Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
6 vrae oor groot hofsaak teen banke oor skuld
Stephan van der Merwe Foto: Verskaf

Van die land se grootste banke is onder die 49 respondente in ’n groot hofsaak wat vandeesweek in die Kaapse hooggeregshof aanhangig gemaak is oor die onbeperkte regskoste wat sekere skuldinvorderaars hef wanneer agterstallige skuld ingevorder word.

Stephan van der Merwe, senior prokureur by die Universiteit Stellenbosch se Regskliniek, beantwoord vrae hieroor:

  

1. Wie is die applikante en wat is jou betrokkenheid by die hofsaak?

Ek is die senior prokureur by die Regskliniek. Ons is die eerste applikant in die saak en van ons kliënte is ook applikante. Ons werk saam met Summit Financial Partners (Summit), wat die tweede applikant is, hul prokureurs en ons span advokate. Suné van der Merwe Prokureurs tree namens al die applikante op. Tien van ons kliënte is applikante en hulle is onder meer plaaswerkers, mynwerkers en werklose mense. Daar is ook ’n persoon wat by ’n skool werk. Dit is skuldenaars wat nie geld het om private prokureurs te gaan sien nie.

  

2. Wie is die respondente?

Dit sluit al die groot banke in, groot skuldinvorderaars en die ander instellings wat betrokke is by die tien sake wat ons voor die hof het. Hul name is in die hofdokumente. Dit is 'n aantal bekende, prominente gelduitleners.

  

3. Waaroor gaan die hofaansoek?

Dit gaan oor die regskoste wat sekere krediteure en hul prokureurs of invorderaars voor en ná ’n skuldvonnis hef. Die regskoste word eensydig gehef en gevoeg by die bedrag wat die debiteur deur middel van ’n loonbeslagleggingsbevel moet terugbetaal.

Die probleem is dit hoef nie deur die hof nagegaan te word nie. En dit is hoekom jy ’n situasie kry waar sommige gewentenlose invorderaars hef wat hulle wil.

Ons het die afgelope twee dekades gevind mense kom na ons toe nadat hulle byvoorbeeld R600 geleen het en dan moet hulle meer as R5100 terugbetaal. Ek het Dinsdag een van ons kliënte – ook ’n applikant – besoek wat op ’n plaas werk en R2 000 per maand verdien. Daarvan word R917 met ’n loonbeslagleggingsbevel afgetrek. Hy het ’n lening van R16 000 in 2011 gekry. Die krediteur stuur ’n staat aan sy werkgewer wat toon hy het al R31 500 deur middel van die loonbeslagleggingsbevel betaal. En die krediteur soek nog R37 000 van hom.

  

4. Wil julle hê die hof moet ingryp of wil julle hê daar moet ’n wetsverandering kom soos met jul opspraakwekkende hofsaak in 2016 oor loonbeslagleggingsbevele?

Art. 103(5) van die Nasionale Kredietwet is juis bedoel om skuldenaars in hierdie situasie te beskerm. Ons versoek die hof om ’n verklarende bevel uit te reik dat die bedrag wat aan rente en koste, insluitende regskoste, teen die debiteur gehef word, beperk word tot die statutêre limiet soos in die artikel uiteengesit.

Ons voer aan dat ’n behoorlike interpretasie nodig is van daardie artikel – die statutêre in duplum-reël – saamgelees met art. 101 van die wet.

Dit sal beteken die rente en regskoste en ander koste wat oploop, mag nie meer wees as die uitstaande saldo van die hoofskuld op die tydstip toe die verbruiker agterstallig geraak het nie.

Op ’n ander manier gestel, dit beteken dat die maksimum bedrag wat van die skuldenaar verhaal kan word nie meer as dubbel die kapitaalbedrag uitstaande op die tydstip van verstek mag wees nie, solank as die skuldenaar in verstek bly.

  

5. Maar as die wet dit reeds vereis, hoekom gee banke en skuldeisers wat veronderstel is om eties te wees,  nie gehoor daaraan nie?

Hulle interpreteer daardie gedeelte anders as ons. Hulle sê die invorderingskoste wat die wet beperk, sluit nie regskoste in nie.

Ons glo die bedoeling van die wet is om die debiteur te beskerm. Die wet tref dus nie ’n onderskeid tussen invorderings- en regskoste nie.

Hierdie skuldeisers dwaal in hul interpretasie van die wetgewing in ons mening omdat hulle sê die invorderingskoste word gereël deur die statutêre in duplum-reël en dan kan hulle nog ’n klomp regskoste ook oplaai.

’n Ander interpretasie is dat dié reël net van toepassing is tot die punt waar die skuldvonnis gegee word. Ná die vonnis kan invorderaars regskoste van die skuldenaar verhaal na wille keur.  

Dit gaan ook weer oor die interpretasie van die wet. Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) sê een ding, die banke sê ’n ander ding en die skulduitlener en die prokureur sê ook nog iets anders.

Die hof moet nou vir ons almal sê hoe dit veronderstel is om te werk. Ons hoop die hof deel ons siening, en dit is dat die wet bedoel om debiteure te beskerm.

  

6. Noem julle die 49 respondente omdat hulle hulle almal hieraan skuldig maak?

Nie almal wat respondente is, is ons noodwendig vyandiggesind nie. Ons het byvoorbeeld die Menseregtekommissie as ’n respondent betrek omdat ons meen hy het ’n belang daarby. Dit geld ook vir respondente soos die NKR en die ministers van justisie en van handel en nywerheid. Ons het ook al die prokureursordes betrek omdat ons glo hulle het ’n belang hierby.

Ons hoop van hulle sê ons sien dit soos julle dit sien. Van hulle gaan wel sê ons sien dit nie soos julle dit sien nie, maar dit is steeds in hul belang dat daar duidelikheid kom oor hoe die wet geïnterpreteer moet word.

Ons is nie hier vir ’n heksejag op die kredietbedryf en invorderingsprokureurs nie. Ons almal weet dit is bitter belangrik dat daar ’n gesonde kredietbedryf is wat bereid is om mense te bemagtig deur vir hulle geld te leen en hulle in staat te stel om ondernemings te begin. Ons haal ons hoed af vir daardie krediteure wat dit op ’n eerlike en verantwoordelike manier doen en nie lenings roekeloos toestaan nie en skuld op ’n verantwoordelike manier invorder.

Meer oor:  Summit Financial Partners  |  Nkr  |  Bankbedryf  |  Skuld  |  Banke  |  Hofaansoek  |  Krediet  |  Regskoste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.