Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sjokolade ruk sak die meeste

As jy ’n soet tand het en veral van sjokolade hou, sal dit dalk beter vir jou geldsake wees as jy iets anders kry om die lus vir ’n soetigheid te bevredig.

Die gemiddelde prys van ’n blok sjokolade van 80 gram het die afgelope twee jaar met 39% gestyg, sê Statistieke Suid-Afrika (SSA).

In Mei 2014 sou jy ’n gemiddelde prys van R9,52 vir so ’n blok sjokolade betaal het. In Mei 2016 sou dieselfde sjokolade jou R13,27 uit die sak gejaag het.

Die prys van sjokolade het vinniger gestyg as dié van suiker, lekkers en nageregprodukte, waarvan die prys oor dieselfde tydperk met gemiddeld 21% gestyg het. Dit het ook vinniger toegeneem as vleis (+12%), vrugte (+16%), groente (+20%) en warm drinkgoed (+23%).

Die prys van sjokolade verskil ook van provinsie tot provinsie en as jy in Mpumalanga bly en ’n sjokoladeverslaafde is, dan hoes jy die meeste.

Mense van die Oos-Kaap is meer gelukkig en betaal die minste vir sjokolade landwyd.

SSA sê verbruikers moet onthou dat hierdie gemiddelde pryse is. Elke maand besoek werknemers van SSA kleinhandelaars landwyd om duisende verbruikersartikels, insluitende verskillende sjokolade, se pryse aan te teken.

Dit is deel van die proses om die inflasiekoers, of die indeks vir verbruikersprysinflasie (VPI), te bereken.

Die VPI word maandeliks deur SSA uitgereik en word bereken deur te kyk hoe ’n “verteenwoordigende mandjie” van verskillende goedere en dienste se pryse gestyg of gedaal het.

Die prys van sjokolade kan dalk nog meer styg.

Die prys van kakao het geklim tot ’n 39-jaar-hoogtepunt, berig Bloomberg.

Kakao is op koers vir ’n vyfde jaar van prysstygings in die langste lopie sedert ten minste 1989. Pryse styg nadat droë weer in Wes-Afrika oeste geknou het.  Verskeie ontleders voorspel tekorte in die produk.

Die kakaovoorraad relatief tot verbruik, die sogenaamde voorraad-tot-gebruik-verhouding, gaan volgens ramings vanjaar tot 34,3% val, die laagste in 31 jaar.

Meer oor:  Kospryse  |  Inflasie  |  Sjokolade  |  Vpi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.