaarsvereniging (Nada), sê in ’n verklaring handelaars is nou meer optimisties oor die sektor as wat hulle ’n paar maande gelede was.

Hy stem saam dat verbruikers, gegewe ekonomiese onsekerheid, versigtig is om groot items, soos motors, te koop.

Dommisse sê nóg ’n kwessie wat handelaars bekommer en druk op die sektor plaas, is die groot agterstand by die verkeersdepartement om motorlisensies en rybewyse te hernu.

Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het in November gesê dat daar toe reeds ’n agterstand van sowat 320 000 rybewyse was wat nog nie hernu is nie. Sowat 90 000 nuwe aansoeke word elke maand ontvang.

Een van die redes vir die agterstand is dat lisensiekantore onder die strenger vlakke van die staat van inperking moes sluit.

Meer oor:  Naamsa  |  Nada  |  Covid-19  |  Voertuie  |  Motorverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.