Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Sentrale banke moet onafhanklik bly’
Die Reserwebank se gebou in die middestad van Pretoria.

Monetêre owerhede wêreldwyd moet sonder politieke druk hul werk kan doen, sê Daniel Mminele, een van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se adjunkpresidente.

Mminele het gereageer op pres. Donald Trump se kritiek verlede week op die Federale Reserweraad (Fed). Trump het hom tot Twitter gewend om die Fed se rentekoersverhogings en die moontlikheid van verdere verhogings vanjaar te kritiseer.

Mminele wou nie spesifiek reageer op Trump se Fed-twiets nie, maar sê: “Die onafhanklikheid van sentrale banke is absoluut onskendbaar en daar is volop bewyse dat onafhanklike sentrale banke suksesvoller blyk te wees.”

Mminele waarsku ook oor die risiko’s van toenemende handelspanning wat ontluikende markte reeds beïnvloed. Die rand het vanjaar al met 7,6% teenoor die dollar gedaal.

“Ons beleef risikovermyding-scenario’s, ons sien hoe geldeenhede onder druk kom, ons sien inflasiedruk opbou, en sommige sentrale banke het reeds stappe gedoen om dié druk af te weer.”

Mminele het in Buenos Aires, Argentinië, met Bloomberg gepraat tydens ’n G20-vergadering van ministers van finansies en senior amptenare van sentrale banke.

Trump se dreigement van verdere invoertariewe was vir Mminele onwelkome nuus.

“Die toename in die retoriek beïnvloed wel vertroue, skep onsekerheid en sal gedrag reeds beïnvloed het, nog voordat die eerste skoot afgevuur word. Op lang termyn is daar geen wenners in ’n handelsoorlog nie. – Bloomberg

Waaroor kritiseer Trump die Fed?

Trump se grootste kritiek op die Fed is dat hy in ’n rentekoers-stygsiklus is. Dit lok meer beleggings na Amerika, wat die dollar laat versterk teenoor ander geldeenhede. ’n Te sterk dollar plaas die wins van Amerika se multinasionale maatskappye onder druk.

Ná ’n twiet waarin Trump gesê het hoër rentekoerse “maak alles seer wat ons reggekry het”, het die Withuis ’n verklaring uitgereik waarin hy sê Trump respekteer wél die onafhanklikheid van die Fed, hoewel hy nie gelukkig is met hul besluite nie.

Net ná die verklaring het Trump egter wéér getwiet: “China, die Europese Unie en ander manipuleer hul geldeenhede en verlaag rentekoerse, terwyl Amerika rentekoerse verhoog terwyl die dollar elke dag sterker en sterker word – wat ons groot mededingende voordeel wegneem. Soos gewoonlik is die speelveld nie gelyk nie.”

Trump het Jerome Powell as voorsitter van die Fed aangestel, pleks van dr. Janet Yellen vir ’n tweede termyn aan te stel. Powell het in Februarie in dié pos begin. 

Meer oor:  Donald Trump  |  Daniel Mminele  |  Reserwebank  |  Fed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.