Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Sentralisering was sleutel tot staatskaping’

Ná die finansiële krisis van 2008 het die ANC se sentralisering van ekonomiese herstel regstreeks gelei tot die “plundery” en kaping van staatsondernemings en die ganse ekonomie.

BLSA
Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA (BLSA), reken die regering bestaan nou hoofsaaklik net uit diewe. Foto: Gallo Images

Só het Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA), Donderdag in ’n vurige gesprek met die Vryemarkstigting (FMF) gesê.

Sy meen die ekonomie sal nooit groei indien daar nie radikale ekonomiese hervormings van stapel gestuur word nie – alles anders sal net geraas wees.

Maar die staat se rol in die hervormings moet minimaal wees.

Dit blyk egter nie realisties te wees sonder enorme politieke wil daarvoor nie.

“Die ANC is nie meer ’n party nie. Hy stort ineen,” sê sy.

“Hy is as party besig om homself te martel.”

Sy meen dat die ANC nie oor ’n enkele, gesinchroniseerde visie beskik oor wat ekonomiese groei in die land sal bewerkstellig nie.

Die staat het te veel mag gesentraliseer, verduidelik sy, en dit het meegebring dat die party nou hoofsaaklik uit “diewe” bestaan.

“Daar is nog goeie mense in die regering oor, maar hulle word heeltemal oorskry deur die getal diewe.”

Volgens Mavuso het die ANC in ’n poging om die ekonomie te help herstel ná die finansiële krisis van 2008 ’n ekonomiese model opgerig waar die staat in die middel staan.

Dit was nie net onwys nie, maar het ook die dekade van staatskaping regstreeks gedryf.

“Die diewe binne die ANC het die sentralisering van mag as ’n geleentheid gesien om te steel. Daar was toe ’n massiewe uittog van vaardighede uit die regering.”

Mavuso meen die paar goeie staatsamptenare en partylede wat die plundery uitgewys het, is as “slim swartes” geoormerk en gedwing om die staatsdiens te verlaat sodat die plundery kan voortduur.

“Nou sit jy hoofsaaklik met diewe in die regering.”

En diewe het nie visie nie.

Soos al talle keer uitgewys, reken Mavuso die probleem met ekonomiese herstel is nie die afwesigheid van idees nie, maar die afwesigheid van uitvoering.

Maar ’n organisasie gebou uit diewe met botsende idees en ideologieë kan nie planne deurvoer nie.

“As die middel nie kan hou nie, is daar geen manier wat ons rigting kan kry nie,” sê sy.

In dié leemte probeer mense soos pres. Cyril Ramaphosa kommissies en komitees opstel wat die tekortkominge van sy eie party kan regstel.

Maar, sê Mavuso: “Jy kan nie ’n land deur middel van kommissies en komitees regeer nie.”

Kragopwekking

Mavuso sê in antwoord op ’n vraag dat al drie topprioriteite vir die ekonomie om te herstel tans moet wees “Eskom, Eskom, Eskom”.

Dié staatsonderneming weerspieël die wese van staatskaping en hoe dit die ekonomie verwoes het.

Sonder energie is daar niks om op te bou om verbruikersentiment te herstel nie, wat op sy beurt sakevertroue sou herstel, beleggingsvertroue sou meebring en sodoende tot beleggings en werkskepping kon lei.

Jy kan nie ’n land deur middel van kommissies en komitees regeer nie.
Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA

“Die private sektor sit oorgehaal om binne 18 maande die kragkrisis op te los,” sê Mavuso, “maar ons word teruggehou deur regulasies.” Haar hoofvoorbeeld is die van die drempel van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vir selfopwekking sonder ’n lisensie.

Die regering het onlangs aangedui hy sal die drempel van 1 megawatt (MW) tot 10 MW opstoot, maar nie die volle 50 MW waarvoor sowel die private sektor as Eskom gevra het nie.

Sonder dié kwytskelding kan talle ondernemings nie bekostig om deur die langdurige lisensiëringsproses te gaan wat Nersa vereis vir organisasies om self energie op te wek nie; 10 MW is net te min vir die meeste gevalle.

Sy sê dis ’n logiese oplossing om dié regulasie bloot te wysig, maar die staat wil sy rol sentraal hê en hou nie van privatisering nie.

“Dis ’n logiese oplossing, soos baie ander, maar die rede hoekom dit nie deurgevoer word nie is dat die ANC se beleidskeppingsproses gedoen word deur ’n opsteek van hande, en nie denke nie.”

Gratis onderrig

Mavuso verwys na die idee om gratis onderrig aan universiteitstudente te verskaf.

Sy sê hier het die ANC nie die saak bedink nie, hy het bloot gevra “wie stem saam” en gewag dat lede hul hande opsteek.

“Ek weet nie wat die regering besiel om te dink hy kan ’n welsynstaat wees nie. Suid-Afrika is doodeenvoudig nie in ’n posisie om ’n welsynstaat te wees nie.

“Ons kan nie gratis onderrig, gratis gesondheidsorg, gratis behuising en boonop toelae verskaf nie! Ons is doodeenvoudig nie in ’n posisie om sulke dienste aan ons mense te verskaf nie.

“Selfs die mees ontwikkelde lande doen nie wat die Suid-Afrikaanse regering probeer doen nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.