Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid: SA stel verskriklike rekord op

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het die jaar op ’n baie bitter noot begin met werkloosheid wat tot 27,6% opgeskiet het. Dit was in die vierde kwartaal van 2018 27,1%.

Uitgebreide werkloosheid het tot die hoogste vlak tot nog toe, 38%, opgeskiet. Dit was voorheen 37%, wat ook reeds ’n rekord was.  

Werkloosheid is een van Suid-Afrika se grootste uitdagings. Dit beloop nou 27,6%. Foto: Argief

Die syfers kom uit Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingsopname (QLFS) vir die eerste kwartaal van 2019, wat Dinsdagoggend uitgereik is. Kyk na grafika hieronder.

Die aantal mense met werk was in die eerste kwartaal minder as ’n jaar gelede. Dit het met 86 000 mense, oftewel 0,5%, tot minder as 16,3 miljoen mense gedaal.

Daarteenoor het die getal werkloses met 3,7% tot 6,3 miljoen mense gestyg en die getal ontmoedigde werksoekers met 7,5% tot byna 3 miljoen.

Dit beteken byna 9,2 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom (15-64 jaar) is nie op skool nie, studeer nie verder nie en is nie vrywilliglik sonder werk (soos tuisteskeppers of mense wat vroeg afgetree het) nie.

Die aantal werkloses het byna dubbeld so vinnig gestyg as die groei van die getal mense van werkende ouderdom, wat met 1,6% tot nagenoeg 38,3 miljoen mense gestyg het.

Die syfers bevestig bes moontlik ekonome se vermoede dat ekonomiese groei in die eerste kwartaal negatief was, maar groeisyfers word eers in Junie uitgereik.

In watter bedrywe word werk geskep of vernietig?

Vier uit die tien bedrywe wat SSA meet, het minder werknemers as ’n jaar gelede.

  • Die bedryf wat in getalle die meeste werknemers verloor het, is gemeenskapsdienste, wat die staatsdiens en verskeie staatsinstellings insluit. Dié bedryf het byna 211 000 minder oftewel 6,4% mense minder in diens as ’n jaar gelede.
  • Konstruksie het persentasiegewys die grootste slagting, van 6,4%, beleef. Dit verteenwoordig 92 000 minder mense wat in die sektor werk as ’n jaar gelede.
  • Vervaardiging (-3,7% of -69 000 mense) en landbou (-1,1% of -9 000 mense) is die ander bedrywe met minder werknemers.
  • Vervoer en logistiek het die grootste persentasie nuwe werknemers, ’n styging van 6,7% oftewel 64 000 mense meer as ’n jaar gelede.
  • Finansiële en sakedienste het die grootste getal mense aangestel, 114 000 oftewel 4,7%.
  • Dalk verrassend gegewe die druk op verbruikers is dat 26 000 oftewel 2% meer mense as ’n jaar gelede in private huishoudings aangestel is, dus onder meer as huishulpe, tuinwerkers en kinderoppassers.
  • Handel het 2,1% oftewel 69 000 meer werknemers.
werkloosheid


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.