Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
SA'ners reis binnelands, maar toerisme sukkel steeds

Suid-Afrikaners reis die land plat noudat oorsese toere vir eers van die baan is, maar hul vakansies is selde langer as ’n week, toon die jongste syfers van reisagentskappe en -soekenjins.

Sun City se hotels soos die Lost Palace op hierdie lugfoto is besonder gewild onder plaaslike reisigers.

Die rede vir die korter wegbreke kan wees dat mense meer gefokus is op werk, meer spaarsaam is of begaan is oor hul begrotings, sê cheapflights.co.za, ’n soekenjin vir vlugte met die billikste pryse, in ’n verklaring. “Maar reisigers gaan gemiddeld net vir vier dae weg.”

Cheapflights het ’n peiling gedoen wat geskoei is op die soektogte van Januarie tot einde Mei vanjaar en dit vergelyk met die ooreenstemmende tydperke in 2019 en 2020.

Volgens Cheapflights, wat soekresultate lewer vir stede waar daar lughawens is, was Kaapstad boaan die lys van bestemmings wat Suid-Afrikaners van plan was om te besoek.

Sue Garrett, bestuurder by Flight Centre se produk- en bemarkingsafdeling, het per e-pos aan Rapport gesê sy kliënte se gewildste bestemming is Sun City se hotels. Ander gewilde bestemmings is die land se groot kusstede, Kaapstad en Durban, asook kleiner kusdorpe in die Wes-Kaap soos Hermanus en Knysna. Gewilde binnelandse bestemmings is die Pilanesberg in Noordwes en Bela-Bela in Limpopo.

Noordwes en Limpopo is veral gewild vir mense wat luuks kampeer (glamping) en buitelug-avonture wil beleef.

Ook Flight Centre se navorsing wys Suid-Afrikaners verkies tans korter wegbreke soos naweke en vakansies van hoogstens sewe dae.

“Prys is nie langer die bepalende faktor vir Suid-Afrikaners met platter beursies nie, maar eerder die waarborg dat hulle hul reis kan uitstel of kanselleer en al hul geld sal terugkry,” sê Garrett.

’n Peiling wat Flight Centre in Februarie onder sowat 8 000 mense gedoen het, toon 85% van kliënte bespreek in dieselfde maand blyplek, betaal daarvoor en reis daarheen. Dit is 70% meer as voor Covid-19. Dit kan moontlik beteken dat reise op kort termyn beplan word.

Airbnb het waargeneem die getal soektogte vir Suid-Afrikaners wat vir langer tydperke in blyplekke wil tuisgaan, het van Januarie/Februarie 2020 tot dieselfde tydperk vanjaar met 50% toegeneem. Hierdie toename word aangedryf deur die buigsame werksomstandighede vir sekere Suid-Afrikaners wat hul beroep van enige plek af kan beoefen, sê Velma Corcoran, Airbnb se streekshoof vir Afrika en die Midde-Ooste.

“Nuwe gashere met net een verblyfplek op Airbnb het gesamentlik byna R50 miljoen in hierdie tydperk verdien.”

Ten spyte van die gretigheid onder Suid-Afrikaners om plaaslik te reis, was die besettingskoers van blyplekke soos onder meer hotels en gastehuise slegs sowat 29%, wys Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers vir April 2021. “Alhoewel die openbare vakansiedae in Maart en April verblyf ietwat van ’n hupstoot gegee het, is baie huishoudings steeds in geldnood,” sê Lara Hodes, ekonoom by Investec, in ’n nota.

Toerisme-instansies se inkomste uit verblyf het met byna ’n derde afgeneem in die drie maande van Februarie tot April vergeleke met dieselfde tydperk in 2020.

“Hierdie syfers wys die finansiële skade aan die toerismesektor en hou niks goed vir die oorlewing van mense in die bedryf in nie,” sê Rosemary Anderson, voorsitter van die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa).

Die liggaam het gewaarsku moontlike strenger inperkings in die lig van die derde vlaag Covid-19-infeksies kan die ondergang van meer instellings in die toerismebedryf beteken.

Meer oor:  Toerisme  |  Bestemmings  |  Vlugte  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.