Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sigaret-sindikate nou gevestig soos bendes
Onwettige sindikate is nou besig om geweld in te span om hul winsgewende mark te behou. Foto: Unsplash

Nadat hulle sowat R100 miljoen per dag verdien het tydens die verbod op die verkoop van tabakprodukte, is sindikate wat handel dryf in onwettige sigarette nou besig om “bendetaktiek” te gebruik om hul houvas op die mark te behou.

Dít is die waarskuwing van Tax Justice South Africa (TJSA) wat Dinsdag in ’n verklaring gesê het sindikate is nou so gevestig dit sal jare neem om hulle uit te roei.

“Ons is miskien verby die piek van die Covid-19-pandemie, maar die misdaad-epidemie wat daaruit voortgevloei het, is steeds aan die toeneem,” sê Yusuf Abramjee, stigter van die TJSA.

Volgens Abramjee was die verkoop van sigarette meer winsgewend as dwelms tydens die staat van inperking en base van die sindikate het honderdmiljoene rande verdien.

Die sindikate gebruik nou hul enorme belastingvrye wins van die “ondeurdagte” verbod om hulself in gemeenskappe te vestig. “Daar is beweringe dat hulle veral spazawinkels en informele handelaars dreig en intimideer om steeds hul onwettige produkte van swak gehalte te verkoop.

“Daar is ’n prysoorlog aan die gang, met die klem op oorlog, en ’n wesenlike gevaar dat dit tot ’n bloedbad kan lei,” sê Abramjee.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, het Maandag gesê dat hierdie misdadigers hulle in die tydperk van die verbod so ingegrawe het dat dit jare sal neem om dié onwettige bedryf uit te roei.

“Dit behoort geen verrassing te wees nie, omdat die TJSA van dag een van die inperking af gewaarsku het ons stuur op ’n ramp af. Nou is dit ministers se verantwoordelikheid om die skade te herstel en hul plig te doen om belasting in te vorder en tot voordeel van Suid-Afrikaners aan te wend.”

Volgens die TJSA is daar nou ’n stortvloed onwettige sigarette in die mark waarop geen aksyns betaal word nie.

“Enige pakkie sigarette wat minder as R25 kos, is verdag. Die aksyns (R17,40) en BTW (R3,26) laat ’n marge van nie meer as R4,34 nie, wat deur die vervaardiger, groothandelaar en kleinhandelaar gedeel moet word. Dit is eenvoudig nie haalbaar nie.”

Volgens Abramjee moet wetstoepassers die sluikhandel stopsit en tabakfabrieke moet geoudit word.

“Ons wen die stryd teen ’n dodelike virus, maar ons oorlog teen hierdie dodelike misdadigers het skaars begin.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.