Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Drankverbod is 'middeweg', sê Dlamini-Zuma
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: GCIS

Namate omstandighede verander, kan die benadering tot die drankverbod verander, sê dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Dlamini-Zuma sê in haar beantwoordende eedsverklaring in die hofaansoek wat ’n groep wynboere onder leiding van die landbou-organisasie Saai aanhangig gemaak het, die doel met die jongste verbod was om die gesondheidstelsel dringend te beskerm. Hiervoor was ’n praktiese en doeltreffende maatreël nodig.

Saai voer aan ’n provinsiale of streekbenadering tot die verbod is ’n minder beperkende opsie.

Volgens Dlamini-Zuma was dít egter nie prakties, rasioneel of regverdigbaar nie. Ten tyde van die jongste verbod op die verkope van drank was “feitlik in al die provinsies” brandpunte.

“Maar die situasie sal gemonitor word en indien nodig, sal die regering die regulasies dienooreenkomstig wysig om voorsiening te maak vir ’n benadering wat vir ’n verandering in omstandighede voorsiening maak.”

Drankverbod is 'middeweg'

Sy sê Saai-hulle se argument dat daar danksy provinsiale dranklisensies nie ’n onoorkombare logistieke probleem sal wees om drankverkope op ’n provinsiale grondslag toe te laat nie, is verkeerd. Die Wet op Rampbestuur maak spesifiek daarvoor voorsiening dat die verkoop en vervoer van drank nasionaal beheer word. Daarby is die provinsiale drankwette ook nie met die oog op ’n pandemie aanvaar nie.

Dlamini-Zuma sê weens die skerp toename in infeksies en die stand van gesondheidsinfrastruktuur was onmiddellike korttermynmaatreëls die beste opsie.

Oorweging is wel geskenk aan die ekonomiese uitwerking. “Een van die opsies wat oorweeg is, was om terug te gaan tot ’n algehele inperking (vlak 5).” Maar dit is as onwenslik beskou juis weens die nadelige ekonomiese invloed wat dit sou hê. Daarom is besluit op ’n “middeweg”, naamlik ’n totale tydelike verbod op alkoholverkope.

Geen ‘agenda teen alkohol’

Sy ontken in haar beantwoordende eedsverklaring die aantyging van die applikante dat ’n “agenda teen alkoholgebruik bevorder word”.

Dlamini-Zuma sê dit is so dat sy nie openbare kommentaar gevra het oor die jongste drankverbod nie, maar dit was kragtens die Wet op Rampbestuur nie nodig nie.

Sy wys daarop dat die applikante nie die grondwetlikheid van die Wet op Rampbestuur uitdaag nie.

Sy sê ook daar was nie tyd vir konsultasies nie omdat dringende stappe nodig was aangesien infeksies vinnig gestyg het en die druk op hospitale toegeneem het weens alkoholverwante noodgevalle.

Stormloop voorkom

Die nuwe verbod is onverwags op ’n Sondag deur pres. Cyril Ramaphosa met onmiddellike ingang aangekondig.

Sy sê in hofstukke dit is gedoen gedagtig aan ’n moontlike stormloop na drankwinkels voordat ’n hernude verbod intree. Dit sou die doel van die beperkings ondermyn.

“Die kabinet het dit op 10 Julie in ag geneem ten tyde van ’n bespreking van die pandemie.”

Volgens haar is sy geadviseer dat kommentaar wat ná die regulasies ontvang is, oorweeg kan word en daar is wel daarna om kommentaar gevra.

Belangepartye is sewe dae – tot 20 Julie – gegee om voorleggings te doen.

Die applikante voer in wese aan dat die respondente met die verbod in die huidige fase van die inperking in gebreke gebly het om die spesifieke posisie van die wynbedryf in ag te neem. Dit maak die regulasies volgens hulle hersienbaar, ongrondwetlik en ongeldig.

As een tipe drank toegelaat word en ander nie, sal drinkers se gedrag verander om dit wat beskikbaar is te verbruik. Dan sal die doel – om die las op gesondheidsorg te verlig – nie bereik word nie.
Nkosazana Dlamini-Zuma

Die kern van hul saak is volgens Dlamini-Zuma dat wyn anders gehanteer moet word as alle ander soorte alkohol omdat wyndrinkers nie te veel drink nie en nie verantwoordelik is vir alkoholverwante ongevalle nie.

“As een tipe drank toegelaat word en ander nie, sal drinkers se gedrag verander om dit wat beskikbaar is te verbruik. Dan sal die doel – om die las op gesondheidsorg te verlig – nie bereik word nie.”

Dlamini-Zuma voer ook aan dit dien geen doel om Suid-Afrika se benadering tot alkohol met dié van ander lande te vergelyk nie omdat die Suid-Afrikaanse konteks uniek is. Dit behels onder meer die land se hoë voorkoms van MIV/vigs en TB. Die ruimtelike nalatenskap van apartheid beteken dat baie mense ver van mediese hulp af is.

Daarby is Suid-Afrika onder die topvyf lande ten opsigte van bevestigde gevalle en het die gesondheidstelsel reeds voor die pandemie gesukkel.

Dlamini-Zuma herhaal ’n paar keer in haar hofstukke dat die verbod nie permanent is nie en deurlopend revalueer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.