Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Skep só werk vir ongeskoolde werkers’

Sedert die ontwikkelingsprogram vir spesiale ekonomiese sones (SEZ’s) in 2014 in Suid-Afrika begin het, het dit private beleggings ter waarde van R18,6 miljard van 136 maatskappye gelok.

Uitbreidings van sowat R10 miljard aan Ford se Silverton-fabriek, waar die vervaardiging van die nuwe Ranger-bakkie vir die plaaslike en uitvoermark in 2022 sal begin. Die totale belegging beloop meer as R15 miljard.

Nog 99 maatskappye het gesê hulle beplan beleggings van R48 miljard, het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag tydens ’n besoek aan die Tshwane-SEZ vir voertuigvervaardiging (TASEZ) gesê.

Ramaphosa se besoek het saamgeval met die Ford Motor Company se aankondiging dat hy sowat R15,8 miljard by sy Silverton-fabriek in Pretoria gaan belê om gereed te maak vir die bou van die nuwe Ford Ranger-bakkie wat in 2022 sal begin.

Dianne Craig, president van Ford se afdeling internasionale markte, het gesê die Ranger is een van Ford se suksesvolste en gewildste voertuie wêreldwyd. Die belegging is Ford se grootste tot nog toe in Suid-Afrika en een van die grootste in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse voertuigvervaardigingsbedryf.

Meer as R10 miljard is begroot vir tegnologie, opgraderings en nuwe geriewe by die Silverton-fabriek, en R5,5 miljard vir die opgradering van instrumente by Ford Suid-Afrika se grootste onderdeleverskaffers wat vanuit die TASEZ langsaan sake doen.

Die TASEZ is ’n gesamentlike ontwikkeling ter waarde van sowat R3,5 miljard deur die regering en Ford.

KYK: Só enorm is Ford se nuwe belegging in SA

Die Tshwane-metro en die Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling gee onderskeidelik R288 miljoen en R200 miljoen om grootmaatinfrastruktuur te voorsien. Ford het gehelp om 12 onderdelevervaardigers na die TASEZ te lok, wat beleggings van sowat R4,33 miljard verteenwoordig.

Ramaphosa het gesê nywerheids­parke en SEZ’s help om die land se vervaardigingsvermoë te herstel om ekonomiese hervorming, herindustrialisering en werkskepping deur infra­struktuurbesteding aan te help soos vervat in diePlan vir Ekonomiese Heropbou en Herstel (ERRP).

SEZ’s bied verskeie aansporings soos laer belastingkoerse vir firmas, verligting vir BTW- en doeane, en belastingaansporings vir indiensneming (ETI).

Dít volg kort nadat Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Centre for Development and Enterprise (CDE), verlede week by ’n geleentheid van die Vryemarkstigting, die CDE se pleidooi herhaal het dat die regering een van die SEZ’s gebruik om ’n nuwe manier van doen te toets wat hulle meen die land se werkloosheidskrisis kan oplos.

Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Centre of Development and Enterprise. Foto: William Horne

Bernstein het gesê ’n uitvoer-verwerkingsone (EPZ) moet vervaardigers lok wat op uitvoerprodukte soos klere, skoene en speelgoed fokus. Weens ál strenger arbeidsregulering in China is daar arbeidsintensiewe vervaardigers wat wil hervestig op soek na goedkoper arbeid, wat hul voetspoor in Afrika wil vestig of hul verskaffingsketting wil diversifiseer.

Sy het gesê Suid-Afrika het ’n grootliks ongeskoolde, jong arbeidsmag met min of geen werkondervinding nie wat in sulke arbeidsintensiewe bedrywe sal kan werk. Van die aansporings en kwytskeldings moet wees dat maatskappye in die EPZ die vaardighede van hul keuse kan lok, maar self mag onderhandel oor lone wat gepas is vir die markte waarin hulle meeding, sonder om onderhewig te wees aan die nasionale minimum loon.

Die CDE sê al lank die nasionale minimum loon kan sekere plaaslike sektore se mededingendheid kniehalter. Die regering self betaal minder as die minimum loon onder die uitgebreide program vir openbare werke (EPWP).

Bernstein het vroeër gesê hoewel baie meen lae lone is slawerny, meen die CDE lae lone is beter as geen lone nie. Dis ’n individu se keuse of hy teen ’n laer loon wil werk.

Meer oor:  Ford  |  Cde  |  Armoede  |  Werkskepping  |  Ongelykheid  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.