Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Skadu van skeptisisme’ hang oor staatsrede

Mooi woorde – maar wanneer kom die aksie?

Dis die kruks van die reaksie wat Vrydagoggend instroom nadat ekonome en ander ontleders geslaap het oor die ware betekenis van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede.

07-02-2019 NETWERK24 Die 2019 Opening van die P
President Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. Foto: Jaco Marais

Nema Ramkhelawan-Bhana, Mpho Tsebe en Elena Ilkova, drie ekonome van RMB, sê in hul gesamentlike ontleding: “Hoewel positief, kom baie van sy voorgestelde veranderinge kort aan besonderhede of spesifieke skedules; dit gooi ’n skadu van skeptisisme daaroor of die wysigings wel in werking gestel gaan word.

“Baie hang van die verkiesingsuitslag af en of Ramaphosa die vereiste politieke mag sal hê om mense aan te stel wat verandering kan aandryf.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê “die werklike toets vir die staatsrede sal die suksesvolle inwerkingstelling van beoogde beleid en projekte wees”.

Hy verwelkom verwysings na die vermindering van beleidsonsekerheid en die verwydering van hindernisse vir beleggers. “Dit is noodsaaklike vereistes as Suid-Afrika ’n gekose beleggingsbestemming wil word.”

Die uitdaging bly egter dat beleid en projekte doeltreffend in werking gestel moet word. Die nodige kapasiteit moet in die staatsektor geskep word, met die hulp van die private sektor, waar nodig, sê Parsons.

Dit lyk dus waarskynlik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie, hoewel dit aan die herstel is, basies in ’n ‘hou-patroon’ sal bly vir die grootste deel van 2019...
Raymond Parsons

“Suid-Afrika sal sy ekonomiese spel dramaties moet verbeter om die groei- en werkskeppingsteikens van die staatsrede te behaal en om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid meer voldoende aan te pak.”

Parsons, wat elke kwartaal ’n indeks van beleidsonsekerheid opstel, wys daarop dat onsekerheid sal voortduur. Veral grondhervorming sal aanhou om onsekerheid te skep totdat daar groter duidelikheid is oor hoe onteiening sonder vergoeding gaan werk.

“Dit lyk dus waarskynlik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie, hoewel dit aan die herstel is, basies in ’n ‘hou-patroon’ sal bly vir die grootste deel van 2019, totdat sekere politieke en ekonomiese vraagstukke opgelos word of neigings duideliker word.”

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, beaam dat die toespraak goed gelewer is en baie beloftes bevat. Hy is egter ook skepties of die regering in staat is om werk te maak van die beloftes.

“Optrede moet gesien word. ’n Skoonmaakproses is ongelukkig nie gelykstaande met ekonomiese groei nie,” sê hy met verwysing na Ramaphosa se verbintenis tot die vervolging van mense wat by staatskaping betrek is.

“Die staatsrede wys dat daar ’n hele reeks idees is wat groei kan ontsluit, soos visums en breëband-spektrum, maar inwerkingstelling was tot dusver pynlik afwesig...”

Montalto sê daar is ’n grondliggende onvermoë op laer regeringsvlakke om die opdragte wat die sentrale regering uitvaardig, deur te voer.

Montalto is bekommerd dat interne ANC-struwelinge ná die verkiesing op 8 Mei sal opvlam, wat die regering verder kan lamlê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.