Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sanral: Wildekus-brug sál gebou word

Die Mtentu-brug in die Oos-Kaap gáán gebou word.

Ons eerste groot spanbrug, oor die Mtentu-rivierkloof, sal opsigself ’n bestemming werd wees.

’n Ander kontrakteur sal dalk die bouwerk voltooi en dit gaan waarskynlik nou nie soos vroeër beoog teen 2022 voltooi wees nie, maar Louw Kannemeyer, hoofingenieur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), sê die projek sal nie gestaak word nie.

Hy het ook bevestig dat Sanral met regstappe begin het teen die gesamentlike vennootskap van Aveng en Strabag International (ASJV), die kontrakteur vir die brug.

Aveng en Strabag het op 4 Februarie aangekondig hulle verklaar force majeure op die projek en onttrek hulle daaraan. Dis weens geweld en dreigemente van geweld deur lede van die gemeenskap.

Kannemeyer was Donderdag ’n spreker op die Future of Roads-beraad wat in Woodmead, Johannesburg, gehou is.

Die brug van 1 132 m lank is deel van die N2-Wildekuspad-projek. Dis al Suid-Afrika se “Golden Gate-brug” gedoop weens die ooreenkomste met dié bekende brug in San Francisco.

Die ASJV sou R1,6 miljard vir die projek verdien.

Kannemeyer het bevestig hulle het reeds met regstappe teen die Aveng-vennootskap begin.

Die kontrak bepaal dat dit beëindig kan word indien bouwerk 84 dae aaneenlopend nie kan plaasvind nie.

“Die vraag is of daar wel 84 dae verstryk het waartydens hy glad nie kon bou nie,” het Kannemeyer in ’n onderhoud op die beraad gesê.

Louw Kannemeyer, hoofingenieur van Sanral.Foto: Elvira Wood

Kannemeyer sê die hof sal bepaal watter proses gevolg moet word om die brug te voltooi.

Sou die hof in ASJV se guns bevind, kan Sanral hom op die maatskappy wat die projek gewaarborg het, beroep om die waarborg gestand te doen. Die maatskappy het dan die keuse om eers te probeer om ’n ander kontrakteur aan te stel om die projek te voltooi, voordat hulle Sanral uitbetaal. Sou hulle dit nie kon doen nie, kan Sanral self ’n nuwe kontrakteur aanstel.

Kannemeyer is vol vertroue dat hulle ’n ander kontrakteur kan vind.

“Maatskappye wat oorspronklik ook vir die projek getender het, sal eerste genader word. Ons sal van daar af sien wat gebeur.”

Hy sê wat betaling betref, moet daar onthou word dat Sanral glad nie die volle R1,6 miljard reeds aan Aveng betaal het nie.

“Ons betaal net soos wat die fases afgehandel word.”

Ons het nie die kennis in die land om projekte op so ’n skaal te bou nie. Oorsese, en veral Europese kontrakteurs, het dit wel.
Louw Kannemeyer

Kannemeyer sê hy vermoed dat daar weer, nes in die geval met ASJV, ’n internasionale konsultant by die projek betrek sal moet word.

“Dié brug is selfs in internasionale terme ’n groot projek. Dit is 222 m van die vloer van die vallei. Dit is soortgelyk aan ’n wolkekrabber van 55 verdiepings.

“Ons het nie die kennis in die land om projekte op so ’n skaal te bou nie. Oorsese, en veral Europese kontrakteurs, het dit wel,” sê hy.

Kannemeyer kon nog geen spesifieke datums gee vir wanneer Sanral hoop om ’n nuwe kontrakteur – indien nodig – vir die projek aan te stel nie.

Meer oor:  Aveng  |  Sanral  |  Oos-Kaap  |  Mtentu-Brug  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.