Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Skok oor kospryse op pad: Hier is die redes

Die internasionale graan- en vleismarkte is in ’n warboel omdat onvoorsiene gebeure markte ernstig omkrap en pryse laat styg – te midde van kleiner Suid-Afrikaanse graanoeste dié seisoen, wat invoer van sowat 2,2 miljoen ton graan gaan noodsaak.

Prof. Johan Willemse

Luidens mediaberigte is daar kommer oor stygende voedselinflasie in die land. Daar is sterk aanduidings dat kospryse, en veral die prys van witmieliemeel, ’n stapelvoedsel, en so ook veevoerpryse, skerp gaan styg.

Dit sal ’n prysskok deur die hele voedselketting stuur.

Intussen het Statistieke Suid-Afrika gesê die landbousektor se bydrae tot ekonomiese groei het met 13,2% in die eerste kwartaal van 2019 gedaal.

Voedselprodusente en voedselverwerkers in Suid-Afrika is vasgevang in ’n kosteknyptang. Ongunstige landbougrondstofmarkte en stygende pryse gaan deurwerk na laer winste en aandeelpryse vir hierdie maatskappye. Die kosteknyptang gaan ’n uitkringende uitwerking op kospryse hê.

Ongunstige graanpryse

Plaaslike graanpryse het die afgelope weke aansienlik gestyg, gedryf deur swak produksietoestande in die VSA en die feit dat ons vanjaar ’n groot netto invoerder van graan is.

Die meegaande grafiek toon ter illustrasie die styging in geelmieliepryse op Safex die afgelope weke (meer as 20%). Met die skrywe hiervan het dit steeds bly styg. Witmielies verhandel teen ’n premie op die prys van geelmielies.

  

mielies

  

Die meegaande tabel gee my raming van die graan en oliesade (en neweprodukte) wat Suid-Afrika oor die volgende jaar sal moet invoer. Dit word geraam op sowat 2,2 miljoen ton, teenoor die vorige jaar se 1,5 miljoen ton.

My konserwatiewe raming is dat dit die land sowat R14 miljard aan buitelandse valuta gaan kos. Afgesien van die impak op voedselinflasie, kan dié invoer verdere druk plaas op die land se buitelandse-valuta-reserwes en die ruilwaarde van die rand.

  

mielieprys, kospryse

   

Die verloop van gebeure die afgelope jaar in internasionale graan- en vleismarkte kan in die volgende volgorde beskryf word:

Trump se handelsoorlog

China het die afgelope dekade ontwikkel in die grootste sojaboon-invoerder ter wêreld, afgesien van ander voergraan.

Die drywer hiervan is sterk ekonomiese groei en die verandering in die Chinese dieet weg van ’n styselgrondslag na vleis, eiers, vrugte, neute en ander voedselprodukte met ’n hoër waarde. China het verlede jaar duskant die 100 miljoen ton sojabone ingevoer (hoofsaaklik vir veevoer) en hiervan het sowat 40 miljoen ton van die VSA gekom.

As mielies duurder word, word vleis ook duurder omdat mielies in veevoer gebruik word. Foto: iStock

In 2018 het pres. Donald Trump van die VSA swaar invoertariewe gehef op sekere Chinese produkte, waarop China gereageer het met onder meer die heffing van ’n 25%-invoertarief op sojabone uit die VSA.

Die gevolg hiervan was dat sojaboonpryse op die Chicago-graanbeurs met sowat 25% gedaal het ten einde mededingend te kan bly.

Dit het ook sojaboon- en voergraanvoorraad in die VSA laat opbou, wat pryse verder laer gedruk het.

Suid-Afrika se graan- en oliesaadpryse word regstreeks afgelei van die internasionale pryse op die Chicago-graanbeurs. In die nadraai van dié gebeure het Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadpryse ook heelwat laer geneig.

Dit het plaasgevind te midde van ’n baie swak 2018-’19-graanproduksiejaar in Suid-Afrika waar droogte en hittegolwe die oes met sowat 2 miljoen ton laat daal het. Sien meegaande tabel vir ramings.

Varkpes in Asië

Einde 2018 het die hoogs aansteeklike siekte varkpes uitgebreek en van China na die res van Asië versprei. China het na raming sowat 600 miljoen varke (sy belangrikste bron van vleis). In die eerste kwartaal van 2019 is daar reeds sowat 200 miljoen van kant gemaak. Dit het die invoervraag na voergraan (en sojabone) skerp laat daal en graanpryse op die Chicago-graanbeurs – en natuurlik ook in Suid-Afrika – nog laer gedruk.

Die vraag na ingevoerde vleis in China het begin styg, wat internasionale vleispryse opwaarts laat neig.

Suid-Afrika onderhandel nog om toegang te kry tot die Chinese vleismark nadat ons uitvoermark geknou is deur die uitbreek van bek-en-klouseer vroeg in 2019.

Hierdie gebeure het graan- en voerpryse onder aansienlike afwaartse druk geplaas.

Maar die situasie het nou met ’n groot spoed omgedraai en maak amok.

Vloede in die VSA-graangebied

Die VSA is die enkele grootste graanprodusent in die wêreld en die produksieseisoen begin in Maart-April.

Afgesien van swaar sneeu-neerslae die afgelope winter, het ongekende swaar en aanhoudende reën en vloede in April, Mei en Junie voorgekom in die middeweste, ’n graanproduksiegebied. Dit het daartoe gelei dat heelwat hektaar mielies nie geplant kon word nie. Die VSA raam dat sy mielieoes sowat 50 miljoen ton kleiner gaan wees as verlede jaar se oes van sowat 366 miljoen ton en dat voorraadvlakke heelwat gaan daal.

Pryse in die VSA het die afgelope maand met sowat 25% gestyg.

Suid-Afrikaanse mieliepryse het die afgelope jaar met sowat 32% gestyg; met meer as 20% oor die afgelope paar weke. Die swakker rand en swakker oes lewer ’n bydrae hiertoe.

Dié markgebeure werk deur na die binnelandse voedselmark en dit plaas druk op voedselverwerkers soos Tiger Brands, Pioneer Foods, Quantum Foods, Premier, Astral en RCL.

Daar bou heelwat druk op in die voedselaanbodketting as gevolg van die groot markonstabiliteit, wat deurwerk tot stygende pryse.

Intussen volhard die ANC in sy pogings om die kommersiële landbousektor en voedselketting te ondermyn, wat net tot verdere voedselvoorsiening- en prysprobleme aanleiding gee.

Dit kan regstreeks herlei word tot die groot persentasie Suid-Afrikaners wat reeds honger ly – sowat een uit drie!

Suid-Afrika behoort ’n doelbewuste staatsondersteunde beleid te volg wat surplusvoedselproduksie moontlik maak.

  • Prof. Willemse van Agrimark Consultants is ’n vorige wenner van die Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Johan Willemse  |  Vleispryse  |  Graan  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Mielies  |  Mielie-Oes  |  Kosprysinflasie  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.